Kind bloei byna dood ná aborsie op Zwavelpoortplot Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 March 2013 16:47
Untitled Document

‘n Veertien-jarige meisie het haar bykans op plot 105 Zwavelpoort doodgebloei nadat ‘n aborsie skeefgeloop het.

Dié onwettige Zimbabwe-immigrant is glo iets ingegee om haar swangerskap te beëindig. Sy het op Sondag 24 Februarie in kraam gegaan, die fetus verloor en het in die nag blootgestel buite die huis lê en bloei.


Die eens trotse ingang na Plot 105, Saintsburg, in Achillesweg, Zwavelpoort

Lede van die Boschkopse polisiestasie het middernag daar opgedaag. ‘n Ambulans is ontbied wat
teen 3 vm Maandag opgedaag het.

Die meisie is na die Mamelodi-hospitaal geneem, maar die fetus het op die plot agtergebly en tot Dinsdagoggend buite in die gras gelê waar honde en kinders rondom dit gespeel het. Daarna is die fetus deur die ‘plotopsigter’, wat aangesê is om ‘n gat te grou, verwyder.


Rommelhope

Die fetus was glo die verantwoordelikheid van die naasbestaandes. Die staatslykhuis sal klaarblyklik net betrokke raak en 'n ondersoek doen as daar ‘n saaknommer is. Daar is geen saaknommer vir dié geval by die Boschkopse Polisiestasie nie.

Die Mamelodi-hospitaal het die meisie vir die bloeding behandel en sover vasgestel kon word, is daar nie toetse gedoen om die oorsaak van die miskraam te bepaal nie. Die meisie was binne ‘n paar dae terug op plot 105 waar geen water, elektrisiteit of toiletgeriewe is nie.


Wat eens tuine was, is toegegroei met onkruid en lang gras en bure vrees ‘n brandgevaar in die komende winter omdat almal vure gebruik om by te kook

Volgens Thea du Bruyn, direkteur van die Zwavelpoort-gebaseerde Kungwini-welsynorganisasie, is welsynwerkers se hande in dié geval afgekap. Daar is nie ‘n geboortesertifikaat of ander identiteitspapiere vir die meisie nie en sy kan nie enige Suid-Afrikaanse taal praat nie. Sy kom glo van Zimbabwe af en dit blyk of sy nie ouers het nie, of nie by hulle welkom is nie.

Sy mag nie wettig in ‘n Suid-Afrikaanse kinderhuis opgeneem word of by pleegouers geplaas word nie. Kungwini Welsyn mag ook nie internasionale gevalle hanteer nie.


Toegang tot water is by dié afgesnyde pyp. Blykbaar is dit waar almal hulle wasgoed was en water skep om te kook

Stappe is by die Departement van Sosiale Ontwikkeling in werking gesit om die meisie na ‘n plek van veiligheid in Zimbabwe te deporteer.

Die Bronberger het die eerste keer oor plot 105 berig toe Bets Page in November verlede jaar geskryf het oor ‘n misterieuse huis in Zwavelpoort waar mense van Zimbabwe en Mosambiek woon en alles wat in die veld lewe, opeet.

Gemeenskapsorganisasies het nie van so ‘n huis geweet nie. Daar bestaan toe wel so ‘n huis. Lesers het na aanleiding van Bets se lesersbrief ingebel en volgens Lucia Nagel van Zwavelpoort was dit glad nie waar dat dié mense alles in die veld eet nie. Sy het gesê dat hulle baie ordentlik is en ‘meer vleis in hulle yskaste’ het as die meeste Zwavelpoorters.


Die veelbesproke huis van onwettige immigrante

Dié plot se krag is intussen afgesny, maar teen Die Bronberger se saktyd het ons van bure verneem dat kragkabels ‘uit die niet uit verskyn het’ en dat die inwoners self die kragaansluiting gedoen het.

Plot 105, genaamd Saintsburg in Achillesweg, behoort aan Pierre Hugo. Die plot is vroeër op ‘n veiling te koop aangebied, maar die verlangde prys is glo nie behaal nie. Inwoners betaal huur vir die woonplek.

 

© 2020 Die/The Bronberger