Cullinan se historiese hospitaal sluit PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 April 2013 14:56
Untitled Document

Die Cullinan Private Hospitaal het sy deure op 30 Maart gesluit.

Volgens die hospitaal se bemarkingsbestuurder, Portia Moshokwa, is alle toerusting op 1 April uit die hospitaal verwyder. Sy sê sommige van die personeel het elders werk gekry, maar dat niemand weet wat nou met die gebou gaan gebeur nie. “Ons hoop maar daar is ‘n nuwe koper,” sê sy.


Fanus van Huyssteen, hoof uitvoerende beampte van die Clinix Gesondheidsgroep
Foto: Clinix

Die hospitaal se sluiting gebeur terwyl nuwe werkgeleentheid by die myn en ander ondernemings duisende nuwe intrekkers na die gebied lok.

“Ons is jammer dat ons nie in staat was om met ‘n lewensvatbare plan vorendag te kon kom om die hospitaal van sluiting te red nie,” sê Fanus van Huyssteen, direkteur van Cullinan Gesondheidsdienste en hoof uitvoerende beampte van die Clinix Gesondheidsgroep.


Thomas en Annie Cullinan en gesin. Annie het die hospitaal se hoeksteen in 1907 gelê
Foto: Cullinan Diamonds

“Die besluit om die Cullinan Private Hospitaal te sluit is gemaak nadat Cullinan Gesondheidsdienste se raad van bestuur elke moontlike alternatief uitgeput het,” sê Fanus.


In die Tweede Wêreldoorlog het die weermag die hospitaal oorgeneem
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

Die Clinix-groep het dié 35-bed hospitaal, voorheen bekend as die Premiermyn Hospitaal, in Oktober 2010 oorgeneem. Volgens dié groep se raad van direkteure en aandeelhouers is die sluitingsbesluit geneem omdat die verdere kapitale belegging wat nodig is om die ou gebou en verwante infrastruktuur op te gradeer, nie die volhoubaarheid van die hospitaal sou verseker nie.


Die 1907 Cullinan-hospitaal soos hy vandag lyk

“Ons is intens bewus van die impak wat die hospitaal se sluiting op die gemeenskap, die dokters wat die hospitaal ondersteun, die plaaslike verskaffers, diens-subkontrakteurs op die perseel, en die 20 voltydse werkers wat deur die maatskappy aangestel is, sal hê,” sê Fanus.


Die SA Mediese Korps monument op die hospitaal-perseel
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

“Ons het seker gemaak dat daar geen onderbrekings in die sluitingsproses was nie en ons nommer een prioriteit in dié tyd was die veiligheid en gesondheid van die pasiënte,” het hy gesê.

Die Clinix Gesondheidsgroep is 20 jaar oud en het sewe ander hospitale in Soweto, Mafikeng, Boksburg, Vereeniging, Johannesburg en Phalaborwa.


Die hospitaal in 1908
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

Die Cullinan Hospitaal is in 1907 deur die Premiermyn gebou en die hoeksteen is deur Annie Cullinan gelê.

In die Tweede Wêreldoorlog is die hospitaal deur die weermag oorgeneem en daar is ‘n SA Mediese Korps-monument op die perseel.

 

© 2019 Die/The Bronberger