Voorneme-idees vir ons metro Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 29 January 2013 17:23
Untitled Document

As die metroraad van Tshwane dalk effe lig trek aan Nuwejaarsvoorneme-idees vir 2013, help ons graag met net ‘n paar van baie eenvoudige en haalbare voorstelle. Ons sal konsentreer op die metro se nuwe ‘baba’ – die Bronberg-gebied:

  • Ons gaan in 2013 iemand of iets verantwoordelik hou, of self verantwoordelikheid aanvaar vir die sieslike gemors wat jare reeds uit Mooikloofrif se rioolstelsel vrylik langs ons paaie af en in ons spruite in vloei. Ons, die metroraad, nou ook belas met die Bronberg, sal sorg dat die dinges finaal uit die drinkwater verwyder word.
  • Vanjaar sal ons sorg dat iets gedoen word aan die swak infrastruktuur of die totale gebrek daaraan in dele van ons nuutste gebied. Ons sal byvoorbeeld die brouwerk wat gemaak is met die teer van sommige landelike paaie, regmaak en vir eens en vir altyd verbindingsweë soos Tierpoort se berugte ‘gatpad’ ordentlik teer.
  • Dit is ons voorneme om iets (enigiets) te doen aan die wit olifant wat Kungwini ten duurste as munisipale kantore in Shere opgerig het en wat nou jare reeds as monument vir onbekwaamheid, korrupsie en verkwisting, leegstaan. Ons sal die ding gebruik, verhuur of verkoop – al is dit ook vir bourommel.
  • Die gevaarlike kruisings wat die Boschkop-teerpad met Lynnwoodweg-verlenging en die Zwavelpoortse koopsentrum vorm, sal met verkeersligte of vierrigting-stoptekens beveilig word.
  • Aandag sal gegee word aan Rayton se begraafplaas om dit weer te verander van ‘n lang-gras-en-bossieveld-en-bourommelwerf, wat dit jare reeds is, na ‘n waardige rusplek vir die afgestorwe geliefdes van die mense wat getrou vir ons belasting betaal.
  • Ons sal ‘n eenvoudige oplossing in werking stel om ‘n stokkie te steek voor die honderde ekstra-swaar vragmotors wat daagliks deur Cullinan se middedorp beweeg en sodoende ‘n wurggreep plaas op die ontwikkeling van toerisme. Bordjies sal by die ingange na die dorpie opgerig word wat voertuie van swaarder as vyf ton deurgang sal verbied.
  • Bewaringsgebiede en natuurreservate sal nie voor ontwikkelingsdruk swik nie. Ons sal nie toelaat dat belaglike aansoeke soos sokkerstadions in natuurskatte soos die Rietvleireservaat eers oorweeg word nie.

Net ‘n paar van baie voornemens waaraan gedink kan word om die jaar vir die gebied se inwoners voorspoediger te maak.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger