Padwerke op ou Bronkiepad lok misdadigers PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 19 December 2012 07:02
Untitled Document

Gryp-diewe gebruik die stop-ry punte by padwerke aan die ou Bronkhorstspruitpad (R104) om waardevolle items uit voertuie te steel. Dié padwerke gaan nog tot Mei volgende jaar aan die gang wees.

Die Boschkop Polisiestasie het laat weet dat motoriste bedag moet wees vir gryp-diewe by die stop-ry beheerpunte op dié pad. Volgens die polisie word motors se passasiersruite daar stukkend geslaan en word skootrekenaars, selfone en handsakke uit die voertuie gesteel. Die voorvalle gebeur veral in die aand waar daar net een insittende in die voertuig is.

Motor-kapings en gewapende roof het die afgelope maande ook toegeneem langs dié pad. Die polisie waarsku dat mense voertuie probeer stop deur te maak of hulle in die moeilikheid is. Die digte bosse langs die pad maak dit maklik vir kriminele om weg te kruip en gou te ontsnap. Mense word aangeraai om glad nie langs dié pad te stop om iemand te help as jy hom/haar nie ken nie.

Mei
Jay Juganan van Concor Roads & Earthworks, ‘n filiaalmaatskappy van Murray & Roberts Konstruksie, sê dat die 18-maande lange rehabilitasieprojek volgens skedule verloop en op die teikendatum van 1 Mei sal klaarmaak ten spyte van die landwye tekort aan sekere padteer-bestanddele.

Daar word aan die ou Bronkhorstspruitpad gewerk vanaf sy kruising met Simon Vermooten-rylaan tot binne-in Bronkhorstspruit. Dié alternatiewe roete tot the N4-tolpad, wat parallel aan die tolpad loop, is 42 km lank en is ongeveer 60 jaar gelede gebou.

Die pad bly ‘n enkelbaan pad, maar gaan nou 13,4 meter wyd wees, insluitende die padskouer en -reserwe.


Padwerke aan die ou Bronkhorstspruitpad duur voort tot die teikendatum van 1 Mei volgende jaar
Foto: engineeringnews

Projek
‘n Totaal van 140 mense word deur die projek in diens geneem. Lede van die plaaslike gemeenskap word gebruik om dreineringspunte langs die roete te bou en om die padmerke aan te bring.

Die projek gebruik 17 000 ton padteer (asfalt), nege miljoen liters aardpik (bitumen) emulsie, 1,2 miljoen liter van 80/100 pen aardpik, 85 000 m³ plaaslike G2 aggregaat, 45 000 m³ plaaslike G5 aggregaat, 8 000 m³ verseëlingsklip, drie duisend ton sement vir stabilisasie en agt duisend kiloliters water van ‘n kommersiële bron.

 

© 2019 Die/The Bronberger