Nóg ‘n rare bloue vir Cullinan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 May 2013 15:04
Untitled Document

‘n Blou diamant van 25.5-karaat is in April by Petra se Cullinanmyn gekry. Blou diamante is van die raarste en waardevolste diamante en die myn op Cullinan is die wêreld se belangrikste bron van dié bloues.

Kenners sê dat dié diamant meer as $10–miljoen werd kan wees en die ontdekking daarvan het Petra se aandelepryse laat styg.


Die 25.5-karaat blou diamant wat by Petra Cullinanmyn gevind is
Foto: Petra Diamonds

Sedert Petra in 2008 die myn by De Beers oorgeneem het, is die myn weer winsgewend. ‘n Aantal groot blou diamante is gekry, soos die 26.6-karaat ongeslypte steen, wat geslyp is tot ‘n sewe karaat foutlose diamant en in 2009 vir $9.49 miljoen by ‘n Sotheby’s veiling verkoop is.

In 2009 is ‘n 507-karaat ongeslypte diamant gevind wat in Februarie 2010 vir $35.3 miljoen verkoop is – die hoogste prys wat ‘n ongeslypte diamant nog behaal het.

In November 2012 is ‘n foutlose diepblou diamant van 10.48-karaat op ‘n veiling vir $10.8-miljoen verkoop, wat ‘n wêreldrekordprys vir ‘n blou diamant per karaat was.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger