Nuwe nagmerries op die pad na Nooitgedacht PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 May 2013 13:03
Untitled Document

Padwerkers maak dat die Nooitgedacht-pad nou gevaarliker as ooit tevore is.

Die mense van Rayton en omgewing is raadop met die stop/ry bemanners se onverskillige optrede op dié pad, wat by Laerskool Rayton begin en aansluit by Zambeziweg-verlenging tussen Pretoria en Cullinan.

Padgebruikers sê dat die mense by die stop/ry borde glad nie weet of daar voertuie van voor af kom nie. Hulle raai glo net. Mense wat die pad op ‘n daaglikse basis gebruik, sê dat hulle tot 15 minute lank by dié versperrings gewag het en toe hulle aangesê is om te ry, het verkeer van voor af gekom.
Klaarblyklik vloek en skree sekere bemanners van die stop/ry versperrings op motoriste.


Die stop/ry versperrings op die Nooitgedacht-pad. Dié groep werkers was besig om te sosialiseer en met die rug gekeer was hulle vir lank salig onbewus van ons motor wat staan en wag het. Toe een opkyk en die wagtende motor sien, het hy dadelik die versperring weggeskuif en die stopteken omgetol na ‘Go’. ‘n Paar honderd meter verder moes ons vinnig uit die pad van aankomende verkeer beweeg om ‘n sekere ongeluk te voorkom.

Daar was sprake dat die wagte met tweerigtingradios toegerus sou word, maar met saktyd het dit nog nie gebeur nie.

Die Bronberger berig die afgelope paar jaar al oor toestande op dié pad waar voertuie gereeld ernstige skade opdoen en tientalle voertuie, van motors tot bakkies en selfs ‘n vragmotor, al gerol het.
Quentin Venter van Rayton is op 14 Augustus 2011 op dié pad dood toe hy teen ‘n hoop sand, wat padwerkers in die pad gelos het, vasgery het. Volgens inwoners het die hope sand op so ‘n plek gelê dat ‘n mens dit eers kon sien as jy bykans bo-op dit is. Daar was geen vooraf waarskuwingstekens wat daarop dui dat hope sand in die pad lê nie.

Daar word jare reeds aan dié pad gewerk en menige vergaderings tussen raadop inwoners, padherstelwerkers en verteenwoordigers van Gautrans is al gehou.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger