Mister ?muis? word Koning van Harte-wenner PDF Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 19 December 2012 09:03
Untitled Document

‘n Muis van ‘n perdjie waarvoor niemand enige hoop gehad het nie, het die Gauteng Noord ‘Koning van Harte’ trofee gewen.

DesignBiologix Hail Mister en Lara Keeling van Liberty Stalle het dié trofee op Gauteng Noord se algemene jaarvergadering op 23 November in die Werkende Perd van die Jaar kategorie gewen.

Juanita Jamneck van Liberty Stalle vertel dat hulle Mister as 'n driejarige van die renbaan af gekry het. Niemand het enige hoop vir hom gehad nie omdat hy onderontwikkel was en baie kleiner as die meeste ander volbloed perde was. Mister was deel van 'n pakket en is saam met 'n ander perd verkoop.

Juanita sê dat hulle hom uit jammerhartigheid gehou het, maar dat niemand by Liberty veel van hom verwag het nie. Aanvanklik wou niemand ook met hom werk nie, omdat hy nie 'n vriendelike soort outjie is nie en ook nie maklik is om te vervoer nie.


Lara Keeling en DesignBiologix Hail Mister in die werkende jagperd kategorie by die Gauteng Noord Junior Laer Interstreek Skouklasse
Foto: Tamara Blake Images

Lara Keeling het haar egter oor hom ontferm en sy springtalent ontdek. DesignBiologix, ‘n maatskappy wat entstowwe vervaardig, het besluit om as Mister en Lara se borg in te tree en hulle het sy eienaarskap oorgeneem.

Sedertdien het die kombinasie van krag tot krag gegaan. Mister is nou ses jaar oud en terwyl hy by gegradeerde skoue in die 0.90 m klasse deelneem, het hy onlangs by Liberty se pretskou sonder 'n probleem 1.25 m gespring. Baie word nog van Mister in die toekoms verwag.

Lara en Mister het onlangs die eerste plek in die werkende jagperd-klas by die Gauteng Noord Junior Laer Interstreek Skouklasse gekry. Liberty ruiters het drie van die vyf ruiters in dié skouklas-span uitgemaak. Regardt Malan en Amajuba het in die skou jagperd klas gery, en Elisbé Kruger en Alacrity het in die skou spogperdklas gery.

Een van Liberty se volwasse ruiters, Christelle King en Lakeland, het ook 'n werkende jagperd kampioenskap by 'n streekskou gewen. Al Liberty se skoolgaande ruiters het vanjaar op nasionale vlak aan die SAEA skole skoue in verskeie dissiplines deelgeneem waar hulle baie goed gevaar het.

 

© 2019 Die/The Bronberger