Lamskerrie staan in die sterre Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 19 December 2012 09:04
Untitled Document

Lamskerrie staan in die sterre

Vreethans van Heerden en Met gesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Noord van die Magaliesberg in Baviaanspoortweg, net voor dit Zambezi word, is ‘n plekkie langs die pad wat hulle Padlangs noem. Op ‘n onlangse koel Sondag draai ons af en neem plaas op Padlangs se stoep.

Die stoep is ruim en bied ‘n oop uitsig op die doen en late van die besoekers (van erg uiteenlopende aard) aan die koopsentrumpie. Die binnekamer is pragtig saamgesit met ampers antieke eetkamerstelle en ander oudhede.

Omdat dit ongewoon koel is vir ‘n Novemberdag, het ek in die voertuig al vir Metgesel meegedeel dat dit net die dag vir ‘n winterkossie is – iets soos lamkerrie. En jou werklik, op die omvangryke spyskaart onder tradisionele geregte sien ek hom. Maar dis ‘n storetjie op sy eie, wat ek nou sal vertel.

Ongewoon en verfrissend welkom, is die feit dat die spyskaart in Afrikaans is. Duidelik is die eienaar deeglik daarvan bewus wie die grootste gros van sy klante is. Die slakke teen R24,95 en bief trincado teen R40. 95 is twee van die items wat onder die hofie, ‘Voorgeregte’ gelys is.


Tannie Elsa se hoenderpastei

Vir ontbyt kan jy omelette teen R19.95 bestel en dan verskillende vulsels teen ‘n ietsie ekstra bysit. Die boere-ontbyt is met kaiings en stywepap en die slagtersontbyt bied ‘steak’ en boerewors saam met die eiers en spek. Dit kos R59.95.

Onder ‘braaibroodjies’ is ‘n redelike verskeidenheid van iewers hier in die R30 of jy kan koue of warm oop broodjies nuttig. Die spyskaart meld dat dit Portugese brood is waarvan die duurste een met rump, uie, kaas en sampioene inweeg teen R47,95.

Die Rolls Royce onder die hamburgers noem hulle ‘n ‘boerseun burger’ wat twee groot tuisgemaakte frikkadelle met ‘n tamatie-en-uiesous bevat. Dit kos R59.95. Padlangs spog daarmee dat jy nie sommer ‘n groter en beter plat frikkadel sal kry nie. Dieselfde mense wat die kuierplek bedryf, het ook die bekende slaghuis in die sentrum en dis nie vreemd dat die plek ‘groot’ op vleis is nie.

Die braaigeregte word op die einste stoep na jou smaak voorberei en bestaan uit die gewone snitte van biefstuk, tjops van lam en vark, en ribbes. Wat minder algemeen is, is die gerookte T-been en ‘n 350 g snit van tjak wat hulle Chuck Norris noem. Ek dink min mense besef welke wonderlike, smaaklike braaivleis die beskeie tjak maak.

Maar ek en Metgesel konsentreer op die tradisionele geregte. Almal, só sê die spyskaart, is na die oorspronklike resepte van Tannie Elsa voorberei.


Die mooi binnekamer van Padlangs

En dis net daar wat ek my oorspronklike besluit van lamkerrie verander. Want ek sien ‘n beesstert in Padlangs se spesiale sous gedoen en ek het te lanklaas ‘n ordentlike beesstert geniet. Ek bestel die stert saam met kapokaartappels en groente van die dag. Dit kos dieselfde as die lamskerrie – R89,95.
Metgesel besluit op die hoenderpastei en sê vir die kelner sy gee nie om om vir 30 minute te wag dat die tuisgemaakte skilferkors bros bak nie.

Die wag was lekker ontspanne oor drankies en goeie geselskap daar op Padlangs se stoep, maar toe die bestelling opdaag, kry ek ‘n aardige verassing. Dis die lamkerrie waarna ek in die kar verlang het en nie die beesstert wat ek bestel het nie, wat voor my neergesit word.

“Dis seker in die sterre dat jy vandag lamkerrie moet eet,” sê Metgesel. Toe ek die kelner op die ligte foutjie wys sê sy so ewe: “Oeps.” En toe ek na haar naamplaatjie kyk, begin ek ook half in die sterrestaan-ding glo: Surprise, staan daar geskrywe.

Ek volstaan toe maar by die kerrie want die eerste wag was 40 minute en nog wag sou met my middagslapie inmeng. Die lamkerrie was regtig lekker. Skenkels sag deurgedoen in ‘n smaaklike, dog nie te skerp nie, geurigheid.

Later sou Surprise vir nog ‘n verrassingtjie sorg toe sy die wynbestelling agterweë los om blykbaar met die braaiery te loop help. Ek het ná ‘n vrugtelose gewag die glasies half vergete op die kroegtoonbank opgespoor.

Tannie Elsa se hoenderpastei is ‘n potpastei waaraan ‘n paar mense sal kan weglê sonder om afgeskeep te voel. Metgesel het dit so reg na haar smaak gevind. Dit kos R55.95.

 

© 2020 Die/The Bronberger