Beeldhouer se ?verlore dekade? aspris duister gehou PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 21 November 2012 06:54
Untitled Document

Daar is tien jaar in die loopbaan van een van ons land se bekendste beeldhouers waaroor baie min in die geskiedenisboeke gesê word. Wat het Anton van Wouw gedoen vandat hy die Kruger-standbeeld in 1899 voltooi het tot hy in 1910 die opdrag ontvang het om die Vrouegedenkmonument in Bloemfontein te maak?

Ná Anton se dood in 1945 het sy tweede vrou al sy persoonlike dokumente vernietig. Kennis oor die ‘verlore dekade’ het eers 100 jaar later weer na vore begin kom in die navorsingswerk van prof Alexander E Duffey van die Departement Skonekunste aan die Universiteit van Pretoria. Prof Duffey sê daar is ‘n goeie rede hoekom die werk wat Anton in sy ‘verlore jare’ gedoen het nie in dieselfde asem as die beelde wat Afrikaner patriotisme uitbeeld genoem word nie.

Anton het bekendheid verwerf vir die groot gedenkmonumente in die destydse Unie van Suid-Afrika: van die Vrouegedenkmonument en President Steyn in Bloemfontein, tot die Andrew Murray en ‘Onze Jan’-beelde in Kaapstad, Louis Botha in Durban, Generaal Lukin in Kaapstad en die Voortrekkervrou en -kinders in Pretoria.

Sy bekendste borsbeelde is van president MW Pretorius, president FW Reitz, president MT Steyn, generaal Koos de la Rey, generaal CR de Wet, Piet Retief, en generaal Manie Maritz.


‘n Jong Anton van Wouw

Verhaal
Anton van Wouw is op 26 Desember 1862 in Driebergen naby Utrecht, Nederland gebore. Hy het vroeg in sy lewe aandklasse in beeldhouwerk begin neem aan die Rotterdam Akademie onder leiding van die Vlaamse argitek en kunstenaar Joseph Graven.

Anton is by die Vreeswyk Broers in Rotterdam en ‘n betonfabriek in Delft as stuko-modelleerder (die fyn versiering en bepleistering van kolomme en plafonne) en betongieter opgelei.

Anton se pa en ouer broer is in 1882 in regeringsposte in Pretoria aangestel. Sy pa, LAFR van Wouw, se amptelike titel was Inspekteur van Kantore onder die Staatsekretaris, dr Leyds. Sy broer, GJ van Wouw, was Inspekteur van Masjiene in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).

Anton en sy ma het hulle op 1 Januarie 1890 hierheen gevolg omdat sy pa geskryf het dat daar ‘n toekoms vir ‘n argitektoniese beeldhouer in die florerende boubedryf in die ZAR was, veral in die vinnig ontwikkelende myndorp, Johannesburg.

Tot Anton se groot teleurstelling kon hy nie werk in sy spesialisveld kry nie. Hy moes ‘n tydelike pos as assistent in HC Miolee se wapenwinkel aanvaar, terwyl hy sy aande aan tekeninge en klein beeldhouwerke gewy het.  

Na ses maande in die wapenwinkel, kon Anton dit nie meer uithou nie en het besluit om sy dienste as ornamentele beeldhouer te begin adverteer. Die eerste werksopdrag wat hy gekry het was om stukadoorswerk in die bekende Pretoriase sakeman, Edmund Francis (Eddie) Bourke, se nuwe huis, Barton Keep, te doen.

Dit het gelei tot Anton se eerste openbare werksopdrag, die boetsering van ’n ZAR staatswapen vir die voorgewel van die ‘nuwe’ Raadsaal op Kerkplein. Anton het vir Sytze Wierda, ‘government ingenieur en argitek’, ontmoet en het in 1891 ‘n opdrag van boukontrakteur JL Kirkness ontvang.

Kirkness, kontrakteur vir die ZAR se Nasionale Bank en Munt wat in Julie 1892 op Kerkplein langs die ou Poskantoor opgerig is, sou later vir Anton verdere argitektoniese beeldhou-opdragte verseker.

Tog is dit die ontmoeting met argitek Frank Emley wat Anton se lewe sou verander. In 1894 het Anton beeldhou-stuko-panele vir die Ou Standard Bank op Kerkplein gemaak, ‘n gebou wat deur die argiteksfirma Emley en Scott ontwerp is. 

Dié firma het ook die eerste gebou van die Kamer van Mynwese in Johannesburg, wat in 1894/5 opgerig is, ontwerp. Anton het argitektoniese beeldhouwerk vir die gebou gedoen en moes die bouperseel sekerlik besoek het waar hy die Kamer se president, Lionel Phillips, moes ontmoet het. Niks is egter ooit oor dié eerste ontmoetings neergepen nie.


‘n Ouer Anton van Wouw
Foto: therainbownationmobile

Trou
Anton het op 3 Februarie 1895 met Suzanna Wilhelmina (Sannie) Celliers, ‘n suster van die digter Jan FE Celliers, getrou. Twee dogters is uit hierdie huwelik gebore.

As getroude man moes Anton ‘n vaste inkomste begin verdien. Hy het in April daardie jaar aansoek vir naturalisasie gedoen sodat hy kunsklasse by die Staatsmodelskool en die Staatsmeisjeskool kon aanbied. 

Dié werk het Anton se gesin onderhou tot Oktober 1896 toe hy sy groot deurbraak gekry het – sakeman Sammy Marks het hom aangestel om die President Paul Kruger-standbeeld te maak. Min het Anton geweet dat dié werksopdrag tot sy vrou se dood sou lei.


Anton en sy eerste vrou, Susanna Wilhelmina (Sannie) Celliers, ‘n suster van die digter Jan FE Celliers, het twee dogters gehad

Kruger Beeld
Sannie is saam met Anton Italië toe waar dit hom drie jaar geneem het om die Kruger-standbeeld en die vier Boerefigure te voltooi. Die beelde is in 1898 in Rome voltooi en in 1899 in brons gegiet. Voor die beelde verskeep kon word, is Sannie daar aan longontsteking oorlede.

Die Tweede Vryheidsoorlog het intussen uitgebreek en die beeldhouwerke is na Delagoabaai verskeep, waar hulle tot ná die oorlog in ‘n pakhuis van die Afrika Skeepsmaatskappy in Lourenço Marques (Maputo) moes bly.

Sammy Marks moes die stoorkostes betaal, en hulle het uiteindelik net 'n geldelike las vir hom geword. Toe hy gehoor het dat toestemming om die standbeeld in Pretoria op te rig nooit toegestaan sou word nie, het Sammy die vier Boerefigure aan Lord Kitchener gegee en die Kruger-standbeeld het in die pakhuis agtergebly tot ná die oorlog.

Ironies genoeg is dié standbeeld nooit in die ZAR opgerig nie. Eers ná Uniewording, in 1913, is die Kruger-beeld, sonder die vier Boerefigure, in Prinsepark opgerig. Die gesukkel om die vier Boerefigure terug in Suid-Afrika te kry is ‘n storie op sy eie. Die volledige monument is eers in 1925 voor die Pretoria-spoorwegstasie geplaas en uiteindelik in 1954 na Kerkplein verskuif.


Anton saam met twee van die hoekfigure van die Kruger-standbeeld in Rome, circa 1896-1899
Foto: Wikipedia

Verlore
‘n Bedroefde Anton het einde September 1899 van Rome terug gekeer. Die oorlog was in volle swang, daar was nie tyd vir beeldhouwerke nie en hy was eensaam sonder Sannie. Anton het kunslesse in sy ateljee gegee.

Daar is weinig oor Anton se werk in dié tyd bekend, afgesien van die opdrag wat hy in 1905 van die Pretoriase Stadsraad ontvang het om 'n borsbeeld van president MW Pretorius, die stigter van Pretoria, te maak, die kleiner beeldjies van Boere- en inheemse stamtipes van 1907, en die reliëfpaneel vir die horlosiegesig aan die nuwe Pretoriase Poskantoorgebou in 1909.

Waaroor daar 'n opsetlike stilte skyn te wees is dat Anton kort na die oorlog weer kennis gemaak het met die argitek Frank Emley wat hy in die 1890’s in Pretoria ontmoet het. Ná die oorlog was daar in 1903 en 1904 ‘n groot oplewing in die Johannesburgse boubedryf.

Deur Frank het Anton die pioniermeesterbouer MCA Meischke ontmoet wat hom gesubkontrakteer het vir die versiering van baie van die geboue wat hy in dié bloeitydperk opgerig het. Hy het ook weer vir Lionel Phillips, president van die Kamer van Mynwese, en sy vrou Florence, twee groot ondersteuners van skone kunste, raakgeloop.


Die Kruger-standbeeld in Prinsepark
Foto: Wikipedia

Sindikaat
Klaarblyklik het die mynmagnate ‘n sindikaat gevorm wat Anton van die middel van 1906 tot ongeveer die middel van 1910 in staat gestel het om voltyds aan sy kuns te werk sonder enige finansiële bekommernisse.

