Klein jakkalsies PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 28 May 2013 13:01
Untitled Document

Ernstige ongeruimdhede, korrupsie, diefstal, roof, gruwelike geweld, moord en doodslag en besoekende seuntjiesangers met oorbelle en rooigeverfde lippies word daagliks tot barstens toe in ons kele afgedwing.

Die ontstellende waarheid is dat ‘n mens met die tyd effe afgestomp raak teen dié skokkende gebeure, waaraan jy soms voel, niks gedoen kan word nie. Maar dis die klein jakkalsies in ons midde wat die bloed borrelend aan die kook kry; jakkalsies wat die vredeswingerd en die gemoedelike samesyn in ‘n gemeenskap wreedaardig kan verniel.

Die vreemdste ding van dié jakkalsies is dat hulle vastrapplek kry en lekker baljaar as eenvoudige ‘bedagsaamheid’ in ‘n gemeenskap ontbreek. Met net ‘n bietjie bedagsaamheid en omgee vir jou medemens, word dié klein pestilensies maklik hokgeslaan.

Dit is nie bedagsaam teenoor moeder aarde, die atmosfeer, die osoonlaag of jou bure om dié tyd van die jaar die droë blare en gras in jou erf bymekaar te hark en dit dan onder die dekmantel van die donker skelm aan die brand te steek nie. Jou onbedagsame aksie is onwettig, ontneem die grond van waardevolle voedingstof, besoedel die lug, vergroot die gat in die osoonlaag, dra by tot aardverwarming en hou jou proesende, stikkende, vloekende buurman/vrou snags wakker.

Dit is nie oulik van jou om met jou groot klip-en-kluit-opskoppende 4X4 die ou voor jou op die grondpaadjie verby te steek nie. Jy gooi hom/haar en die stomme hoewebewoner langs die pad toe onder die winterstof en verkondig jou selfsugtige onbedagsaamheid aan die wêreld.

Die onaardse lawaai wat jy dreunend en doef-doeffend vanaf jou huis of jou motor oor die vlaktes heen laat donder, mag dalk by jou deurgaan as musiek en selfs vir jou mooi wees, maar as jy die bedagsaamheid van ‘n muskiet gehad het, sou jy besef het dat smaak verskil en dat nie almal van geraas hou nie.

Wil jy nie asseblief bedagsaam wees en jou seun vra om die klankdemper terug te sit in die uitlaatpyp van die bromfiets wat jy verlede Kersfees vir hom gekoop het nie? En kom tog jou ouerplig na en wys die klein jors daarop dat die spoed waarteen hy elke dag in die dorpstraat afjaag, mens en dier en jors se eie lewe in ernstige gevaar stel – om nie eers te praat van die broodnodige middagslapies wat hy verongeluk nie.

Moenie jou soos ‘n klein jakkalsie gedra nie, man. Wees asseblief net ‘n bietjie bedagsaam.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online