Toeka se Pretorianers skep vermaak in pioniersdorpie PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 28 February 2013 05:57
Untitled Document

In die gees van die Bronnie se Dinge-om-te-doen tema, het ons besluit om te gaan kyk wat toeka se Pretorianers gedoen het vir vermaak. Waar was die eerste kuierplek, sportklub, resiesbaan en hotelle? Wanneer het die eerste trein hier aangekom, is die eerste motorkar bekendgestel en waar is die eerste veilings gehou?

Nagmaal

Pretoria was ‘n pioniersdorpie wat in 1855 rondom die Pretoria Philadelphia gemeente se totstandkoming gestig is. Jan Francois Schutte het in April 1855 begin om die eerste kerk op Kerkplein te bou en Nagmaal was dié distrik se grootste sosiale byeenkoms. Mense het van heinde en verre gekom, kamp opgeslaan en die hele naweek gekuier. Die kerk is in 1857 voltooi, maar het in 1882 afgebrand. ‘n Tweede Gereformeerde kerk is in 1885 voltooi. Die foto wys Kerkplein rondom 1900 waar ossewaens saamgetrek het vir die drie-maandelikse Nagmaalsdiens. Dié kerkgebou is in 1904-05 gesloop nadat die kerk in 1899 die plein aan die regering van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) verkoop het. Die regering het die plein in 1905 aan die stadsraad oorhandig.
Foto: Staatsinligtingsdiens Pretoria

Speletjies

Buitenshuise tydverdryf in dié tyd het ‘n hele paar speletjies ingesluit wat vandag nie meer beoefen word nie omdat dit te veel beserings tot gevolg het. Kennetjie is ‘n spel waar ‘n kort stok in die lug op geslaan word deur ‘n langer stok, terwyl daar gehoop word dat ‘veldwerkers’ die kort stok gevang kan kry sonder om ‘n oog te verloor. Bok-bok-staan-styf, wat die uitlanders ‘high cockalorum’ genoem het, is ‘n spel waar soveel as moontlik seuns of mans op so min as moontlik se rûe spring tot iets meegee. Die gooi van perdeskoene en jukskeie was gewild, hulle het perderesies gehou en van die 1880’s af fietsrenne gehou.

Pieknieks

Dié piekniek-foto uit die laat 1800s wys hoe die mense toentertyd aangetrek het. In die beginjare van Pretoria was daar nog nie teaters of klubs nie en die mense het by die Fonteine of Wonderboom gaan piekniek hou. Dié pieknieks het so effe anders afgeloop as waaraan ons vandag gewoond is. Almal is uitgenooi en Pretoria was op so ‘n piekniekdag ‘n spookdorp. Inwoners het kort na son-op in ‘n reuse konvooi vertrek en het, behalwe kos, ook musiekinstrumente en visstokke saamgevat. ‘n Tipiese piekniek het laatnag met ‘n dans afgesluit.
Foto: Rosa Swanepoel se versameling

Eerste kuierplek

Die Gaiety Bar was deel van Albert Broderick, die dorp se eerste kroegeienaar en winkelier, se winkelkompleks. Hy het in 1859 hier aangekom en was destyds die enigste persoon wat ’n lisensie kon kry om drank per bottel te verkoop. Sy vriend, die bekende kunsskilder, Thomas Baines, het vir hom ’n skildery van sy winkelsentrum gemaak as betaling vir sy kruidenierskuld. Dié kruidenierswinkel, genaamd A Broderick, en Gaiety Bar was in Albert se winkelkompleks, Hole-in-the-Wall, reg langs Sammy Marks se winkel op die noord-oostelike hoek van Kerkplein, waar die Eerste Nasionale Bank-gebou nou is. Die kompleks het sy naam gekry omdat die kroeg ’n oop ingangsgedeelte gehad het. Deur die gat in die muur kon jy ’n spesiale besienswaardigheid sien – die eerste aangeplante aalwyn in Pretoria. Foto: www.churchsquare.org.za

Danse

Die jolige passies wat toeka se Pretorianers uitgevoer het was nie volkspele nie. Die eerste volkspele is eers op 28 Februarie 1914 op die plaas Vuisfontein, naby Boshof, gehou. Daar is ‘n monument op dié plek opgerig. Dit het gebeur nadat Samuel Henri Pellisier met ‘n besoek aan Swede volksdanse bygewoon het en besef het dat ons geen spesifieke volksdans het nie.

