Van huis-hospitale tot ‘n paleis-hospitaal, van Volkshospitaal tot ‘Het Hollands Hospetaaltje’ en ‘n horde veld-hospitale, hier wys ons jou hoe twee oorloë en die taalkwessie geboorte geskenk het aan hospitale in toeka se pioniersdorpie Pretoria.
Dié swierige ou Donkerhoek-opstal is opgekommandeer om as hospitaal te dien
‘n Groot aantal geboue en huise in en om Pretoria is in die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) en die Engelse Oorlog (1899-1901) as tydelike hospitale opgekommandeer. In die Bronberg-gebied is die swierige ou Donkerhoek-opstal, wat deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, Donkie Wolmarans, gebou is, en die ou Schutte-opstal op Rhenosterfontein altwee deur die Britte met die slag van Donkerhoek opgekommandeer.
Die ou Schutte-opstal op Rhenosterfontein soos hy tot 1948 gelyk het. Dié opstal is met die slag van Donkerhoek deur die Britse troepe oorgeneem en as hospitaal gebruik
Volkshospitaal
Reeds in die vroeë 1880’s het dokters op hospitaalgeriewe begin aandring, maar dit was eers in Februarie 1887 wat die Pretoriase Geneeskundige Kommissie onder leiding van generaal Piet Joubert met die regering oor 'n hospitaal-terrein begin onderhandel het.
Die regering het ‘n huis in Potgieterstraat naby die militêre kaserne en 12 aangrensende erwe as terrein aangebied. Pretoria se vrouens het in 1887 1 500 pond met ‘n basaar ingesamel en ‘n tydelike hospitaal met drie sale en 15 beddens is op die terrein ingerig.
'n Permanente hospitaalkomitee onder voorsitterskap van hoofregter JG Kotze is in die lewe geroep. Die eerste matrone, ‘n mej Paget, en twee verpleegsters het van Kimberley gekom, en die Pretoriase Geneeskundige Kommissie het die mediese bestuur behartig.
Die eerste pasiënt is op 26 Junie 1888, nog voor die amptelike opening op 2 Julie 1888, opgeneem.
Susters en pasiënte kan op die ZAR Volkshospitaal se stoep gesien word,
terwyl ‘n perdekar in aantog is
Foto: Universiteit van Pretoria
Nuwe
Dié hospitaaltjie het gou te klein geword en ZAR Staatsingenieur en -argitek en hoof van openbare werke, Sytze Wopkes Wierda, het in 1889 ‘n plan vir ‘n nuwe hospitaal voorgelê.
In die ZAR was Sytze onder andere verantwoordelik vir die ontwerp van die Paleis van Justisie en die Ou Raadsaal by Kerkplein, die Staatsmodelschool en die Nieuwe Goewermentsgebou (later bekend as die Compolgebou).
Die styl waarin Sytze en sy department gewerk het, is die Republikeinse of Wilhelmiens-styl genoem en was gebaseer op die gewilde ‘Beaux Arts’ styl van die laat 19e eeu. Die nuwe Volkshospitaalgebou met sy sinkdak, pilare, stoep rondom die vertrekke en breë trappe wat na ‘n voortuin lei, was tipies van dié styl.
President Paul Kruger het die hoeksteen van die nuwe Volkshospitaal op 21 Junie 1890 gelê. Die hospitaal is op 10 Oktober 1891 op Paul Kruger se verjaardag op die terrein waar die militêre hoofkwartiere later ook opgerig is, geopen. Daar was 130 beddens in die nuwe gebou.
ZAR argitek Sytze Wopkes Wierda
Foto: Wikipedia
Paleis-hospitaal
Met die Engelse Oorlog het Pretoria onder Britse militêre heerskappy geval en die onvoltooide Paleis van Justisie is opgekommandeer om as hospitaal te dien. Dié oorlog het groot opspraak oorsee verwek en verskeie lande, genootskappe en individue het hospitaalskepe, hospitaaltreine en mobiele hospitale hierheen gestuur.
MacBride se Ierse brigade het saam met die Boere geveg en die Ierse Lord Iveagh het ‘n 100-bed hospitaal, bekend as die Ierse hospitaal, kompleet met sy eie vervoer, hierheen gestuur.
Die hospitaal was onder leiding van Sir William Thompson met dr George Stoker as die assistent hoof sjirurg. Hulle is begelei deur vier siviele sjirurge, vier verpleegsters en verskeie ambulanslede.
‘n Gedeelte van dié hospitaal het die 11de divisie se opmars na Pretoria meegemaak en het op 14 Junie 1900 by die onvoltooide Paleis van Justisie ingetrek. Op 19 Junie is 83 pasiënte daar opgeneem. Die res van die Ierse Hospitaal, wat in Bloemfontein agtergebly het, het op 1 Julie daar aangekom.
Dié hospitaal was bekend as die Paleis van Justisie Hospitaal of the Ierse Hospitaal en is op 11 Julie amptelik deur Lord Roberts geopen. Teen die einde van Julie het die hospitaal tot 500 beddens uitgebrei.
Die Ierse Hospitaal-staf het op 15 Oktober 1900 vertrek en 180 pasiënte onder militêre mediese sorg agtergelaat.
Die Paleis van Justisie as Ierse Hospitaal in die oorlog in 1900
Foto: Sabar
Beckett-hospitaal
‘n Pragtige ou huis wat in die Engelse oorlog as hospitaal gebruik is, staan vandag nog op erf 830, eens bekende toeka-sakeman, Thomas William Beckett, se grond wat van Eastlaan tot Eastwoodstraat noordwaarts gestrek het tot Meintjeskop.
