Inwoners keelvol vir Mooikloofrif se rou riool PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 29 January 2013 15:44
Untitled Document

Die riool-‘damme’ rondom Mooikloofrif is vol, rou riool loop weer langs Garstfonteinweg-verlenging af in die Zwavelpoortspruit in en gemoedere loop hoog. Ontstoke inwoners rondom dié stinkspul oorweeg dit om die reg in eie hande te neem om riool binne Mooikloofrif se mure te hou.

Volgens Mooikloofrif se landgoedbestuurder, Theo van Rensen, loop die rioolpompstasie nie nou oor nie. Hy sê hy is nie seker waar die riool-‘damme’ vandaan kom nie, maar vermoed dit het te doen met die stootskraper wat in November verlede jaar uit die bloute uit grond teen Mooikloofrif se muur gestoot het. Hy weet nie wie die stootskraper gestuur het nie.


Die riool-‘dam’ langs Garstfonteinweg-verlenging
Foto’s: Marinus Lindhout

In Julie verlede jaar het ons berig dat niemand – nie die landgoed, ontwikkelaars of Tshwane Metroraad – verantwoordelikheid vir die rioolprobleem aanvaar nie. Theo van Rensen het toe gesê dat dié pompstasie op ‘n servituut gebou is en dus nie Mooikloofrif se verantwoordelikheid is nie, alhoewel hulle aanhou om die pompe reg te maak.

Volgens munisipale amptenare het die landgoed se ontwikkelaars, M&T, destyds nooit die pompstasie aan Kungwini oorhandig nie en pogings om dié probleem uit die weg te ruim duur al jare voort. Theo sê dat Mooikloofrif-landgoed se prokureurs met die saak besig is.

Inwoners in die gebied rondom Mooikloofrif neem foto’s om te wys dat die riool-pompstasie steeds oorloop. Hulle meen dat die probleem die landgoedbestuur se skuld is en wonder of hulle nie dalk self die dreineringsgate in Mooikloofrif se muur moet toemaak nie, sodat al die riool binne-in die kompleks kan bly. Inwoners sê dat die landgoed dan dalk vinniger ‘n plan met die pompstasie sal maak.


Die grondhope wat verlede jaar langs Mooikloofrif se muur gestoot is

Skuld
Volgens raadslid Lex Middelberg van wyk 91 is elke geval waar riool die omgewing benadeel die stadsraad se skuld omdat die raad een van sy hooftake in die hande van inwoners laat. Lex sê dat Mooikloofrif nie die enigste landgoedontwikkeling in die omgewing is wat ‘n riool-probleem het nie.

Hy sê dit is ‘n fundamentele plig van enige munisipaliteit om voldoende riool- en vullisverwydering daar te stel om ‘n gesonde en higiëniese omgewing vir inwoners daar te stel.

Lex het op 15 Januarie ‘n vergadering met Mooikloofrif se landgoedbestuur gehad om ‘n langtermyn oplossing vir die rioolprobleem te bespreek en om opsies om die rioolstelsel ‘n prioriteit in die metroraad se geïntegreerde ontwikkelingsplan te maak, te bespreek.

Volgens Lex het vorige versoeke aan die metroraad se beplanningsdepartement om die rioolprobleme in wyk 91 ‘n prioriteit in die raad se ontwikkelingsplan te maak, nie in die laaste beplanningsiklus enige sukses behaal nie. Hy twyfel of dit in die huidige siklus sal verander.


Riool-opdamming in die veld langs Mooikloofrif

Kungwini
Volgens Lex is die rioolprobleme die nalatenskap van die destydse Kungwini-raad. Hy sê dat Kungwini se stads- en streeksbeplanning-afdeling destyds gefaal het om op voldoende rioolstelsels aan te dring en dat sekere ontwikkelaars en streeksbeplanners voordeel getrek het daaruit.

Hy sê dat ‘n aantal residensiële komplekse in dié gebied beplan, en deur Kungwini goedgekeur is, om riool met die hulp van self-help pakket-aanlegte op die perseel self te verwerk.

In ander gevalle, soos by Mooikloofrif, is die rioolverwydering aan Tshwane se stelsel verbind, maar dit beteken dat ‘n gedeelte van die landgoed se riool teen ‘n steil bult opgepomp moet word om by die munisipale stelsel aan te sluit.  


Die riool loop deur die tralie-gapings in Mooikloofrif se muur uit

Krag
Met kragonderbrekings, wat die afgelope twee maande baie gereeld in dié gebied gebeur en vir lang tydperke aanhou, is dit onmoontlik vir die rioolstelsel om te werk en beland rou riool in die omgewing en spoel in die Zwavelpoortspruit af.

Lex sê dat dié besoedeling van die omgewing die direkte resultaat is van die feit dat die metroraad nie verantwoordelikheid vir sy wetlike verpligtinge aanvaar nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger