Desember van ?n eeu gelede hiervoor onthou Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 19 December 2012 08:56
Untitled Document

Hier vertel ons vir jou ‘n paar dinge waarvoor Desember 1912 onthou sal word – van ‘n rugby-toetsreeks tot die fete tussen Louis Botha en JBM Hertzog; van koningin Nefertiti en die Kewpie-pop tot swart rou-teddiebere vir die Titanic-slagoffers; en ons wys vir jou wat daardie jaar as hoog-mode beskou is.

Titanic sink

In 1912 het Kersfees op ‘n Woensdag geval. Dit was die eerste Kersfees nadat die sogenaamd onsinkbare Titanic op 15 April gesink het toe sy teen ‘n ysberg vasgeseil het op haar eerste vaart van Southampton na New York. Dié was een van die dodelikste maritieme tragedies in vredestyd en 1 502 mense uit die 2 224 aan boord is dood. In Amerika het die maatskappy Steiff swart teddiebere gemaak om as rou-persente te gee dié Kersfees.

Springbokke wen

In Desember 1912 het die Springbokke vyf toetse teen Wallis, Ierland, Skotland, Engeland en Frankryk gespeel en al vyf gewen. Billy Millar was die kaptein van die span. Hulle het net een wedstryd verloor en dit was die een wat hulle die dag na Kersfees met 0–3 teen Swansea verloor het. Laat ‘n mens wonder waar hulle Kersdag deurgebring het. Die foto is op 14 Desember op Cardiff geneem en wys al 30 spelers van die Springbokke en Wallis saam.  

Botha en Hertzog


Generaal Louis Botha

Generaal James Barry Munnik Hertzog

Generaal Louis Botha, eerste premier van die Unie van Suid-Afrika vanaf 31 Mei 1910, het op 14 Desember 1912 uit sy pos bedank na ‘n toespraak deur Generaal JBM Hertzog, Minister van Justisie, waar hy Botha se beleid as pro-Brits gekritiseer het. Hertzog het gesê dat hy Suid-Afrika se belange eerste sal plaas indien daar ‘n konflik in belange tussen Suid-Afrika en Brittanje sou wees.
Louis Botha het op 20 Desember weer sy pos as eerste minister hervat en ‘n nuwe kabinet gevorm, wat Hertzog uitgesluit het. Hertzog het daarna die Nasionale Party (NP) gevorm in opposisie teen die heersende Suid-Afrikaanse Party (SAP). Met die begin van die eerste Wêreldoorlog het Botha troepe teen Duits-Wes Afrika ingestuur, ‘n aksie wat hom baie ongewild gemaak het en die 1914 rebellie tot gevolg gehad het. Hertzog was die derde eerste minister van Suid-Afrika, van 30 Junie 1924 tot 5 September 1939.

Koningin Nefertiti

Ná 32 eeue is die regte borsbeeld van Egipte se Koningin Nefertiti op 6 Desember 1912 ontdek.

Duitse oorlog-beraad

Die Duitse keiserlike oorlog-beraad is op 8 Desember 1912 in Berlyn gehou om die gespanne militêre en diplomatiese situasie in Europe te bespreek. Dié beraad was ‘n informele konferensie van sommige van die hoogste militêre en siviele leiers in Duitsland. Die moontlikheid van oorlog was die hoof onderwerp op die agenda.

Van dié wat die beraad bygewoon het was Keiser Wilhelm II, admiraal Alfred von Tirpitz (vloot staatsekretaris), admiraal Georg Alexander von Müller (hoof van die Duitse Keiserlike vloot kabinet), generaal von Moltke (hoof van die weermag se personeel), admiraal August von Heeringen (hoof van die vloot se algemene personeel) en generaal Moriz von Lyncker (hoof van die Duitse Keiserlike militêre kabinet). Kanselier Theobald von Bethmann-Hollweg en generaal Josias von Heeringen, die Pruisiese Oorlogsminister, was nie uitgenooi nie. Keiser Wilhelm II was die laaste Duitse keiser. Hy was die kleinseun van die Britse koningin Victoria en verwant aan baie lede van die Europese adelstand.

Prehistoriese bedrog

Op 18 Desember 1912 het die grootste bedrogspul in die palaeo-antropologiese veld homself afgespeel toe die Piltdown-man, ‘n vals skedel wat in 1912 in Engeland ‘ontdek’ is, deur Charles Dawson aan wetenskaplikes oorhandig is. Eoanthropus dawsoni is as ‘n prehistoriese ‘verlore skakel’ beskou. Eers meer as 40 jaar later is dit bevind dat die laer kakebeen van ‘n oerangutang doelbewus gekombineer is met die skedel van ‘n moderne mens.

Kewpie gebore

Die eerste Kewpie-pop is in 1912 gemaak. Kewpies is die eerste keer as karakters in die 1909 Kersuitgawe van die ‘Ladies Home Journal’ gepubliseer, met sketse deur Rose O’Neill. Tog het dit drie jaar geneem voor hulle as poppe begin maak is.

Die eerste Kewpies is in Duitsland uit porselein gemaak en die poppe was wêreldwyd sulke suksesvolle verkopers dat 21 fabrieke binnekort in volle produksie was. Die poppe is eers later van meer onbreekbare materiaal gemaak om langer as kinderspeelgoed te hou.

Ponie-fiets

Dié advertensie vir ‘n ponie-fiets (“it rocks while you ride”) was vir Kersfees 1912

Krismis-klavier

Dié 1912 advertensie sê dat ‘n Steinway klavier die ideale Kerspersent maak

Hoog-mode

In 1912 was dié uitrustings hoog-mode vir vrouens

Werkplek

‘n Tipiese kantoor in 1912. Kyk na die pragtige ou stofie vir hitte, die muurpapier, swaar houtmeubels, hoë plafonne en, natuurlik, die tikmasjien

Vir mans

Die JC Leyendecker Gillette veiligheidskeermes is as die ideale 1912 Kersgeskenk vir mans geadverteer. Die advertensie sê dat jou man dié praktiese geskenk 365 dae ‘n jaar sal gebruik, dat dit hom tyd en geld sal spaar, en ‘n onuitputbare bron van gemak en betroubaarheid sal wees.

Pap so geadverteer

Dié Kersfees 1912 ‘Cream of wheat’ advertensie word as so ongewoon beskou dat dit ‘n versamelstuk geword het waaroor liefhebbers van oudhede wil vuisslaan. Die advertensie is deur Edw V Brewer geskilder. Die woorde onderaan lees: “I done had to frame Rastus” en sy het: met Kersversierings oor die raam.

 

© 2024 Die/The Bronberger