Klipkopse luislang-reus doodgery Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 29 April 2013 14:46
Untitled Document

‘n Luislang is vroeg in Maart voor Watercrest se ingang in Lynnwoodweg-verlenging, Klipkop, doodgery.
Jan Engelbrecht van die Klipkopse Summerwind Percheron Stoet vertel dat hy op Maandagaand 4 Maart net na 7 verby dié opgerolde luislang gery het. Hy het terug gedraai om te gaan kyk en gesien dat die slang reeds dood was. Dit het gelyk of sy kop vergruis is.

‘n Volgende motoris het die slang uit die pad getrek en Jan het die Woensdagoggend gaan foto’s neem van die slang wat toe langs die pad gelê het. Jan het die slang teen 2,3 meter gemeet, maar sê dat hy beslis langer as 2,5 meter sou meet as hy hom vollengte kon uitstrek.

“Van ons werkers het al voorheen vertel van ‘n groot slang onder by die rivier, maar kon nooit sê watter soort slang dit was nie. Ek het nie juis gedink dat luislange hier voorkom nie, maar die kans is dalk goed dat iemand die slang as troeteldier daar afgelaai het,” sê Jan.


Die ongeveer 2,5 meter lange luislang wat skuins oorkant Watercrest se ingang in Klipkop doodgery is
Foto: Jan Engelbrecht

Waterlake
Luislange kom steeds in die Bronberg-gebied voor. In Mei verlede jaar het ons berig dat Derk Derksen en Daniël Bosman ’n 3,5 meter lange luislang by die Waterlake-dam se inloop gewaar het waar hy in die vlak water op die brug gelê het.

Derk, een van die inwoners van Boschkop wat seker al die langste in dié gebied woon, het toe gesê dat dit die eerste keer in 40 jaar is wat hy ‘n luislang daar gesien het.


Wapadrand
In Februarie 2011 het ons berig dat ’n luislang Wapadranders in die middernagtelike ure behoorlik op hol gehad het. Slangvanger, Stephanie Kendall, het dadelik uitgegaan; die slang is teen ’n muur vasgekeer, in ’n vervoersak gesit en is later na ’n plek van veilige bewaring geneem.

Die Wapadrandse luislang was 2,5 meter lank. ’n Volwasse luislang kan tot ses meter lank word. Die gewone luislang, Python sebae natalensis, is die grootste slang wat in die bosgebiede van Suider-Afrika voorkom.

Jong luislange vreet grootliks knaagdiere. Dié slang se prooi word al hoe groter soos die slang groei tot die volwasse slang kleiner boksoorte begin vang. Prooi word eers gebyt, waarna die luislang hom so styf as moontlik om die dier krul om hom uiteindelik te versmoor. Ná die dier se dood, sal die luislang hom kop eerste begin insluk. Luislange is nie giftig nie.

Ongewoon
Die luislang is ongewoon in die slangfamilie omdat die wyfie in die broeitydperk by haar eiers bly. Sy lê van Oktober tot Desember broeisels met 15 tot 100 eiers wat sy warm hou en slegs verlaat op soek na water. Die eiers vat twee tot drie maande om uit te broei en die wyfie vreet glad nie in dié tydperk nie.

Sy verlaat die eiers eers so 24 uur voor die klein slangetjies, van 50 tot 60 cm lank, uitbroei. Sommige bronne sê dat sy haar kleintjies nog twee weke daarna beskerm.

 

© 2020 Die/The Bronberger