Volgens prof Duffey het Anton in Julie 1906 gehelp met die organisering van die Rembrandt-herdenkingsfees in Pretoria en ook die reëlings vir die besoek en uitstalling van die Hollandse kunstenaar, Edward Frankfort, wat vir Frans Oerder oortuig het om na Holland terug te keer.

Dit was moontlik dat Edward vir Anton oortuig het dat sy toekoms in Johannesburg lê en nie in Pretoria nie. Hoe dit ookal sy, Anton het net daarna in 1906 by die Switserse argitek, Theophile Schaerer, wat ‘n huis in Doornfontein besit het, ingetrek. Hy het 'n ateljee daar ingerig en begin werk aan die kleiner beeldjies waarvoor hy later groot bekendheid verwerf het.


Die onthulling van die Kruger-standbeeld voor die Pretoria-stasie op 10 Oktober 1925
Foto: Wikipedia

Kuns
Teen die middel van 1907 het Anton al hoe meer betrokke geraak in die kunswêreld en het saam met Frank Emley, Harry McCormick, Herbert Evans en Earl Robert die ‘African Art Union’in Johannesburg gestig met ‘n bygaande kunstydskrif, ‘African Art Journal’.

Toe Anton se pa in November 1907 in Rotterdam oorlede is, het hy geld geërf wat hom in staat gestel het om al die beeldjies wat hy in die loop van 1906 en 1907 gemaak het in Italië in brons te laat giet.

Hy het ongeveer 21 beeldjies by die Massa- en Nisini-gieterye in Rome laat giet, wat almal ‘1907’ gedateer is. Dit is met dié beeldjies wat hy sy eerste eenmansuitstalling op 7 Julie 1908 in Johannesburg gehou het.

Die Phillips-gesin het die uitstalling bygewoon en 'n aantal van die bronsbeeldjies bestel.

Teen die einde van Julie 1908 is dieselfde uitstalling in 'n gebou in Bankstraat in Pretoria gehou. Teen die middel van 1909 het die Phillipse gereël dat Anton se werk ook in Londen uitgestal word, waar Florence die uitstalling besoek het.

As voorsitter van die South African National Union (SANU) het Florence in Maart 1910 ‘n groot kunsuitstalling in Johannesburg gereël waar Anton se beeldhouwerk baie prominent ten toon gestel is.


Anton besig met 'n argitektoniese reliëfpaneel

Ontwerp
Teen dié tyd was Anton reeds besig met die ontwerp van leeukoppe en figuurstudies vir Herbert Baker se Uniegebou. Hy het die eerste buiteblad vir die nuutgestigte ‘Die Brandwag’ ontwerp en sy kunswerke het hierna gereeld in byna elke uitgawe verskyn.

Anton was in daardie jaar ook 'n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het die amptelike seël vir die ‘Akademie voor Taal, Letteren en Kunst’ ontwerp. Volgens prof Duffey het dit vir Anton ‘n fondasie gelê as ‘n vertolker van die lief en leed van die Afrikaner, soos verbeeld in sy klein beeldjies ‘Slegte Nuus’en ‘Kruger in ballingskap’.

Anton en die argitek Frans Soff is in Julie 1910 gekies om die Nasionale Vrouemonument te ontwerp. Hiervoor moes Anton in November 1911 weer na Rome gaan. Ná die onthulling van die monument in 1913 het die Nederlandse regering hom vereer met die Ridderkruis van die Orde Oranje-Nassau.


Die voetstuk sonder standbeeld op Kerkplein (1899-1905)
Foto: Wikipedia

Swyg
Vanaf dié tyd is daar voortaan weinig in Afrikanergeledere geskryf oor Anton se samewerking met die ‘Uitlander’-mynmagnate so kort na die Tweede Vryheidsoorlog.

Anton is in 1917, 18 jaar ná Sannie se dood, vir die tweede keer getroud met ‘n skoonsuster van President Reitz, genaamd Englina.

Hy het in 1936 ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang en in 1937 die SA Akademie Medalje vir Beeldhou. In 1939 het Anton teruggetrek na Pretoria om te werk aan die figuurgroep vir die Voortrekkermonument. Die bronsbeeld, ‘Vrou en Kinders’, was Anton se laaste opdrag. Dié beeld, wat die vrou se rol in die Groot Trek vereer, is 4,1 meter hoog en weeg 2,5 ton.

Anton het in die huis wat argitek Norman Eaton vir hom in Brooklyn ontwerp het, gewoon tot sy dood op 30 Julie 1945. Die huis is vandag ‘n museum, bekend as die Van Wouw Huis, en behoort aan die Universiteit van Pretoria.


Anton van Wouw se huis is vandag ‘n museum

 

© 2019 Die/The Bronberger