Toe Pretoria nog ‘n pioniersdorpie was het die mense Boeredanse soos die kwadriel, minuet, masurka, kotiljons, lansiers, galop, Padika, wals, polka, uitskopsetties, vastrap, riel en askoek gedans. Elke distrik het ‘n dansvorm aangepas en sy eie naam gegee. Die hanekraai was ‘n gewilde wals onder die Voortrekkers; daar was ook die valsrivier, die volutawals, boerewals en landswals. Polkas het gestrek van die Berlyn-polka, Bidding-polka, Burnie-polka, draaipolka, springpolka, platvoetpolka en vingerpolka. Foto: Strange Biblioteek van Afrikana

Perderesies

Perderesies was baie gewild en die eerste renklub in Pretoria is in 1873 gestig. Die eerste perderesies is in 1874, met volle ondersteuning van President TF Burgers, gehou. In Februarie 1898 kon die Nuwe Pretoria Turfklub egter nie genoeg lede bymekaar kry sodat ‘n jaarvergadering gehou kon word nie en in April 1898 is ‘n honderesies vir die eerste keer by die renbaan aangebied.

Op 25 Mei 1899 het die klublede by ‘n vergadering in die Fountain Hotel besluit om die klub in vrywillige likwidasie te plaas. Die oud-klubsekretaris en beroepswedder JP Hess is saam met George Redpath as likwidateurs aangestel. Die volgende week het 20 Pretorianers bymekaar gekom om ‘n nuwe renklub op die been te bring. Dié keer wou hulle hom die ‘Sporting and Gimkana Club’ noem. Die Tweede Vryheidsoorlog het uitgebreek voor die klub van die grond kon kom. Die skets wys kunstenaar Melton Prior se voorstelling van die lede van die Jameson-invalsmag waar hulle by die Pretoria Renbaan aangehou is.

In die oorlog moes die klub sy bedrywighede weens ‘n gebrek aan geskikte perde opskort. In 1904 is hinderniswedrenne weer aangebied, maar die eerste wedrenbyeenkoms is eers weer in 1911 gehou.

Fountain Hotel

Die dubbelverdieping Fountain Hotel is in Januarie 1989 voltooi en daar was vir 120 gaste plek in die eetkamer. Die foto is in ’n westelike rigting geneem in Pretoriusstraat. In die voorgrond is die Union Club, wat in 1882 geopen is. Die Fountain Hotel kan verder af in die straat gesien word met sy stoep en balkon op die tweede vloer. Aan die regterkant van die foto kan ’n mens sien dat die bouwerk aan die Ou Raadsaal nog nie voltooi is nie.
Foto: Rosa Swanepoel se versameling

Sport op Kerkplein

Die heel eerste rugbywedstryd in Pretoria is op 29 Augustus 1873 op Kerkplein gespeel. Die eerste georganiseerde rugbyspan, die Pretoria Krieket en Voetbalspan, is in die 1870’s gestig en het op Kerkplein geoefen. Die eerste Suid-Afrikaanse wêreldrekord is ook op Kerkplein opgestel. Dit was in verspring deur Izak Prinsloo in 1883.

Die Pretoria Krieketklub en die Nasionale Krieketklub is in 1891 gestig en het van krag tot krag gegaan terwyl rugby agteruit gegaan het oor ‘n gebrek aan organisasie en goeie afrigters. Loftus Versveld, 1862-1932, het later in Pretoria aangekom waar hy vir Hamiltons gespeel het en die kleiner rugbyklubs begin saamsnoer het.

Dié foto van die Pretoria Krieket en Voetbalspan is in ongeveer 1879 geneem. Agter, van links na regs: J Jeppe, Bousfield, A Roberts (die kaptein wat ‘n dominee was), Henry Nourse en Stephens. Middel: JTA Shepherd, Denny Smithers, Kitwell, Higgerson, Godfray Lys, Reiner Swart en Palmer. Voor: George Davis, Jacob Swart en Hubert Juta.

Eerste foto-ateljee

Henri Ferdinand Gros het op 26 Desember 1874 die volgende advertensie in die Volkstem geplaas: “Mons. HF Gros het in Pretoria aangekom en sal binnekort sy ateljee open”. Hy het sy onderneming in die Artillerieplein agter die hofgebou op Kerkplein begin. In die Volkstem van 13 November 1875 het hy adverteer dat hy binnekort die eerste fotografiese ateljee in Pretoria gaan open. In 1877 het hy erf 376 op die suid-westelike hoek van Kerk- en Van der Waltstraat gekoop en in 1878 open hy “The South African Photographic Studio”. Dit was een van die eerste dubbelverdiepinggeboue in Pretoria. Die foto wys die verlate hoek van Kerk- en Van der Waltstraat in 1881 met die Eerste Vryheidsoorlog. Gros se ateljee is op die linkerkantse hoek. Foto: Universiteit van Pretoria

Ou Pretoria Klub

Dié groep geboue wys onder andere die Kimberley Hotel, wat in 1875 die klubgebou van die Pretoria Klub was. Die foto van die noordwestelike hoek van Kerkplein is na 1887 geneem. Heel links is die noordelike deel van die Poskantoorgebou. Die volgende drie geboue was almal op een erf wat tot in 1866 aan Kaptein Struben behoort het. Die middelste gebou met die groot stoep was oorspronklik ’n woonhuis wat later bekend gestaan het as die Commercial Chambers, gevul met kantore. Regs daarvan is ’n winkel met die Kimberly Hotel langs hom. In 1889 was J Cavanagh die hoteleienaar en M Walsh die bestuurder. Die gebou het aan dr Leyds, die staatsekretaris, behoort wat vir ’n tyd daar gewoon het. In 1891 het hy die gebou, wat toe as die Kimberley Hotel bekend gestaan het, aan die Nasionale Bank verkoop wat dit laat herbou het. Foto: Rosa Swanepoel se versameling

European Hotel

Die European Hotel was al in 1877 in werking. Sy naam was eers The Gridiron, maar die boere het so gesukkel om die naam reg uit te spreek dat eienaars Carter & Co sy naam verander het. In 1880 was RA Colquhoun die eienaar en in Oktober is aanbouings voltooi en het die hotel ’n tweede verdieping bygekry. Die hotel het bestaan uit ’n eetkamer, kroeg, leeskamers, biljartkamer, 19 slaapkamers en stalle vir 16 perde. Die hotel is later op ‘n veiling verkoop aan Vorstman & Co, maar die huurkontrak van die grond waarop die hotel gebou is, was nog tot April 1898 geldig. Die European Hotel en die eerste Goewermentsgebou is in 1888 gesloop om plek te maak vir die bou van die Raadsaal. Foto: Rosa Swanepoel se versameling

‘Volksspelen’ op Bereapark

‘Volksspelen’ het daardie dae niks met dans te doen gehad nie, maar was iets tussen atletiek, swem en boeresport. Op Paasmaandag en Hemelvaartsdag in 1889 was daar ‘Volksspelen’ op Bereapark wat deur ‘n kommissie gereël is. Hulle het ‘n arbiter, ‘n seingewer en ‘n skeidsregter aangewys en geen vrouens of jong meisies het deelgeneem nie. Van die items was hoogspring, verspring, sakresies, 100 jaarts, ‘hinken stappen’, ‘springen’, ‘n wedloop met ‘hindernissen’, wedstryd met rekstok, 160 jaarts swemwedstryd, ‘duiken’, ‘eendejagt’ en ‘boegsprietlopen’. Die kleredrag vir swem is voorgeskryf: “Alle Zwemkostuums moeten zijn in broeken tot aan de knieën en borstrokken. Iedere deelnemer die hieraan niet voldoet zal niet worden toegelate.” Die foto wys hoe baaikostuums vir mans en vrouens in die laat 1800’s gelyk het.

Grand Hotel

Die Grand Hotel is in 1890 op die suid-oostelike hoek van Kerkplein deur mev Lys laat bou. Sy naam was eers die President Hotel en HWF Burger was in 1892 die eienaar. Dit het in 1894 die Grand Hotel geword toe S Schlomer dit van Pretoria Estates Ltd gehuur het. Daar kon 70 gaste oorbly.

Die Caledonian Vereniging

Die Caledonian Vereniging van Pretoria is in 1892 gestig. Die jong mans het krieket en voetbal gespeel en die meisies kroukie. ‘n ‘Dansgeselschap’ is gestig en die dansers het elke maand ‘n groot danspartytjie in die Caledonian-saal gehou. Dit was nie vreemd om ‘n lot fietse rondom die saal te sien staan nie. Kort voor 1890 is Pretoria se eerste fietsklub gestig en lede het hulle fietse tot so ver as Wonderboom getrap.
Foto: sahistory

Eerste trein

Die foto is geneem met die eerste trein se aankoms op Pretoria-stasie in 1893. Nie baie jare ná die stasie in 1893 oopgemaak het nie, het ’n Engelse soldaat in die Tweede Vryheidsoorlog daar gesneuwel. Die bisarre deel van die verhaal is dat dié gesneuwelde soldaat se lyk aanvanklik in die afdeling waar goedere gestoor word wat nie afgehaal is nie, gehou is. Daarna is sy lyk geskuif na die verlore goedere-afdeling van die stasiegebou. Sy spook dwaal blykbaar sedertdien in die gebou rond.
Foto: Van der Waal-versameling, Tuks

Stasie Hotel

Die Stasie Hotel is in 1892 deur ’n mnr Hambourg op die hoek van Scheiding en Paul Krugerstrate, tussen die stasie en Kerkplein, gebou. Dit was binne gemaklike loopafstand vir diegene wat met swaar tasse van die stasie af moes sukkel. Vier jaar later, terwyl Lord Roberts en sy Britse troepe Pretoria geannekseer het, is dié hotel herdoop na die Victoria Hotel.

Alfie is die naam van dié hotel se ondeunde spook, wat krane oop en toedraai en chaos in die kombuis veroorsaak. Niemand weet wie Alfie was nie, maar is hy nou al dekades lank dié hotel se bekendste gas. Baie mense sien ook gereeld ’n grys dame statig teen die trappe afbeweeg terwyl die flikker van ’n kers vir ’n paar sekondes in die kloktoring skyn.

Eerste motorkar

Op 4 Januarie 1897 is ‘n bekendstelling van die eerste motor wat in Suid-Afrika aangekom het, gehou. Dié eersteling is aan president Paul Kruger, wat geweier het om in die motorkar te ry, gedemonstreer. Blykbaar het hy gesê: “Nee, dankie, netnou blaf ’n hond en dan skrik die ding en gooi my af! Hulle moet hom eers verbeter voordat ek daarin ry.”  Links staan die man wat die demonstrasierit gereël het, AE Reno, stigter en redakteur van die ‘Pretoria News’. Langs hom is die staatsekretaris van die ou Transvaalse Republiek, dr WJ Leyds, en regs is die eienaar van die motor, John Hess.

