Verval van begraafplaas kwel inwoners PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 29 January 2013 15:28
Untitled Document

Rayton se inwoners is op hulle agterpote oor die verwaarlosing van die dorp se begraafplaas. Weinig of geen instandhouding word deur Tshwane se metro gedoen nie en lang gras, bossies en bourommel het die laaste rusplek van geliefdes ingeneem.

Klagtes van inwoners het oor ‘n lang tydperk geen reaksie van Tswane uitgelok nie. Planne word nou beraam om ‘n beswaarskrif oor die toestand van die begraafplaas aan die raad te oorhandig.


Twee werkers by Rayton se begraafplaas besig met hulle dagtaak

Volgens Rayton se enigste begrafnisondernemer, Marian Erasmus, sukkel hulle sedert 2008 met die instandhouding van die begraafplaas. Sy en ‘n klompie vriende het probeer om die grafte skoon en netjies te hou, maar dit is volgens haar ‘n onmoontlike taak vir net ‘n paar mense.

“Ek as begrafnisondernemer skaam my vir my eie dorp se begraafplaas,” sê Marian.


Lang gras en bossies het Rayton se begraafplaas ingeneem

Wat Marian verder grief, is dat die koste vir die aankoop van ‘n graf sedert 2008 bykans verdubbel het en wat veral kommerwekkend is, is dat die werkers nou vir families geld vra voor hulle bereid is om grafte toe te gooi.

Met Die Bronberger se eerste besoek aan die begraafplaas, teen 10 uur op ‘n werksoggend, het agt werkers in die koelte teen die heining gesit en gelê. Ons het ‘n man, wat gelyk het of hy moontlik die opsigter kon wees, gevra of dié mense dalk daar is om die terrein skoon te maak. Sy antwoord was: “Piek en fôshol,” wat bes moontlik daarop gedui het dat hulle grafgrawers is.


Inwoners is keelvol vir die verwaarlosing van die begraafplaas

Toe ons teen die middag 2.30 weer begraafplaas toe is het ons ses van die werkers langs die pad gekry, blykbaar op pad huis toe. Net twee het in die koelterusplek agtergebly – een op ‘n gemaklike kantoorstoel met ‘n koerant in die hande en een plat op sy rug in ‘n kruiwa. Ons het foto’s geneem en is terstond deur die een met die koerant gedreig met sy ‘lawyer.’

‘n Woordvoerder van die metroraad het aan Die Bronberger gesê sy sal “ingaan op die saak” van die verwaarloosde begraafplaas en het dit glo aan die ‘verantwoordelike’ persoon oorgedra. Ons het egter na etlike e-posboodskappe, telefoonoproepe en teksboodskappe oor die tydperk van ‘n volle werkweek nie die beloofde kommentaar van die ‘verantwoordelike persoon’ gekry nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger