Hy is na sy snawel vernoem Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 25 March 2013 16:41
Untitled Document

Aan die randte van die Bronberg-gebied se vleie, kuile en dammetjies waad daar ‘n ou met een van die vreemdste snawels wat jy nog ooit aan ‘n voël sien sit het. Jy kan nie help om te staar nie, omdat die voël met ‘n kenmerkende heen en weer veebeweging van dié ongewone snawel vreet. Geen wonder hy is na sy snawel vernoem nie.

Die lepelaar, Platalea alba, is ‘n langbeen wit waadvoël met rooi bene, gesig en ‘n lang, afgeplatte, lepelvormige grys-en-rooi snawel. Die mannetjie het ‘n langer snawel as die wyfie en onvolwassenes het ‘n gelerige snawel en donker-puntige slagvere.

Die vreemde vorm van die snawel maak dit makliker om sy glibberige prooi, hoofsaaklik vis en krappe, te vang. Lepelaars sal ook krokodille en seekoeie volg om die waterlewe wat deur hulle versteur word, te vreet.

Dié voël verskil in vlug van ewe groot witreiers, 90 cm lank, deurdat sy nek uitgestrek word en nie tussen sy skouers ingetrek word nie.


Die lepelaar
Foto’s: Wikipedia

Nomadies
Lepelaars woon rondom vloedvlaktes, varswatermere en riviermondings. Hulle is nomadies en trek in reaksie op reënval. Selfs hulle broeiseisoen wissel van jaar na jaar en word uitgestel in gebiede waar dit nie reën nie.

Dié is baie sosiale voëls wat saam met ander spesies watervoëls in broeikolonies nesmaak, gewoonlik in groepe van vyf tot 20 pare, maar soms in groepe van tot 250 of meer pare. Hulle bly vriendelik met ander voëls buite die broeiseisoen en jy sien hulle gewoonlik in groepies van drie tot 30 individue wat saans in bome of rietbeddings slaap. Die lepelaar se roep is ‘n lae ‘kaark’-geluid en in broeikolonies maak die voëls verskillende snorke en klapper-geluide met die snawel.


Die lepelaar in vlug

Nes
Dié voëls is hoofsaaklik monogaam. Die nessie word deur die wyfie gebou met materiaal wat die mannetjie aanbring en bestaan uit ‘n plat ovaalvormige struktuur van stokke, rankers, riete en takkies en is soms uitgevoer met gras. Dit word tipies in ‘n boom of bos wat in die water staan geplaas, of in ‘n rietbedding of op ‘n rotsagtige eiland.

Die broeiseisoen is hoofsaaklik van Julie tot November. Die wyfie lê twee tot vier eiers wat deur beide ouers vir 25 tot 29 dae uitgebroei word. Die kuikens word deur beide ouers gevoer en hulle begin op die ouderdom van 21 dae in die gebied rondom die nes rondbeweeg. Hulle verlaat die kolonie as hulle omtrent vyf weke oud is.

 

© 2020 Die/The Bronberger