Goeie garnale op ?n saai stoep PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 29 January 2013 15:36
Untitled Document

Met die ou jaar op sy rug en die vakansie in die verskiet in, kry ek myself so half jammer oor ek al weer nie by die bloudam gedraai het nie. Ek kon my weer nie aan die varsgevangde garnale van Mosambiek se mooi waters, of aan die kouewater-oesters van die Weskus vergryp nie. (Garnale is Afrikaanse ‘prawns’, ou Steve.)

Daarom sit ons op ‘n mooi Sondag af Tsunami toe. Tsunami is ‘n seekosplek met ‘n geskiedenis wat by die Hazeldean koopsentrum oopgemaak het. Ek het hom raakgegoegel toe ek besluit het ek sal, as ‘n vertroosting vir die seevakansie wat nie was nie, vars oesters en garnale iewers loop eet.

Hulle noem dié Tsunami ‘n ‘seafood emporium’ en dit het vir my groot en belangrik genoeg geklink om te glo dat my wildste hunkering na seekos aldaar gestil sou kon word.


Deel van die saai stoep wat vier eetplekke huisves

Ons neem plaas by ‘n baie basiese tafeltjie op ‘n baie groot stoep met ‘n totale gebrek aan dekor, styl of atmosfeer. Later vind ons by die behulpsame, maar erg oorbelaste kelner, uit dat die stoep deur vier restaurante gedeel word. Hier, dink ek toe in my binneste, is ‘n voorbeeld van oorgrens-samewerking en détente wat vir die ou wêreld as voorbeeld kan dien:

Want neffens mekaar ingeryg op dié saai stoep sit restaurante wat hulleself uitgee as Noord-Indies, Italiaans, Oosters (Oriental) en op die punt oos van hulle, ‘n seekos ‘emporium’ met ‘n Mosambiekse, Japanse en Suid-Afrikaanse ‘invloed’. Merkwaardiger nog, as jy in ag neem dat drie van dié eetplekke aan ‘n enkele Sjinees behoort.

Die afskortings van seil en plastiek is tussen die kuierplekke opgerol sodat die windjie ‘n kans kan kry om oor landsgrense heen, die hetige son te versmaai. Die hitte verskerp my maandelange smagting na vars oesters op ys – een van die vier oesterkeuses wat Tsunami se indrukwekkende spyskaart bied.

En dan bedien die besige kelner my met die eerste gatslaggie van die dag: Hy wil net, voor ons bestel, meld dat hulle vandag geen salm, geen ‘spring rolls’, geen kreef en geen oesters het nie.


Ek het al groter koning-garnale gekry, maar nie baie wat smaakliker is nie

Hulle het wel ‘prawns’. ‘Prawns’ met die titels ‘queen’, ‘king’ en ‘super king’. En dit kom glo uit Mosambiek se mooi waters uit. Hulle het veral ook ‘n uitgebreide Sushi-spyskaart, wat my betref vir ouens wat nie baie honger is nie, en hulle bied ‘n keuse van hoender, en biefstuk en vegetariese disse en kombinasies daarvan aan. Alles redelik duur, dog nie buitensporig nie.

Metgesel bestel ‘n ‘Mosambiekse kerrie-‘prawn’-potjie teen R92.95 met groente apart teen R18.95. Haar halfglasie Pinotage kos R36. Dis ‘geelkerrie’ en dit geval haar, Baie lekker, sê sy. Die groente is van die amper-rou-geroer-en-net-skrikgemaak soort, maar sommige mense hou werklik daarvan en Metgesel is een van hulle.

Agt koning-garnale kos R128.25 by die Tsunami in Hazeldean. Ek het al groter konings op ‘n bord gekry, maar nog nie veel smaakliker nie. Hulle braai die lekkernye op die oopvlam of roosterpan en hulle weet hoe. Dit kom saam met drie sousies, suurlemoen-botter, knoffelbotter en peri-peri – jy-besluit-self – eenkant. Ek het gangbare rys daarmee saam bestel en al drie sousies beproef. Goeie sousies.

My oorhoofse indruk? ‘n Kindervriendelike plek waar die avontuurlustige dalk met die blote skuif van ‘n paar meter, van voorgereg tot nagereg oor vier landsgrense heen kan beweeg. ‘n Plek met goeie, smaaklike garnale, ‘n wye keuse van visgeregte, vriendelike, dog oorwerkte kelners, smaaklike kerrie en geen atmosfeer nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger