Kitty Hawk wil inwoners tegemoet kom PDF Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 16 July 2008 00:00
Untitled Document

Hendrik ver Loren van Themaat, voorsitter: Kitty Hawk beheerliggaam, skryf:

Die brief van Anoniem in Junie se Bronberger benodig waarskynlik ’n reaksie om misverstande uit die weg te ruim.

Die Kitty Hawk lughawe bestaan reeds veel langer as agt jaar en Anoniem moes dus bewus kon gewees het van ons lughawe se bestaan toe sy ingetrek het. Die lughawe is ’n deeltitel skema met ver oor die 100 eienaars waarvan verskeie meer as een, of baie groot vliegtuigloodse besit. Die waarde van die eienaars se vliegtuigloodse is heelwat meer as R40 000 000 en dan kom die waarde van die fasiliteite, aanloop- en rybane nog by. Die vliegtuie se waarde is ook dan nog nie ingereken nie. Die eienaars se belegging in die lughawe is dus baie groot.

Ek persoonlik was al meer as tien jaar gelede voorsitter van die skema se beheerliggaam en weet van geen vergaderings of fondsinsamelings wat deur teenstanders van die lughawe gehou is nie. Al die trustees op die beheerliggaam word jaarliks deur die eienaars uit eie geledere verkies en is getaak om die skema te bestuur.

Ons is almal gewillig om die publiek en veral Bronberg-inwoners so ver moontlik tegemoet te kom en ons nooi almal uit om enigeen van ons te kontak en moontlik saam ’n koppie koffie of tee by ons restaurant te kom nuttig. Ons is baie trots op die restaurant wat deur Nico Breytenbach bestuur word – al meer as 18 jaar, soos baie van die eienaars, ook ’n Bronberg-inwoner.

Van die eienaars het hul besonderhede aan die Boschkop polisie gegee om behulpsaam te wees met lugsoektogte wanneer ook al vereis. Veral die Gyrokopters kan van groot waarde wees; die diens is gratis aangebied en is ook al deur die polisie gebruik.

Ons is trots daarop dat ons gemeenskap-vriendelik probeer wees en ook trots op die prestasies van ons eienaars. Een, ’n voormalige wêreldkampioen, is gekies om aan die internasionale Red Bull toringvlieg kampioenskappe deel te neem. Net 12 lande is gekies om ’n verteenwoordiger te stuur en ons is baie trots op hom.

’n Trustee is ook getaak om vliegveiligheid en nakoming van die huisreëls te verseker en ons glo dat hy ’n besondere taak verrig. Ongelukkig vlieg buitepersone gereeld in, en hul instrukteurs gebruik ons lughawe soms vir landingsoefeninge, siende dat ons nie landingsfooie hef soos ander lughawens nie.

Ons is ’n geregistreerde lughawe wat dus oop is vir nie-eienaars om ook in te vlieg en het nie beheer oor hulle optredes solank dit binne die Burgerlugvaartwet val nie.

Ek vertrou bogenoemde sal help om kommunikasie met persone soos Anoniem te bevorder. Ons besonderhede is ook op ons webtuiste www.kitty-hawk.co.za beskikbaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger