Ons praat nie meer nie Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 16 July 2008 02:00
Untitled Document

Ons praat nie meer met mekaar nie. Nie genoegsaam nie. Plattelandse gemeenskappe se lewenskragtigheid lê grootliks in die interaksie van sy mense. Só ?n gemeenskap was die Bronberg-gebied tot redelik onlangs. Deur gereeld met mekaar te kommunikeer - met mekaar en, ja, ook oor mekaar te praat - word ?n gemeenskapsgevoel ontwikkel; ?n gevoel van behoort en ?n gevoel van omgee.

Die samehorigheidsgevoel wat ontwikkel binne ?n gemeenskap waar daar met mekaar gepraat word, sorg nie net vir ?n vervullende en gelukkige lewe van sy mense nie, maar kan ook in tye van krisis en in tye van nood uitkoms bied. Dit kan lewens verryk en, in die huidige toestande waaronder ons gedwing word om te lewe, kan dit lewens red.

In sekere dele van die Bronberg is daar groepe mense wat weer met mekaar begin praat het. Hulle het dit begin doen omdat hulle besef het dat die bedreiging wat ongekende misdadigheid in ons gebied inhou, nie deur ?n eenmansaak afgeweer kan word nie. Dit verg minstens ?n groot genoteerde maatskappy. Dit wat op plekke begin is deur ?n groep vreemdelinge om hulle eie belange en lewens te help beskerm, het gou gelei tot die samebinding van ?n groep vriende wat vir mekaar omgee en mekaar se belange op die hart dra.

Maar ons praat hier van ?n relatief klein groepie mense. Die oorgrote meerderheid van die gebied se inwoners voer nog ?n eensame en gevaarlike sukkelbestaan as eenmansaak.

Om hierdie rede het Die Bronberger nou ?n gemeenskapsforum in die lewe geroep. Dit is ?n Internet-plek waar mense uit die gebied wat ons die Bronberg noem, bymekaar kan kom en met mekaar kan praat. Hier kan inligting gedeel word oor sake van algemene belang, vrae kan gevra word en antwoorde kan verskaf word. Voorvalle van misdaad en gevaar kan, soos en waar dit gebeur, rugbaar gemaak word om mense te waarsku of om vinnige hulp of bystand te kry of te vra.

Kortom wil dit ?n plek wees waar vriende wat ?n woongebied en belange deel, met mekaar kontak kan hou om sodoende ?n veiliger en lewenskragtiger gemeenskapslewe te vestig.

Jy kan vandag begin meedoen deur ons webwerf, www.bronberger.co.za, te besoek en by die forum aan te teken. Kom ons praat weer met mekaar.

 

© 2024 Die/The Bronberger