?n Jammer dag Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 21 November 2012 07:33
Untitled Document

‘n Jammer dag was dit toe die geskiedkundige Premier Hotel op Cullinan se deure onlangs weer toegetrek is.

Die ou hotelletjie dateer uit die jaar 1906 en is ‘n verklaarde nasionale gedenkwaardigheid.

Toe dit enkele jare gelede opgeknap en na sy oorspronklike glorie gerestoureer is, is dié erfenis hotel gesien as ‘n sieraad vir die dorpie en sy omgewing en ‘n groot aanwins vir toerisme in die gebied, die provinsie en die land.

Nou, wat het dan verkeerd geloop? Cullinan en sy omgewing het in die afgelope tyd aansienlik gegroei in gewildheid as ‘n toerisme bestemming. Nuwe werksgeleenthede en groot uitbreiding by die diamantmyn het gesorg dat die dorp se beskikbare behuising ten volle beset is en ‘n tekort aan woonplek ervaar word.

Tog moes die hotel sy deure sluit en staan by verre die meeste verhuurbare persele in die dorp se grootste sakekompleks leeg. Die hotel en die winkelsentrum behoort en word verhuur deur dieselfde eienaar – Old Mutual.

Dit verg nie ‘n Einstein om uit te werk dat die probleem by die huurkoste van Old Mutual se Jewel Sentrum en sy aangrensende geboue, soos die hotel, lê nie. Veral nie as in ag geneem word dat nie ‘n enkele winkel in die res van die dorp of in die ganse Rayton leeg staan nie.

Hoe lank gaan die versekering- en eiendomsreus nog met hulle buitensporige huurgeld volhard? Is dit werklik wensliker om lelike, leë, wit olifante met toegeplakte ruite en geen inkomste aan te hou as om billiker huurgelde te hef, sodoende ‘n inkomste te genereer en op die koop toe vooruitgang aan te wakker?

Ons Kersuitgawe
Die Bronberger se spesiale Kersuitgawe gaan weer vanjaar sommer vroeg in Desember al ‘op straat’ wees.

As alles volgens plan verloop, versprei ons reeds vanaf Woensdag 5 Desember. Die Kersuitgawe van die Bronnie behoort dus in ons lesers se hande te wees voor die skole sluit en sommige van hulle met vakansie vertrek.

Op dié manier sorg ons dat adverteerders genoeg voortydige blootstelling vir spesiale aanbiedinge en groete oor die Kersseisoen kry.

Lesers is ook weer welkom om hulle Kers- en Nuwejaarswense aan die wyer gemeenskap, of aan spesiale mense in die Bronberg-gebied, in ‘n gratis lesersbriefie oor te dra.

Soos in die verlede beplan ons weer vanjaar ‘n baie spesiale uitgawe, propvol gelaai met tersaaklike inligting en artikels, vir die feesseisoen. Maak seker dat jy nie die geleentheid om deel daarvan te wees, misloop nie.

Die spertyd vir advertensie en lesersbydraes is op Dinsdag 27 November.

Ons eerste uitgawe van die nuwe jaar kom tradisioneel later as gewoonlik uit. Die Januarie-uitgawe se sperdatum, op Dinsdag 15 Januarie, volg ‘n week nadat die skole vir die nuwe jaar heropen het. Dié uitgawe word vanaf Woensdag 23 Januarie versprei.

 

© 2020 Die/The Bronberger