Mooiplaats-moord volg ná wapen-roof PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 April 2013 14:38
Untitled Document

Francois Potgieter is in die vroeë oggendure van Saterdag 6 April in sy huis op Mooiplaats doodgeskiet. Sy dogter en skoonseun, Jacolien en Ferdie Stapelberg, is in die bene geskiet. Net ‘n selfoon is gesteel.

Volgens Mike Strange, voorsitter van die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum en lid van Conserv, was dié hartseer aanval nie onverwags nie.

Hy sê dat vuurwapens net voor die voorval in die omgewing gesteel is. Ses wapens is in twee inbrake oor die Paasnaweek buitgemaak. Mike sê ook dat daar bewyse van jeugbende-aktiwiteit in die omgewing is.

Vroeër op die dag van die aanval by die Potgieters se huis het boewe probeer om by Gecko Ridge, ‘n plek waar funksies en troues gehou word in te breek. Dis is net twee plotte van die Potgieters af.
Blykbaar was drie verdagtes by dié poging betrokke en een was beslis gewapen. Hulle het gevlug toe hulle agterkom dat iemand hulle gesien het.


Wyle Francois Potgieter van Mooiplaats

Vyf mans het ongeveer 2 vm die diefwering van ’n kamer in die Potgieterhuis oopgebreek terwyl die huisbewoners geslaap het. Hulle het in die gang af geloop en by Ferdie en Jacolien se kamer ingeloop, waar die vierjarige Kayla en eenjarige Lian, by hulle ouers geslaap het.

Minstens vier skote is op Ferdie en Jacolien gevuur. Die skote het Jacolien se ma, Hestie Potgieter, wakker gemaak en sy was op pad na haar kinders toe, toe haar dogter haar gewaarsku het om terug te gaan. Hestie het haar man, Francois, geroep. Hy het haar uit die pad gestamp en is in die bors geskiet. Francois was binne sekondes dood.

Jacolien het intussen met Kayla en Lian in die badkamer weggekruip.

Die aanvallers is uit by dieselfde venster waar hulle ingekom het.  Die aanval het net ’n paar minute geduur.

Lede van die gemeenskap het gereageer nadat hulle omstreeks 3 vm van die aanval bewus geword het. Die gebied is afgesper tot sonsopkoms, toe spoorsny-honde die spoor kon begin volg. Die spore het hulle na die hoofpad gelei waar dit verdwyn het. ‘n Voertuig het waarskynlik daar gewag.

Die hoofpad is die D964, of Boschkop-grondpad, wat by ‘n T-aansluiting naby OuKraalmuur winkels en petrolstasie begin en by die Boschkop Laerskool eindig. Die pad kruis en bied toegang tot die N4-snelweg by die Donkerhoek afrit.

Die polisie ondersoek sake van onder meer moord en huisroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger