Die beste boompie vir brandslaan PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 28 February 2013 07:49
Untitled Document

Aan die hange van die Bronberg en Magaliesberge groei daar ‘n klein boompie wat tradisioneel gebruik is om veldbrande mee te beveg. Die bloughwarrie se taai, leeragtige blare is brand-bestand en vars takke word as die ideale brandslaners gepluk.

Dié boompie is ook handig om naby te hê as jy so effe verstop voel. Sy bas en blare is gebruik om ‘n purgeermiddel te maak en ook as moetie vir diabete en vir die voorkoming van rumatiek.

‘n Aftreksel van sy wortels moet daagliks gedrink word om epilepsie te behandel. Die wortels maak ‘n donkerbruin kleurstof as dit gekook word en dit is ook gebruik om wol, matte en mandjies te kleur.
Hulle sê dat diegene wat die bloughwarrie se blare kou ‘n goeie aptyt ontwikkel. Gekoude takpuntjies het tradisioneel as tandeborsels gedien en die boom se vrugte is eetbaar.


Blomme en blare
Foto: Wikipedia

Familie
Die bloughwarrie, Euclea crispa, val in die ebbehout familie wat deur 35 spesies stadig-groeiende bome of struike in Suid-Afrika verteenwoordig word. Sy naam kom van die Griekse woord ‘eukleia’ wat glorie en roem beteken en blykbaar na die ebbehout verwys. ‘Crispa’ verwys na die gekartelde randjies van sy blare.

Dié klein tot middelslag boom word twee tot ses meter hoog en sy digte kroon word twee tot vier meter wyd. Hy is immergroen en bied dwarsdeur die jaar diep skadu in die tuin. Die bloughwarrie dra groen-wit klokkievormige blomme van Oktober tot Februarie en sy vrugte lyk soos klein swarterige druiwetrossies, wat ‘n groot verskeidenheid voëls nader lok.


Die bloughwarrie
Foto: Wikipedia

Groei
Dié boom kan nogal maklik van saad gegroei word. Onthou dat net die vroulike bome saad produseer. Maak die saad in die herfs bymekaar en verwyder die dun, vlesige omhulsels. Saai so gou as moontlik nadat jy die sade bymekaar gemaak het – hulle moet nog plomp wees en nie lig en uitgedroog nie.

Vul ‘n 10 cm diep saailingbak met ‘n mengsel van ryk grond en kompos. Bedek die saadjies met ‘n laag riviersand van omtrent 5 mm diep. Die saailingbak moet vogtig gehou word, maar nooit nat nie.
Plant die saailinge oor as hulle die twee-blaar stadium bereik. Die boompies groei baie stadig en moet vir die eerste twee jaar teen sterk wind en ryp beskerm word.

 

© 2019 Die/The Bronberger