Nuwe Bronberg Hospitaal vir Zwavelpoort PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 April 2013 14:59
Untitled Document

Zwavelpoort kry ‘n vyf-verdieping hospitaal. Bouwerk aan die 187-bed Bronberg Hospitaal gaan, ná ‘n sewe-jaar-lange proses, teen die middel van die jaar begin en die beoogde openingsdatum is die einde van 2014.

Dié hospitaal, wat onafhanklik van die drie groot hospitaalgroepe bedryf sal word, word aan die voet van die Bronberg op plot 205, suid van Lynnwoodweg-verlenging net voor Riverside Castle, gebou.

Benewens die moderne hospitaal sluit die beoogde ontwikkeling op die hoewe van 21 ha ook die volgende in: mediese fasiliteite, ‘n versorgingseenheid vir bejaardes, aftree-oord, hoë-digtheid behuising/verblyf en ‘n hotel en sakesentrum. Weens ekologiese sensitiwiteit sal 3,7 ha van die plot nie ontwikkel word nie.


‘n Kunstenaarsvoorstelling van die 187-bed Bronberg Hospitaal

Teaters
Die hospitaal gaan bestaan uit agt operasieteaters, ’n harteenheid, endoskoop teater, ‘n kategorie twee noodsorg-eenheid, twee eerste vlak teaters en drie kraamteaters.

Die volgende spesialiteitsvelde en dienste sal in die hospitaal gelewer word: pediatrie, obstetrie en ginekologie, gastro-enterologie, algemene medisyne, algemene sjirurgie, ortopediese sjirurgie, oor, neus en keel sjirurgie, kardiologie sjirurgie, kardio-torakale sjirurgie en neurologie.

Uit die 187 beddens is 60 vir sjirurgie, 40 algemene mediese beddens, 20 vir obstetrie, 15 vir ginekologie en 16 vir pediatrie. Daar sal 12 beddens wees vir kritieke sorg van volwassenes, vier vir kinders en ses vir babas wat kritieke sorg benodig. Tien beddens vir hoë sorg van volwassenes en vier vir kinders sal beskikbaar wees.

Die Bronberg Hospitaal gaan 329 verpleegpersoneellede in diens hê; 189 van hulle sal geregistreerde verpleegsters wees, 33 ingeskrewe verpleegsters en 107 ingeskrewe verpleegster-assistente. Ongeveer 200 personeellede sal by administrasie en dienstelewering betrokke wees.


‘n Kunstenaarsvoorstelling van die hospitaal se visuele impak op die Bronberg-omgewing

Geskiedenis
Dr Peter van der Spuy, ’n bekende oogarts van Pretoria, het gedeelte 205 van die plaas Zwavelpoort, 373 JR, jare gelede by sy pa, dr Bokkie van der Spuy, ‘n toraks sjirurg van Pretoria, gekoop.
In 2006 het ’n jarelange vriend, Johann Coetzer, aan Peter voorgestel dat die eiendom vir dorpstigting aangewend moes word. Peter en Johann, bekend as Joe, het daarna ’n beslote korporasie gestig en Van Zyl en Benade Stadsbeplanners genader om die voorgeskrewe prosesse vir ’n dorpstigtingaansoek op die terrein te hanteer.

Die beoogde dorpstigting is vir 30 dae in die pers geadverteer, sodat enige persoon wat beswaar wou aanteken dit kon doen. As deel van die proses om aan die omgewingswetgewing te voldoen is Golder en Assosiate aangestel om die omgewingsimpakstudies te onderneem.  Verskeie openbare vergaderings is gehou en die konsep-aansoek het vir 30 dae by die Paul Jungnickelhuis ter insae gelê.

Die aansoek om ’n lisensie te verkry vir die oprigting van ’n nuwe hospitaal het skriftelike ondersteuning van ‘n aantal rolspelers in die Bronberg-gemeenskap, soos Dr Wilfried Herzberg van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging, wyksraadslid André van der Walt, en Thea du Bruyn van die Kungwini Welsyn Organisasie, ontvang.


Die 21 ha plot 205, Zwavelpoort waar die hospitaal aan die voet van die Bronberg gebou gaan word

Munisipaal
Intussen het PVA Raadgewende Ingenieurs en Riaan van Zyl Elektriese Ingenieurs suksesvolle onderhandelings, eers met Kungwini Munisipaliteit en na inlywing, met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gevoer om water-, riool-, stormwater- en elektrisiteit-aansluitings vir die beoogde dorpstigting te beding.

Verkeersingenieur Frans van Heerden van Trafftrans Verkeersingenieurs was suksesvol om in beginsel goedkeuring vir ’n toegang direk vanaf Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) te verkry.

Die Kungwini Munisipaliteit het op 24 November 2010 die aansoek om dorpstigting goedgekeur met die sonerings vir ‘n hospitaal, mediese fasiliteite, versorgingseenheid vir bejaardes, aftree-oord, hoë-digtheid behuising/verblyf, ‘n hotel en sakesentrum. Die goedkeurings is later gewysig om sewe aparte dorpe, een vir elke projek, te skep.

Die Gautengse Provinsiale Departement van Omgewingsake het op 21 September 2011 goedkeuring vir al die beoogde ontwikkelings, asook vir die pypleidings na en van die terrein verleen.


‘n Voorstelling van die ontwikkeling wat die volgende insluit: ‘n hospitaal, mediese fasiliteite, versorgingseenheid vir bejaardes, aftree-oord, hoë-digtheid behuising/verblyf, ‘n hotel en sakesentrum

Lisensie
Dit het bykans twee jaar geneem om ’n hospitaallisensie te verkry. As deel van die aansoek moes Demacon omvattende demografiese en wesentlikheidstudies onderneem om die lewensvatbaarheid van die beoogde hospitaal, sakesentrum en hotel te bepaal.

Die aansoek vir die hospitaallisensie is deur konsultante, Michele Ferguson van ICU Consulting en Beatrice Mahonga, gemotiveer. Met die hulp van die bevolkingsgroei-statistieke wat Demacon voorsien het, is die aansoek van meer as honderd bladsye op 14 September 2010 aan die departement voorgelê.

Die Gautengse Departement van Gesondheid het op 17 Mei 2012 ’n lisensie om ’n 187-bed, private akute hospitaal op te rig, aan Zwavel Villa Edms Bpk uitgereik.

Marco Macagnano van PKA Argitekte het die hospitaal volgens beste wêreld-standaarde ontwerp en die konsep-bouplanne is op 10 November 2012 by die Gautengse Departement van Gesondheid ingedien. Aanvang van die projek is vir die middel van 2013 geskeduleer.

 

© 2019 Die/The Bronberger