Mooikloofrif se rou riool spoel steeds padlangs PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 19 December 2012 06:48
Untitled Document

Mooikloofrif se riool stroom weer langs Garstfonteinweg-verlenging af en hou ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir duisende mense en diere in. Dié stinkspul pla omliggende inwoners, ondernemings en selfs motoriste wat in Garstfonteinweg-verlenging verby ry, jare reeds.

Ná ‘n reënbui vloei dié onbehandelde riool gereeld met die Zwavelpoortspruit tot in die Pienaarsrivier.


Só dam die riool op voor dit onderdeur Mooikloofrif se muur na Garstfonteinweg-verlenging spoel

Dié keer het iemand tevergeefs probeer om die riool-strome met grond toe te gooi. Die besoedelde grond is op 20 November op ‘n hoop langs die landgoedontwikkeling se muur geskraap.

In Julie vanjaar het ons berig dat niemand – nie die landgoed, ontwikkelaars of Tshwane Metroraad – verantwoordelikheid vir die probleem aanvaar nie. Mooikloofrif se landgoedbestuurder, Theo van Rensen, het gesê dat dié pompstasie op ‘n servituut gebou is dus nie Mooikloofrif se verantwoordelikheid is nie, alhoewel hulle aanhou om die pompe reg te maak.


Rou riool spoel uit Mooikloofrif se rioolstasie. Reg langs die stasie kan die landgoedontwikkeling se speelpark vir kinders gesien word
Foto’s: Marinus Lindhout

Klaarblyklik is die rioolstasie verkeerd ontwerp en moet oorgedoen word. Volgens munisipale amptenare het die landgoed se ontwikkelaars, M&T, destyds nooit die pompstasie aan Kungwini oorhandig nie.

Die metro munisipaliteit doen glo nou nog navorsing om uit te vind wie wettiglik vir die pompstasie verantwoordelik is.

 

© 2019 Die/The Bronberger