Erf 830, TW Beckett se eiendom wat vandag 188 Eastwoodstraat is, is in die oorlog as hospitaal vir Britse troepe opgekommandeer. Dis hier waar prins Victor, kleinseun van koningin Victoria, dood is
Foto: Universiteit van Pretoria
Dit is in dié huis-hospitaal waar Prins Christian Victor van Schleswig-Holstein, kleinkind van koningin Victoria op 29 Oktober 1900 dood is. Die hospitaal het in die volksmond as die Beckett-hospitaal bekend gestaan nadat Lord Roberts die huis met die beleg van Pretoria in 1900 opkommandeer het.
Die Becketts het hulle huis Merton Keep genoem. Thomas is in 1874 met Annie Harriet Isabella Orsmond getroud en hulle het 16 kinders gehad. Thomas se maatskappy, TW Beckett and Co, is in 1875 gestig.
Thomas, Annie en hulle kinders moes die huis verlaat toe Lord Roberts die eiendom in die ‘Imperial Yeomanry Hospital’ vir Britse troepe omskep het en hospitaaltente oral laat opslaan het. Meer as 5 000 pasiënte is daar behandel in die enkele jaar wat die hospitaal bestaan het.
Die ‘Imperial Yeomanry’ hospitaal het nie net die Becketts se huis ingesluit nie; tente is
ook oral opgeslaan
Foto: Jones
Victoria Cottage Hospitaal
Ná die oorlog het die Britte ‘n komitee gevorm, genaamd die ‘Fallen Soldiers Memorial Committee’ wat met die komitee van die Victoria Cottage Hospitaal saamgesmelt het. Planne is gemaak om ‘n hospitaal op die hoek van Proes- en Hamiltonstrate te bou en die fondasie is in 1904 deur Earl Roberts gelê. Met dié seremonie is meer as 5 000 pond vir die oprigting vir die hospitaal ingesamel.
Die grond waarop die hospitaal gebou is, was ‘n geskenk en die argitek, John Ellis, het sy dienste ook gratis aangebied. Op die ou einde is so baie geld ingesamel dat die hospitaal sonder enige skuld opgerig kon word. Een van dié skenkers was Thomas Cullinan wat 500 ‘guineas’ gegee het en ook dieselfde bedrag van die Premier Diamantmyn op Cullinan.
President Paul Kruger het die hoeksteen van die nuwe Volkshospitaal op 21 Junie 1890 gelê
Foto: Universiteit van Pretoria
Het Hollands Hospetaaltje
Ná die vrede in 1902 was die Boere geweldig verarm, baie kon nie mediese sorg bekostig nie en kon nie in die Victoria Cottage Hospitaal opgeneem word nie omdat dit ‘n Britse militêre hospitaal was.
Die Boere-generaals, Louis Botha, Krisjan de Wet, Koos de la Rey en Christiaan Beyers, het begin donasies soek om ‘n eie Afrikaanse hospitaal te bou. ‘n Hollander genaamd dr CJK van Aalst het ‘n reuse skenking van 7 500 pond gemaak en later het die digter Jan FE Celliers 1 000 pond geskenk.
In 1904 het generaal Christiaan Beyers sy huis in Sunnyside geskenk waarin ‘n ses-bed hospitaaltjie, genaamd ‘Het Hollands Hospetaaltje’ na aanleiding van die grootste skenker, begin is.
Genl Christiaan Beyers, Pretoriase prokureur, het in 1904 sy huis in Sunnyside geskenk om ‘n ses-bed hospitaaltjie te begin
Zuid-Afrikaans
In 1912 het ‘n rentevrye lening van 75 pond die hospitaaltjie instaat gestel om na die hoek van Walker- en Bergstraat te trek. Om aan te dui dat dit ‘n hospitaal is waar Afrikaans gepraat kon word, het die naam toe verander na ‘Het Zuid-Afrikaans Hospitaal en Diakonessenhuis’.
In 1936 het die burgemeester van Pretoria, Edmond Francis Bourke, 34 Muckleneuk-persele vir 3 400 pond aan die hospitaalbestuur verkoop. ‘n Lening is bekom om die grond te koop.
Dit het 20 000 pond gekos om die hospitaal te bou, ‘n bedrag wat uit skenkings opgemaak is. Die geboue is oor die jare uitgebrei en dit is dié hospitaal wat in 1951 die Bronberg Apteek begin het.
In die hospitaal se tuine is daar vandag steeds borsbeelde van generaals De Wet, De la Rey en Beyers en dit is beleid dat daar met alle pasiënte in hulle huistale gepraat moet word.
Zuid-Afrikaanse Hospitaal
Foto: Zuid-Afrikaanse Hospitaal
Algemene
Die ou ZAR Volkshospitaal wat in 1888 in Potgieterstraat begin is, was nog tot 1932, met die oprigting van die Algemene Hospitaal in gebruik. Daarna is die gebou onder beheer van die Spoorweë Administrasie geplaas en is omskep in die CW Malan Spoorweë Koshuis. Die gebou is later gesloop om meer plek vir die Departement van Verdediging se hoofkwartiere te maak.
Die fondasie van die Algemene Hospitaal is op 22 April 1927 gelê. Die eerste pasiënte is op 14 Mei 1932 opgeneem en die eerste superintendent was Dr LS Robertson.
Die hospitaal is in 1967 herdoop tot die HF Verwoerdhospitaal en sy naam het in 1997 verander na die Pretoria Akademiese Hospitaal. Vandag funksioneer dié gebou as die Tshwane Distrikshospitaal. Die nuwe geboue wat in 2008 voltooi is, staan as die Steve Biko Akademiese Hospitaal bekend.
Die ou HF Verwoerd-hospitaal
|