Dit kook bokant die spoor PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 29 April 2013 12:51
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons het gehoor dinge begin behoorlik kook by die geskiedkundige ou sink stasiegeboue bokant die spoor op Cullinan, en ons besluit een mooi Sondag in April om te loop loer.

Dit is ‘n lekker warm herfsdag toe ons in die koeligheid van die netjiese, nuutgeboude dek van Heart of Coffee by ‘n tafeltjie plaasneem. Die dek is neffens die spoor, tussen kunstenaar, Johan du Plessis, se beeldetuin en stasiemeestershuisies en die bopunt van die string historiese en eerlike sinkgeboue staangemaak.


Sjokoladekoek wat ‘n ligte kinderpartytjie kan besig hou en suurlemoenkaaskoek

Sommer met die sitslag al voel jy jou omring met ‘n kunstigheid en met die vreedsaamheid van ‘n vergane ouwêreldse lewenswyse.

Die eienaar, Kat Behrens, kom met die trappies op om ons bestelling te neem. Die kuierdek se te-ete en te-drinke word uit Kat se geskenkwinkel, net langsaan, aangebring. Dis ‘n vriendelike Kat dié een. Sy rits ‘n aantal keuses van soetighede vir saam-met-die-koffie af. Die gebak is die handewerk van kostowenaar, Thinus de Wet van Rayton se PhatBoyz.


Johan du Plessis se beeldetuin

Mense het al gesê sy moet laat blyk dat sy self die smulgebak maak, maar sy is van die aard dat sy bloedrooi bloos, selfs as sy net oorweeg om ‘n wit leuntjie te vertel, sê Kat.

Kat sê sy bedien ook elke eerste en laaste naweek van die maand ligte etes en al moet sy dit nou self sê, sy is al die ‘pasta queen’ van Cullinan genoem.


‘n Netjiese buiteplek met koffie uit die boonste gestoeltes

Ek bestel ‘n varsgebakte karamel-sjokoladekoek en Metgesel besluit om Thinus se suurlemoen-kaaskoek te beproef. Ander gunstelinge is glo die ‘peperment crisp tert’, en die malvalekker-en-pynappel-kaaskoek. Die koffie is volgens Metgesel uit die boonste gestoeltes en Metgesel kan deurgaan as ‘n koffiekenner.

Die gebak wat Kat vir my aanbring is genoeg om ‘n ligte kinderpartytjie besig te hou. Ek geniet en verorber elke krummeltjie van die koek met sy karamel-en-neut bolaag. En ek proe boonop aan Metgesel se kaaskoek (met permissie gesê) en ons is dit eens – dis heerlik. Die Heart of Coffee is net op Saterdae, Sondae en vakansiedae oop.


Voor die skoenestoor

Tevrede en ontspanne stap ons eers deur Johan du Plessis se beeldetuin en toe by Kat se winkelplekkie in om die keurige geskenke en tuisgebottelde en gebakte ware te bespied. Vandaar al teen die blikmuur af is oudhede en aardighede uitgestal tot om die hoek waar Kat se wederhelfte, Terry, sy winkel, Simple Edge – antiques & collectibles, bedryf.

In die opening tussen die sinkhuiswinkels en die ou stasiestore, is Terry se kwekerytjie. Stap dan verder en jy kry The Shoe Shed. Skoene van elke soort en kleur is in die ou stoor in lang rakke uitgestal. Ek dink so by myselwers dat sekere skoenverslaafdes wat ek ken, maklik vir ‘n hele dag hier sal kan verdwaal.


Nog snuffelplek by Cullinan Junction

Verby die ou roomyskarretjie, van die soort uit jou kinderdae, stap jy tot by die hoofafsetgebied van Terry se Simple Edge. Hier sien jy iets van alles en dan nog ‘n bietjie meer ook. Ou plate van vergange, gespeel op ‘n ou platespeler dien as agtergrondmusiek vir die snuffelaar en winskoopjagter. En langsaan is nog ‘n snuisterywinkel. Die groepnaam vir dié bedrywighede ‘bokant die spoor’ is Cullinan Junction. Loop kyk gerus. Dis meer as die moeite werd.

Net oorkant die spoor is OppiStasie Restaurant waar jy iets kouds en sterker op die perron kan inneem en ‘n swaarder maaltyd, sou jy wou.


Oudhede en aardighede is oral uitgestal

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online