Afsterwe van Jan Ellis laat leemte in gemeenskap Print E-mail
News - Ons Mense
Thursday, 28 February 2013 07:39
Untitled Document

Die afsterwe van legendariese Springbokflank, Jan Ellis, laat ‘n groot leemte in die Bronberg-gemeenskap waar hy die afgelope 27 jaar gewoon en gewerskaf het.

Jan Henrik Ellis is op Vrydag 8 Februarie in ‘n Pretoriase hospitium in die ouderdom van 71 aan beenkanker oorlede.


Lofty Nel (links) en Frik du Preez (middel), twee Springbok-spanmaats van Jan Ellis op die toer van 1965 in Australasië, het dié Springbok-losvoorspeler se begrafnis op 15 Februarie op Cullinan bygewoon. Hier is Lofty en Frik saam met Herman le Roux, Nasionale Pers se rugbyskrywer op daardie toer, op die begrafnis

In die lewe het Jan sy eie afslaersaak, ’n winkelkompleks sowel as ’n vulstasie op sy Kaalfontein-hoewe gevestig. Vendusies op Saterdae by Jan Ellis het ‘n bykanse instelling by die gemeenskap geword.

In ‘n 2009 artikel in Die Bronberger het Jan vertel dat die rede hoekom hy ’n landelike vendusie begin aanbied het, is omdat hy altyd met mense gewerk het. “So het ek groot geword, en so gaan ek aan. Hier was ’n vendusietjie waar ek moes uithelp as afslaer, alhoewel ek nie gedink het ek sal ’n afslaer word nie,” het hy toe gesê.


Jan Ellis, die Springbokflank, in sy speeldae

Hy het die werk geniet en ’n kursus as afslaer suksesvol voltooi. Toe Jan die vendusie oorgevat het, was daar so tien mense op ’n Saterdag. Deesdae stroom die mense na dié gewilde vendusies, wat deur sy gesin voortgesit word.

Sy vulstasie naby die Rayton/Bapsfontein-kruising op die ou Bronkhorstspruitpad word bedryf deur sy dogter, Petro Olivier.


Jan Ellis, die afslaer, soos mense van die Bronberg-gebied hom leer ken het. Die foto is in Januarie 2009 geneem

Jan Ellis het sy toetsdebuut as Springbokflank op 23 jarige ouderdom gemaak. Dit was in ’n wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks in Wellington, in Julie 1964. Die laaste toets wat hy gespeel het was ook teen New Zealand, in Julie 1974 in Durban op 34-jarige ouderdom. Jan het 38 keer vir die Springbokke uitgedraf teen Australië, New Zealand, Frankryk, die Britse Eilande en Ierland.
 

© 2024 Die/The Bronberger