Die ‘Swart Luiperd’ is nie ‘n naam wat ooit in skole se geskiedenisboeke verskyn het nie. Tog was dit die kode-naam van ‘n sjarmante spioen wat Lord Kitchener, die argitek van konsentrasiekampe en die verskroeide aarde-beleid, se dood veroorsaak het.
Die ‘Swart Luiperd’ was ‘n Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, makelaar, saboteur, avonturier en was baie gewild onder die vroue. Hy kon sewe tale praat en het ook bekend gestaan as: Boris Zakrevsky, toe hy die identiteit van 'n werklike Russiese Graaf aangeneem het, kaptein Claude Stoughton, Frederick Fredericks, majoor Frederick Craven, kolonel Beza, Piet Niacud en het die kodenaam Dunn onder Duitsers gehad.
Sy regte naam was Frederick (Fritz) Joubert Duquesne, gebore op 21 September 1877. Fritz se ma was generaal Piet Joubert se suster en sy pa ‘n boer wat ‘n direkte afstammeling van die Franse Admiraal Abraham Duquesne was. ‘n Mens spreek die van ‘doekein’ uit.
Fritz het op sy pa se plaas in die Nylstroom-distrik grootgeword en is op 17-jarige ouderdom na London om te studeer. Daarna het hy by ‘n militêre universiteit in Brussels studeer en bekend geword as die beste swaardvegter in die hele Europa.
Kaptein Fritz Duquesne, Boere-weermagfoto, 1900
Foto: Wikipedia |
Fritz in die Tweede Vryheidsoorlog-tydperk
Foto: Wikipedia |
Oorlog
Toe die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 uitbreek, het hy teruggekeer om by sy oom, generaal Piet Joubert, se kommando aan te sluit. Dit is in dié oorlog waar Fritz se merkwaardige ontsnappingsvermoë na vore begin kom het.
By die slag van Colenso is hy deur die Britte gevang maar het ontsnap, net om weer gevang te word en Durban toe gestuur te word waar hy weereens ontsnap het voor die krygverhoor kon plaasvind.
Fritz het weer by die Boeremagte aangesluit en met die slag van Bergendal moes hulle terugval na Mosambiek waar Fritz deur die Portugese gevang is en na 'n interneringskamp in Caldas da Rainha naby Lissabon gestuur is. Daar het hy die tronkbewaarder se dogter verlei en sy het hom gehelp om te ontsnap en Parys toe te vlug. Dit was allermins die laaste keer wat ‘n vrou by Fritz se ontsnappings betrokke was.
Van Parys af is Fritz na Aldershot in Engeland om, van alle dinge, by die Britse magte aan te sluit in ‘n poging om anoniem terug te kom huis toe. Hy word vinnig as offisier bevorder en in 1901 stuur hulle hom na die oorlog in Suid-Afrika.
Fritz het ‘n draai op sy familie-plaas naby Nylstroom gaan maak, en groot was sy skok toe hy vind dat die plaas afgebrand is, sy suster verkrag en vermoor is en sy ma sterwend in ‘n konsentrasiekamp in Germiston was. Dit is net hier wat Fritz homself belowe het dat hy die man wat dié verskroeide aardebeleid ingestel het, Lord Kitchener, eendag sal laat betaal. Dit het hom 15 jaar geneem om reg te kry.
Fritz as ‘Kaptein Claude Stoughton’ van die Wes-Australiese Ligte Berede-regiment
Foto: Wikipedia
Spioen
As Britse offisier het Fritz inligting aan die Boeremagte deurgegee en sy kodenaam onder die Boere was die ‘Swart Luiperd’. Hy is na Kaapstad verplaas waar hy besluit het om strategiese Britse instellings te saboteer. Fritz het 20 manne gewerf, maar sy planne is in die wiele gery toe een van dié mans se vrou vir die Britte van die komplot vertel het. Dit was ook nie die laaste keer wat Fritz deur ‘n vrou verraai sal word nie.
Die Britte het vir Fritz gesê dat hy die doodstraf kan vryspring as hy die Boere se geheime militêre kodes sal ontleed. Hy maak toe asof hy die Boere-kodes ontleed, maar gee valse inligting vir die Britte. Die ander lede van sy span is deur 'n vuurpeloton tereggestel, terwyl Fritz lewenslange tronkstraf gekry het.
Fritz was in die Kasteel die Goeie Hoop opgesluit en het ‘n tonnel met ‘n lepel begin uitgrou waardeur hy sou ontsnap het, as dit nie was vir ‘n groot steen wat meegegee het en hom in sy tonnel vasgepen het nie. Hy is toe saam met die Boerekrygsgevangenes na Bermuda gestuur, waar hy hom as ‘n Amerikaner voorgedoen het.
Knap na die Vrede van Vereeniging in 1902 het Fritz uit Bermuda ontsnap, met die hulp van nog ‘n vrou, Anna Maria Outerbridge, en het in New York beland waar hy as joernalis begin werk het en as grootwildjagter met president Theodore Roosevelt bevriend geraak het.
Fritz was vir ‘n kort rukkie rondom 1913 met
Alice Wortley getroud
Foto: Wikipedia |
Fritz Duquesne, 1913
Foto: Wikipedia
. |
Joernalis
Fritz was vlot in ‘n verskeidenheid tale – Afrikaans, Nederlands, Engels, Frans, Duits, Portugees en selfs Russies – en die koerant het hom gestuur om verslag te lewer oor die Russies-Japannese oorlog en die Riffynse Opstand in Marokko. Dit was in ongeveer dié tyd wat hy vir Alice Wortley ontmoet het en met haar getrou het. Hulle is blykbaar redelik gou weer geskei.
In die tydperk wat volg, was Fritz bedrywig onder vals name. Hy het as ‘Kaptein Claude Stoughton’ van die Wes-Australiese Ligte Berederegiment in Australië verskyn waar hy lesings oor oorloë aangebied het.
As die wetenskaplike ‘Frederick Fredericks’ het hy in die Eerste Wêreldoorlog in Brasilië opgedaag, oënskynlik om rubberbome te bestudeer. Wat hy egter gedoen het, was om tydbomme, vermom as mineraalmonsters, op die Britse skepe te plant. Hy het meer as 20 Britse skepe so vernietig.
In 1916 het hy ‘n berig in ’n Britse koerant geplaas wat sê dat Fritz Duquesne deur die Amasone Indiane in Bolivia vermoor is. In dié stadium was hy reeds ‘n Duitse spioen.
FBI-lêerfoto
Foto: Wikipedia
Kitchener
As die Russiese ‘Graaf Boris Zakrefski’ het Fritz na Engeland vertrek en by Kitchener in Skotland aangesluit. Hy het saam met Kitchener aan boord die HMS Hampshire na Rusland gevaar. Op dié vaart het hy vir ‘n Duitse duikboot ’n aanvalsein gestuur en net voor die torpedo-aanval, het Fritz die skip met ‘n reddingsbootjie verlaat.
Die HMS Hampshire het gesink en dit was die einde van Kitchener. Hiervoor het Frits die Ysterkruis vir dapperheid by Keiser Wilhelm ontvang.
Terug in New York is Fritz op 17 November 1917 gearresteer op aanklagtes van versekeringsbedrog vir “mineraalmonsters wat hy verloor het” met die skepe wat aan die Brasiliaanse kus gesink het. Die Britte het besef wie hy is en die Amerikaanse owerhede het ingestem om Fritz uit te lewer indien die Britte hom daarna sou terug stuur vir tronkstraf vir bedrog.
Terwyl Fritz gewag het om oorgelewer te word aan Brittanje, het hy gemaak of hy verlam is, en is na die gevangenesaal by Bellevue Hospitaal gestuur. Hier het hy uiteindelik ontsnap deur hom as ‘n vrou te vermom.
Fritz in ‘n uniform met dekorasies van Duitsland, Oostenryk, Turkye en Bulgarye
Foto: Wikipedia
Skuilname
As die ‘afgetrede Britse majoor Frederick Craven’ het Fritz ‘n jaar later in Boston opgedaag en as vryskut joernalis en agent vir Joseph P Kennedy se rolprentvervaardigingsagentskap begin werk. Hy het ook saam met Clement Wood aan sy biografie, ‘Die man wat Kitchener se dood veroorsaak het’ gewerk.
In dié tydperk het hy verskeie ander skuilname, soos Kolonel Beza en Piet Niacud, gebruik. Fritz is in 1932 deur ‘n vrou aan die FBI verraai en sou weer aan Brittanje uitgelewer word, maar in die hofsaak het die regter bevind dat die wet van beperkings reeds verval het.
Met die Tweede Wêreldoorlog is Fritz en die 33 lede van sy Duquesne Spioenasiesindikaat deur die FBI gearresteer op aanklagte dat hulle geheime inligting omtrent Geallieerde wapentuig en skeepsbewegings aan Duitsland gelek het.
Op 2 Januarie 1942 is die hele Duquesne Spioenasiesindikaat tot meer as 300 jaar tronkstraf gevonnis. Dit was die grootste spioenasiesindikaatskuldigbevinding in die geskiedenis van die VSA.
Die 33 beskuldigde lede van die Duquesne Spioenasiesindikaat (FBI-druk)
Foto: Wikipedia
Wraak
Met sy verhoor het Fritz gesê dat sy spioenasiewerk teen Brittanje wraak was vir die misdade wat die Britte in die Tweede Vryheidsoorlog teen die Boere gepleeg het.
Die 64-jarige Fritz het sy vonnis in die Leavenworth Federale Strafgevangenis in Kansas uitgedien. Nadat hy 13 jaar van sy vonnis uitgedien het, is hy in 1954 weens siekte vrygelaat. Hy het op 24 Mei 1956 in die ouderdom van 78 jaar as hulpbehoewende op Welsynseiland, nou Roosevelteiland, gesterf.
Die 1945-rolprent ‘The House on 92nd Street’ is op die Duquesne Spioenasiesindikaat-sage van 1941 gebaseer. In 1999 is ‘n dokumentêre film oor Fritz se lewe deur Suid-Afrikaanse rolprentmaker, Francois Venter, gemaak. Dit het ses Stone-toekennings gewen. |