Soettand-plesier in die oopte op ?n perdeplot PDF Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 21 November 2012 06:52
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

As jou soettand die dag die oorhand kry en jy móét eenvoudig dringend iets boosaardigs lekker en wonderlik dekadent inneem om al die varkies op hok te hou – het ek goeie nuus vir jou.

Op ‘n perdeplot in Bashewa is nou ‘n pannekoek- en wafelhuis wat jou wildste en soetste drome kan laat waarheid word. In die Bronnie (waar anders?) sien ons in Pacific Blaze se advertensie dat die ‘venue’, perdeplek, hondeskool en hondekleuterskool ook met ‘n ‘Waffle House’ spog.

Dis ‘n Saterdag en ek sit juis met ‘n aanval van soettantitus. As jy nie die wêreld ken nie, is dit beter om eers te bel vir aanwysings, want langs Garstfonteinweg-verlenging gaan jy nie ‘n bord sien wat jou neus in Pacific Blaze se rigting gaan help nie. As jy redelik reis in die Bronberg-gebied is dit maklik. Jy draai by die Spenmistbord af na die teenoorgestelde rigting en ry met die paadjie aan tot jy nie meer kan nie.


‘n Wye uitsig oor ‘n mooi wêreld

Jy sal voor ‘n skuifhek tot stilstand gedwing word en dan moet jy nie dieselfde fout as ons maak nie.

Die plakker by die hek wat waarsku teen ‘danger, gevaar en ngosi’ het ons laat glo dis ‘n elektriesgedrewe gedoente en daar sit ons toe en wag dat iemand ‘n knop iewers moet druk om die ding te laat oopskuif.

Gelukkig het iemand wat nie heeltemal so stoepid is nie, toevallig aangestap gekom, die hek oopgeskuif en weer toegeskuif toe ons in is.

Jy kan binne in die netjiese wafelhuis plaasneem of jy kan buite onder die papierbasboom by ‘n houttafel loop sit en die wye uitsig en rustige stilte geniet – soos wat ons gedoen het. Dis ‘n familiesaak, dis naweek en ons word deur een van die gesin se vriendelike meisiekinders bedien.

As jy vroeg genoeg is kan jy ‘n wafel- of pannekoekontbyt met eiers en ander ontbyterige goed daarby bestel. Of as dit eerder jou souttand is wat oorheers, kan jy kies uit een van die deegsoorte met hoender-mayo, wat Metgesel se keuse is, of met soet kerriemaalvleis en kaas. Dit kos R43 en R45 onderskeidelik.


Soet dekadensie en ‘n hoenderwafel by Pacific Blaze

Metgesel verklaar dat ‘dit is soos ‘n wafel moet wees’. Ferm, dog donsig, sê sy. Dit is ‘n baie ruim porsie hoender-mayo wat daarmee saamkom en ek kan sommer sien hoe Metgesel dit geniet.

Die moeilikste vir my en my soettand op dié dag by Pacific Blaze, was die wete dat ek nie alles sou kon beproef nie. Ek besluit op pannekoek eerder as wafel maar toe begin die kopkrap. Sou dit die peppermint crisp, nouga, aero, grondbonebotter, Milo, appeltert, en nog wat wees? Met roomys of room? Die meeste kos iewers in die R30.

Maar toe val my oog op ‘n keuse wat hulle Luck of the Irish noem. Drie pannekoeke gevul met dekadensie uit die boonste rakke. Een is ‘n piesang met krakerige karamel, een ‘n ‘brownie’ met tjoklitsous en die ander een gevul met aarbeie onder ‘n bessiesous. En daarmee saam ‘n ordentlike hoeveelheid roomys. Lekker roomys. Iewers in die R40 kos dit. Amper het ek soos daai karakter in die sepie waarna niemand wat jy ken mos kyk nie, my lippe afgekou.

Ek wou nog sê dat die koffie ook uit die boonste gestoeltes was en dat jy daar in die oopte ook sterker drank teen billike pryse kan geniet. Pacific Blaze se mense bedien ook gluten-vrye wafels en pannekoeke teen R5 ekstra. Bel hulle by 084-516-7353.  

 

© 2019 Die/The Bronberger