Hope gevaarlike rommel in bo-loop van rivier toegestoot PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 21 November 2012 06:53
Untitled Document

Die omgewings-gevaarlike rommel wat in ‘n droë bo-loop van die Pienaarsrivier gestort word, is toegestoot. Bure vrees dat die rommel, wat grootliks uit polistireen en plastiese materiaal bestaan, die grondwater sal vergiftig en via die Pienaarsrivier uiteindelik in die Roodeplaatdam sal beland.


Buurman Kobie de Wet by die rommelhope soos dit in September gelyk het

In September het ons berig dat die rommel op Robert Skinner se kleinhoewe op die grens van Bashewa en Tierpoort gestort word. Robert het aan Die Bronberger gesê dat hy nie impakstudies gedoen het of ‘n permit het om die rommel daar te stort nie, omdat hy dit nie nodig het nie. Hy stort, volgens hom, bourommel op sy eie plot en is besig om ‘n ‘donga’ op te vul. Robert het gesê dat bogrond telkens wegspoel as daar ‘n storm is en die water in dié ‘donga’ afloop.

Nabye bure, nege van wie se boorgate binne 100 meter van die waterloop is, se bekommernis oor grondwater-besoedeling het hulle genoop om stappe te neem. Hannes de Wet het met die Department van Gesondheid in verbinding getree.


Die rommel word in ‘n droë bo-loop van die Pienaarsrivier toegestoot

Ida Botha van dié departement het ‘n vergadering met Robert belê waar hy gevra is om die rommel te verwyder. Volgens Hannes het Robert die rommel bloot net toegestoot. Bure het dié aksie rapporteer en die Departement van Gesondheid gaan glo binnekort ‘n inspeksie op die perseel hou.

Volgens die kenners neem polistireen honderde jare om in die natuur afgebreek te word omdat dit fotolise-weerstandig is. Die stadige degradasie van polistireen veroorsaak potensieel skadelike vloeistowwe en gasse wat grondwater en die lug kan besoedel.


Dit is duidelik dat polistireen-stukke hier begrawe lê

Polistireen is ook hoogs vlambaar en ‘n sekere soort polistireen, wat met hidro-fluoor-koolstof (HFC-134a) gemaak word, het ‘n aardverwarmingpotensiaal van 1 000 tot 1 300 keer meer as dié van koolstofdioksied.

 

© 2019 Die/The Bronberger