Geboorte en sterfte PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 29 April 2013 12:35
Untitled Document

In hierdie uitgawe van die Bronnie is twee stories wat oor hospitale in ons gebied handel – die een oor ‘n geboorte en die ander oor ‘n tragiese sterfte.

Bouwerk aan ‘n splinternuwe hospitaal begin eersdaags op ‘n hoewe van 21 ha in die hartjie van Zwavelpoort. Nog ‘n hospitaal in ‘n gebied waar minstens vier soortgelyke private hospitale binne ‘n klipgooi van die omgewing se inwoners af is.

In Cullinan sluit die deure van ‘n hospitaal wat sedert 1907 in die behoeftes van die gebied se mense voorsien het. Dit was die enigste maklik bereikbare hospitaal wat omgesien het na die mense van Cullinan, Rayton en die groot landbougemeenskap in die distrik.

Die Bronberg Hospitaal op Zwavelpoort word oor die algemeen deur die gemeenskap van dié gebied verwelkom. ‘n Mens kan seker redeneer dat daar nie te veel noodsaaklike- en nooddienste in ‘n bepaalde omgewing kan wees nie. Of die ontwikkeling wat in die hospitaal se voetspore gaan volg ewe wenslik is, is ‘n ander saak. Het die gebied werklik nog ‘n dorpsontwikkeling en veral nóg ‘n sakesentrum nodig?

Winkelsentrums het in die afgelope paar jaar soos paddastoele in die Bronberg-gebied opgeslaan en kyk ‘n mens na die aantal ondernemings in sommige van dié sentrums wat deurlopend hulle deure moet sluit, is dit duidelik dat ‘n versadigingspunt vir eers bereik is.

Dit is moeilik om te begryp hoekom die hospitaaltjie op Cullinan moes toemaak, terwyl talryke nuwe werkgeleenthede by die myn en in ander sektore in die gebied duisende nuwe intrekkers lok.

Die amptelike verklaring van die groep onder wie se vaandel die hospitaal die afgelope paar jaar bedryf is, is dat die geld wat nodig is om ‘opgradering van die geboue en infrastruktuur’ te doen ‘nie die volhoubaarheid van die hospitaal’ sou verseker nie.

‘n Mens kan verstaan dat ‘n private hospitaal soos enige ander sake-onderneming winsgerig is. En soos met enige ander onderneming is gesonde bestuur noodsaaklik om daarvan ‘n sukses te maak.

Die sluiting van Cullinan en die omgewing se enigste hospitaal is ‘n jammerlike gebeurtenis vir die gemeenskap en vir die mense wat hulle brood daar verdien het. Dit is tragies dat dié pragtige, geskiedkundige ou geboue nou moet leeg staan, terwyl ‘n groot behoefte aan ‘n hospitaal in die gebied bestaan.

Hopelik sal ‘iemand’ met ondernemingsgees of een van die bestaande hospitaalgroepe die geleentheid aangryp om genesing te bring en dié noodsaaklike aanwins in die groter Cullinanse gebied weer op die been kry.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online