Die rustige lewe? PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 25 March 2013 16:50
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Met gesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Vlak langs Lynnwoodweg-verlenging, in Tierpoort se wêreld, sit daar deesdae ‘n mooi uitspanplek in die oopte met die volksvreemde naam van ‘La Vie Lente.’

‘Lente’ het in dié geval niks met seisoene te doene nie. ‘n Mens spreek dit uit – ‘Lant’, met ‘n sagte ‘t’ – en dis die Frans vir ‘stadig’. ‘La vie lente.’ Die stadige lewe, of die rustige lewe, dan.

Ons ry op ‘n rustige Saterdag stadig deur die veiligheidshek wat deur ‘n kalm wag beman en beheer word. Hulle het die opstal op die uitspanplot baie stylvol en keurig ingerig. Jy stap by die indrukwekkende ingang in en bevind jou omring deur kunstige gebruiksware van die boetiek, wat saam met die restaurant bedryf word.


‘n Imposante ingang na die opstal

Die groot binne-eetruimte is smaakvol saamgesit. Hier is duidelik vooraf dinkwerk en moeite deur ‘n kunstige siel of twee gedoen. Later sou ons uitvind dat dieselfde dinkwerk en sorg by die samestelling van die ruim spyskaart en die voorbereiding van die disse geld.

Dis mooi in die eetplek, maar ons mik vir die oopte van die ruim kuierstoep. Dit is ‘n warm Saterdag en op die stoep is dit nie so koel soos onder die dakwaaiers van binne nie. Die vriendelike, vroulike mens wat ons verwelkom, stel voor dat ons buite in die tuin in die diep koelte van ‘n boom loop sit en ons hou van die voorstel. Later sluit die plek se goedgemanierde skaaphond, Wally, hom op uitnodiging by ons aan en saam het ons heerlik uitgespan, gekuier en geëet onder die koelteboom in die tuin van La Vie Lente.

Ek voel dadelik half spyt dat ons nie vroeër geroer het nie, toe ek die ontbytspyskaart begin lees. Ontbyt word tussen 9 vm en 11.30 vm bedien. Jy kan wegval met ‘n vrugte ‘smoothie’ of ‘n tuisgemaakte ‘granola’ mandjie met heuning, jogurt en vrugtesosaties. Dit kos onderskeidelik R30 en R50. Die plek se brode word terloops tuisgebak en jy kan ondermeer Italiaanse Panini, Franse Baguette of ‘n ligte rog-saadbrood beproef.


Beeshaas in Panini en ‘n mooi groente- en slaaibord

Die ontbytspyskaart verlei jou met ‘n verskeidenheid plaatkoekiestapels en Franse piesangbroodkeuses met kombinasies daarby wat hemels klink. Dit kos tussen R35 en R55.
‘n Aantal eieropsies met daarby pacenta (Italiaanse spek), kase, sampioene, tamaties, poffertjies en watnog kos tussen R35 en R65.

Die ‘vlagskip-ontbyt’ is ‘n Franse kaas-en-vleisbord wat saam met vrugte, kookeier, preserv en varsgebakte brood bedien word. Dit kos R85. Jy kan ook ‘n verskeidenheid ‘happies’, soos geroosterde neute, skoenriem-tjips en ‘n broodmandjie bestel.

‘n Plekgebrek weerhou my daarvan om verder te veel uit te brei. Ek kan net meld dat die slaaie en deelborde (platters) van ryke verbeelding en ‘n goeie koskennis getuig.

Metgesel besluit op die groente- en slaaibord met ‘n broodmandjie en drie doopsouse. Sy is mos baie partydig vir ‘gesonde’ kos. Ek het my bedenkinge gehad of die storie genoegsaam sou wees vir ‘n honger Metgesel, maar dit was meer as wat sy kon baasraak. Gaande was sy oor vars, gesonde kos, die smaakkombinasies, die verbeeldingryke doopsouse en die tuisgedoende brode. Dit kos R70.

Die vleiskeuses bevat ‘n tuisgemaakte hamburger, ‘n hoendergereg en ‘n beeshaas (nee, Steve, dis nie ‘n ding wat op die ark skeefgeloop het nie, dis ‘n ‘fillet’). Die bees kom saam met gekarameliseerde uie en is saam met camembert in ‘n Panini-brood bedien. Heerlik en vullend teen R85.

Op die stoep is ‘n swartbord waar blykbaar altyd bykomende geregte ‘van die dag’ opgeteken staan. Ek is bly ek het dit eers later raakgesien anders sou ek sweerlik die gebraaide varkensboud of hoenderpastei bestel het en gevolglik nie die beeshaas-smaaksensasie ervaar het nie.

Die rustige, mooi kuierplek is familievriendelik en spog ook met ‘n deeglike kinderspyskaart. Die wynkeuses is ewe deeglik en nie buitensporig swaar op die beursie nie. Die bier is koud en die koffie is, volgens Metgesel, uit die voorste gestoeltes.

As jy sou sukkel om die ingang uit Lynnwoodweg-verlenging te kry, dit is reg oorkant die ‘Golden Mole’ se hek. Of bel vir aanwysings: 072-916-7801.
 

© 2019 Die/The Bronberger