Soektog na spoeldiamante raak wye gebied PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 April 2013 14:57
Untitled Document

‘n Voorgestelde soektog na spoeldiamante vanaf die N4-snelweg tot by De Tweedespruit het inwoners hewig ontstoke. Alle laagliggende plotte en plase met riviere, strome, ‘n vleiland of droëlope kan in die prospekteerproses geraak word.

In Julie 2012 het ‘n maatskappy genaamd MOK Projects and Distribution cc ‘n aansoek  vir ‘n prospekteerlisensie vir alluviale (spoel) diamante by die Departement vir Minerale en Energie (DME) ingedien.


Reline en Dawie Badenhorst

Die plase wat geraak word is: Rietfontein; Rooikoppies; Elandshoek; Doornkraal; De Tweedespruit; Zachsedam; Kafferskraal; Hartbeestfontein; Carlsruhe; en Doornkloof. Omgewingstudies is op ‘n klein gedeelte rondom Cullinan gedoen, maar Rayton se omliggende plase is uitgesluit.

Die konsultasiemaatskappy wat die openbare deelnameproses moet koördineer is Jomela Consulting wat optree namens die aansoeker, Jicama 257 (Pty) Ltd. Volgens omgekrapte inwoners het Jomela Consulting en die aansoeker nie die riglyne van die openbare deelnameproses gevolg nie.


‘n Waterloop in die De Tweedespruit bewaringsgebied buite Cullinan

Volgens Reline Badenhorst van AfriForum se Rayton/Cullinan-tak is inwoners nie van die proses in kennis gestel nie, terwyl die omgewingstudie-proses noem dat daar geen openbare kommentaar was nie.

Amper die hele Rayton en Cullinan-distrik word deur die aansoek om ‘n prospekteerlisensie geraak, maar slegs een advertensie is in die media geplaas en Jomela het bewys van net een kennisgewing, by Cullinan-myn, ingedien.


‘n Spoeldiamantmyn in Namibië

So ver inwoners kon vasstel het niemand dié kennisgewing onder oë gehad nie. Geen inwoner is persoonlik ingelig oor die aansoek nie. Geen geregistreerde briewe is na geraakte partye gestuur nie. Daar was geen kennisgewings by die ingang na die eiendomme wat geraak word nie.

Ná die vergadering wat Jomela op 15 Maart by die Cullinan Sportsentrum gehou het, is inwoners éérs ontstoke. Volgens Reline is plek reggemaak vir slegs 20 mense, maar 85 het opgedaag. Die byeenkoms moes inderhaas skuif, wat beteken het dat die mikrofoonsisteem nie meer voldoende was nie.


Die Jwanueng spoeldiamantmyn in Botswana

Reline sê dat geen kommentaar deur Jomela Consulting aangeteken is in die vergadering nie, maar dat daar foto’s geneem is. Inwoners vrees dat Jomela die aansoek en omgewingstudie met geen negatiewe kommentaar gaan deurstuur en die foto’s as bewys van ‘n openbare deelname-vergadering gaan gebruik.

Reline het ná die vergadering names AfriForum se Rayton/Cullinan-tak ‘n brief aan DME en Jomela se Cecil Kosa gestuur om te sê dat die byeenkoms nie as ‘n openbare deelname-vergadering aanvaar word nie, omdat DME se riglyne oor die aansoek van ‘n prospekteerlisensie nie gevolg is nie.

Vir meer inligting kontak Reline Badenhorst van AfriForum se Rayton/Cullinan-tak by 082-381-8336 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Só word spoeldiamante in Wes-Afrika ontgin

 

© 2019 Die/The Bronberger