?n Kragtoertjie in produktiwiteit PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 19 June 2008 23:46

Bo van die berg af sien ek hulle by die plothek inkom. Drie werkers in blou oorpakke loop voor ’n bakkie met ’n lang leer op sy dak. Een dra ’n graaf. Net een. Dis ’n skopgraaf. Hulle drentel van die een kragpaal na die ander.

Die bakkie het geen identifiserende tekens of merke op nie. Ek vermoed dit behoort aan Tshwane se elektrisiteitsafdeling of aan kontrakteurs wat die ‘werk’ namens hulle doen.

By elke paal staan hulle vir ’n rukkie stil. Telkens leun die een met die graaf met sy oop hand teen die paal. En dan drentel hulle verder na die volgende paal toe.

Die pad loop dood waar die pale teen die berg begin oplyn. Die drywer van die bakkie klim uit en drentel saam met die ander drie tot by die volgende paal.

Al vier loop staan en drie maneuver die nodige uit die oorpakke uit om die nodige ter verligting te doen. By hierdie paal staan hulle langer. Dan begin die een met die skopgraaf so slaan, slaan na die grassies wat om die paal groei. Onthou, dis ’n skopgraaf, nie ’n skoffelgraaf nie.

Met drie of vier heen-en-weer veebewegings slaan, slaan hy die grassies, so asof hy vir hulle kon sê: ‘stout, stout!’ en dan leun hy weer teen die paal. Die ander drie kyk vir hom. Twee staan en een het sy bas op ’n miershoop geplant. Lekker in die wintersonnetjie.

In die twee tot drie ure wat die‘werkspan’ op die plot was het hulle ’n sirkeltjie van hoogstens ’n meter in deursnee om ’n groot totaal van drie pale ‘skoongemaak’. Nou lyk dit my dis ’n poging om voorbrand om die pale te maak sodat die goed nie met die eerste veldbrand in die slag bly nie.

Hoe onproduktief kan ’n mens nou wees, dink ek so by myself, terwyl ek op my alie in die sonnetjie sit en kyk hoe byna niks baie stadig hier onder gebeur.


Die ?werkspan? in aksie

Dit het ure geneem om drie ?voorbrande? te maak

 

 

© 2019 Die/The Bronberger