Buksielyf kan ver vlieg PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 21 November 2012 07:57
Untitled Document

Wie wat lief is daarvoor om in die veld te stap het nog nie hulle jiste afgeskrik vir dié buksielyf wat skielik opvlieg nie? Die Afrikaanse kwartel kruip in die gras weg tot ‘n mens bykans op hom is voor hy met gonsende vlerke reg voor jou opstyg.

Kwartels is so lank terug as 5 000 VC deur die ou Egiptenare afgebeeld. In Eksodus word daar geskryf hoe die migrerende Israeliete op die migrerende kwartel staatgemaak het vir kos. Dié voëls word vandag nog gejag en is sedert die 1920’s in aanhouding geteël.

Die meeste Afrikaanse kwartels in ons land migreer in die winter tot by Angola en Zaïre, alhoewel sommige populasies hier agterbly. Dié migrerende buksies word ver uit oor die see gesien.


‘n Opgepofte Afrikaanse kwartel
Foto’s: Wikipedia

Wildvoël
Die Afrikaanse kwartel, Coturnix coturnix, is ‘n klein wildvoël van ongeveer 17,5 cm lank en weeg 70-155 gram. Die mannetjie se vlerkspan is 110-115 mm en die wyfie s’n 107-116 mm. Mannetjies se sterte is teen 31-38 mm korter as die wyfies se 36-44 mm lengte.

Omdat hulle wegkruip, word dié outjies gewoonlik in vlug gesien. Op die grond hardloop hulle vinnig en gebukkend deur die gras. Die mannetjie het ‘n swart of rooibruin keel, maar is sonder die kastaiingbruin en swart onderste dele van die bontkwartel-mannetjie. Die wyfie en onvolwassenes het baie ligter onderste dele as die bontkwartel.

Vreet
Hulle woon in grasveld en landerye en is ‘n volop plaaslike somerbesoeker. Hulle vreet beide plantmateriaal en insekte en die wyfies het ‘n hoër proteïen dieet nodig om te broei. As jy kyk na die allemintige hoeveelheid eiers wat sy lê, is dié dieet seker te verstane. Kwartels is monogaam en die band tussen mannetjie en wyfie is baie sterk. Mannetjies vlieg voor die wyfies terug na hulle broeigebiede. Wanneer die wyfies aankom, herken sy ‘n mannetjie se geroep. Die mannetjie doen ‘n sirkel-dansie rondom die wyfie waar hy sy nek en borsvere oppof en sy vlerk naaste aan die wyfie op die grond laat sleep terwyl hy sing.

Die kwartel se roep is ‘n hoë “white wit-wit” wat met tussenposes herhaal word en ‘n “krwee-krwee” in vlug. In die broeiseisoen, van September tot Maart, kan ‘n mannetjie dikwels dwarsdeur die nag roep as die maan helder genoeg is.


Die verepatroon van bo af gesien

Broei
Die Afrikaanse kwartel se nessie is ‘n holte in die grond wat uitgevoer is met droë gras en klein worteltjies. Dié nessies word goed weggesteek in digte gras, struike of landbougewasse.

Die wyfie maak self die nes en lê tot 14 eiers. Sy is die enigste een wat die eiers uitbroei, ‘n proses wat 17 tot 20 dae neem. Die kuikens verlaat die nessie gewoonlik binne ‘n dag vandat hulle uitgebroei het en hulle ma voer hulle net die eerste vier dae, waarna hulle self kos soek.

Die wyfie sorg vir die kuikens tot hulle goed kan vlieg op die ouderdom van 21 dae, alhoewel hulle kort vluggies uitprobeer vandat hulle 11 dae oud is. Manlike en vroulike kuikens bly as ‘n gesin saam vir 30 tot 50 dae, maar hulle word reeds op 30 dae as uitgegroei beskou. Die ouers kan tot drie keer ‘n seisoen broei.

 

© 2019 Die/The Bronberger