Pretoria Hotel

Die lang gebou met die stoep aan die regterkant van die foto was in 1899 die Pretoria Hotel. Sy naam het later verander na die South African Hotel. Hugh Romily Abercrombie, ’n vroeë inwoner van Pretoria, het geskryf hoe interessant dit was om in Nagmaalweek op die stoep te sit en die bedrywighede op die plein gade te slaan. Die boom is die laaste oorblywende akkerboom wat oorspronklik, net na die aanleg van Pretoria, deur Kootjie Vermeulen voor sy huis aangeplant is. Die bome was vir jare ’n landmerk in Pretoria en daar is gereeld veilings in hulle skadu gehou. Na die Tweede Engelse oorlog het die laaste boom finaal van die toneel verdwyn. Die pas voltooide Raadsaal is links op die foto. Foto: Rosa Swanepoel se versameling

Veilings

‘n Openbare veiling in die 1890’s op Kerkplein. Kerkplein is in 1855 met die bou van die eerste kerk daargestel en deur stadsbeplanners, die Devereaux broers, ontwerp. Dit klink vandag vir ons vreemd dat iemand ‘n wêreldrekord in verspring op Kerkplein kon opstel, maar die Devereaux broers het die plein vir sosiale en mark doeleindes ontwerp. En daardie dae was die plein natuurlik nie rond nie.

Oudste rolprent

Die oudste oorblywende rolprent wat in Suid-Afrika gemaak is, is in Pretoria verfilm. Die snit bestaan uit ’n paar sekondes beeldmateriaal wat wys hoe President Paul Kruger in 1898 in Kerkstraat in die staatskoets klim. Foto: Rosa Swanepoel se versameling

Dieretuin

Die plek waar die dieretuin tot stand gekom het was eers Klein Schoemansdal, Gustav Preller se geboorteplek. In die 1880’s het dit behoort aan JF Celliers wat dit ‘Rus in Urbe’ herdoop het. Die Republikeinse Regering het die plaas in 1895 vir £8,500 uit JF Celliers se boedel aangekoop om ’n dieretuin te begin. Die Jameson inval van 1895/96 het dié planne in die wiele gery. Die ou opstal het leeg gestaan en die Direkteur van Onderwys het die huis as ’n koshuis gebruik. Die res van die plaas is aan ’n kwekery verhuur. In 1899 moes die koshuisleerlinge oorlog toe gaan en die opstal het leeg gestaan, maar steeds was daar ‘n vertraging in die skuif van die diere na die perseel. Dr Jan Willem Boudewijn Gunning, direkteur van die Staatsmuseum, het inwoners naby die museum gevra om te begin kla oor die geraas en reuk van die diere in die museum se agterplaas. Hy het baie gou toestemming gekry om sy diere na die dieretuin te skuif en die eerste diere het op 21 Oktober 1899 ingetrek.
 
Eerste teater

Die eerste klankprente in ons land, Joseph Albrecht se ‘Sarie Marais’ en ‘Moedertjie’, is by die gala-opening van die Capitol-teater in Parlementstraat op 5 September 1931 vertoon. Die Capitol-teater was een van die eerste atmosferiese bioskope wat in Suid-Afrika gebou is. Die teater is in die Italiaanse Renaissance-styl ontwerp deur P Rogers Cooke, ’n bekende argitek in die dertigerjare. ’n Prominente kenmerk van die Capitol was sy ongewone ingangsportaal en die groot portaal wat toegang tot die orkesput gegee het. Vanaf die portaal het ’n reuse stel trappe opgelei na ’n wye promenade waar verversings bedien is. Met die koms van multi-bioskope in die laat 1970’s is die majestueuse Capitol-teater toegemaak. Wat oorgebly het van dié historiese gebou is later omskep in ’n parkeergarage en ‘n nagklub, wat net die ingangsportaal gebruik omdat dit die enigste deel van die gebou is wat as veilig beskou word. Foto: Marius: ‘Preserve the Capitol Theatre’

 

© 2019 Die/The Bronberger