Ideale tuinboom se naam bly ?n raaisel Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 29 April 2013 14:46
Untitled Document

Is jy op soek na ‘n mooi immergroen boom wat voëls na jou tuin lok, wat in vol son of semi-skadu sal groei, wat redelik ryp en droogte bestand is en boonop nie ‘n aggressiewe wortelstelsel het nie?

Dan is die kasuur met sy soet, heuninggeurige blommetjies jou antwoord. Wanneer die boom blom lok hy insekvretende voëls, terwyl ‘n groot verskeidenheid voëls sy vrugte en later die sade vreet.

Tradisioneel is die kasuur vir allerhande medisinale doeleindes gebruik. Die bas van sy stam het ‘n bitter smaak en ‘n sterk drop (liquorice) reuk. Aftreksels hiervan is wyd gebruik om maagprobleme, enige buikpyn en koors te behandel. Dit het blykbaar ‘n pynstillende en kalmerende effek. Daar is geglo dat die kasuur se verpoeierde wortel ‘n geslagsprikkelmiddel is en die poeier is gereeld in bier gegooi.


Kasuur se blare en blomme
Foto: Bronberg Bewarea

Naam
Die kasuur, Pittosporum viridiflorum, kry sy wetenskaplike naam van ‘Pitta’ vir ‘pik’ of ‘teer’ en ‘sporum’ vir ‘saad’ wat verwys na die taai omhulsel om die sade. Die woord ‘viridiflorum’ verwys na die groenerige blommetjies.

Die kenners is nie baie seker waar die naam ‘kasuur’ vandaan kom nie. Party sê dat dit ‘kersuur’ beteken wat verwys na die tyd wanneer die blommetjies se soet geur in die aandlug sweef.
Ander vermoed weer dat dit na ‘kaas’ verwys, omdat die boom se Engelse naam ‘cheesewood’ is.

Sommiges sê dat dié benaming gegee is omdat die boom se hout te sag is om gebruik te kan word, terwyl ander kenners sê dat die hout vir kombuismeubels en rakke gebruik kan word. Die boom ruik beslis nie na kaas nie.


Kasuur se vrugte
Foto: Wikimedia

Medium
Die kasuur is gewoonlik ‘n medium-grootte boom van so vier meter hoog, maar hy kan tot 30 meter hoog word en kan ook as ‘n heining geknip word of in ‘n pot op die stoep groei.

Sy bas is ‘n bleek bruin tot gryserige kleur met kenmerkende wit spikkels. Klein groen-wit blommetjies wat ‘n heerlike soet geur in die aandlug laat sweef, word gedra van September tot Desember. Hulle word gevolg deur geel-bruin vrugte, omtrent 6 mm in omtrek, en glansige oranje-rooi sade wat met ‘n taai, gomagtige middel omhul is.


Kasuur
Foto: Wikimedia

Kweek
Dit is maklik om ‘n kasuur van saad te groei. Sade sonder parasiete ontkiem 80-90% van die tyd. Saai die sade in ‘n mengsel van riviersand en kompos, bedek liggies met fyn kompos en hou klam.

Die sade behoort binne agt tot 12 weke te ontkiem en die vinnig groeiende saailinge kan uitgeplant word op die twee-blaar stadium. Die kasuur plant maklik oor.

 

© 2020 Die/The Bronberger