Merkwaardige Rissik had vele ysters in ou Pretoria se vuur PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 24 October 2012 05:47
Untitled Document

President Paul Kruger het soveel vertroue in ‘n bloedjong Pretoriase landmeter gehad dat hy vir dié outjie met baie min ondervinding onder sy belt, monumentale take gegee het om te doen.

Dit is die jonkheer wat deel van die Transvaal-Mosambiek grens daargestel het en dorpstigting by die Witwatersrandse goudvelde gedoen het. Daar word gesê dat hy een van die Johanne is waarna Johannesburg vernoem is.

Ons praat van Johann Rissik wat later die landmeter-generaal vir Transvaal geword het, die eerste administrateur van Transvaal, Minister van Grondsake en Minster van Naturellesake en ‘n lid van die Uitvoerende Raad vir Transvaal.

Johann het in soveel amptelike hoedanighede opgetree dat sy huis op sy oudag soos ‘n museum gelyk het van die baie goue en silwer toekennings wat hy oor die jare ontvang het – vanaf goue sleutels vir die openings van geboue en troffels vir die lê van hoekstene tot medaljes om seremoniële okkasies te herdenk.

Ná sy dood het sy vrou, Mimmie, dié lot almal laat smelt om as donasie vir oorlogsfondse in die Tweede Wêreldoorlog te dien.

Johannstraat in Arcadia en Rissikstraat in Sunnyside is na Johann vernoem en so ook Johann Rissikrylaan, die pad wat bo-op die koppies tussen Klapperkop en Waterkloof loop. Rissikstasie is in die 1900’s na hom vernoem.


Johann Rissik in London, 1905
Foto: Elliott & Fry

Holland
Johann Friedrich Bernhard Rissik is op 2 Februarie 1857 in Linschoten, naby Utrecht in Holland gebore. Hy was die tweede seun van dokter Gerrit Hendrik Rissik, die dokter wat Thomas Francois Burgers, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, oortuig het om Pretoria se distriksgeneesheer te word.

President Burgers het Gerrit in 1875 in Holland ontmoet. Gerrit het die ses weke lange bootreis van Utrecht na Durban en daarna die vyf weke lange ossewarit van Durban na Pretoria aangepak en het op 17 Mei 1876 in Pretoria aangekom. Saam met hom was sy vrou, Neeltje (gebore Altmann), sy dogter Anna Maria en vier van sy vyf seuns: Frederik Hendrik, Johann Friedrich Bernhard, Cornelis en Gerhard Hendrick. Sy seun Sybrand het in Holland agtergebly.

Johann het as assistant in sy pa se resepteer-apteek gewerk voor hy op 25 Februarie 1882 deur Staatsekretaris W Eduard Bok as tweede regeringsklerk in die landmeter-generaal se departement aangestel is teen ‘n salaris van £200 ‘n jaar.


Johann se vrou, Maria Magdalena Wilhelmina (Mimmie) Leibbrandt, in 1908
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Trou
Hy is op 8 Oktober 1890 met Maria Magdalena Wilhelmina (Mimmie) Leibbrandt, die sesde kind van wynhandelaar en Kaapstad se burgemeester, Pieter Ulrich Leibbrandt, getroud.
Johann het Mimmie na Pretoria gebring om in sy pas voltooide huis, Linschoten wat hy na sy Hollandse geboorteplek vernoem het, te woon. Dié huis is op Johann se 10-morg grond, drie myl oos van Kerkplein gebou.

Twee jaar voor sy huwelik, in 1888, het Johann saam met EPA Meintjes en JD Celliers 19 morg en 30 vierkante roode, genaamd Trevenna, as deel van die plaas Elandspoort 193 gekoop, en in erwe en strate opgedeel. Meintjes en Celliers het die Trevenna Eiendomsindikaat in 1893 aan Johann verkoop.

Dié drie was ook betrokke by die uitlê van Sunnyside en Arcadia waar hulle sekere strate besit het, en Johann het Hillcrest uitgelê. Hy het ‘n stuk uitvalgrond gekoop waarop die Britte blokhuise gebou het wat met watergragte omring was. Dié gragte het, tot groot plesier van die Rissik-seuns, Hillcrest se eerste swembad geword. Tussen 14 April 1904 en 26 Oktober 1910 het Johann die voorstad Hillcrest op dié grond uitgelê en die Rissiksaal daar laat oprig.


Johann en sy vier seuns in 1903: Bernard, gebore 8 Maart 1892, Harry, gebore 10 April 1894, Pieter Ulrich, gebore 11 Maart 1896 en Johann, gebore op 8 November 1899 en oorlede omtrent ‘n jaar ná die foto geneem is op 9 Januarie 1904
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Linschoten
Johann en Mimmie het vir 33 jaar op Linschoten gewoon en dit is hier waar hulle vier seuns gebore is: Bernard, op 8 Maart 1892; Harry, op 10 April 1894; Pieter Ulrich, op 11 Maart 1896; en Johann, op 8 November 1899. Die jongste seun Johann is tragies op 9 Januarie 1904 oorlede. Die oudste seun Bernard is ook voortydig oorlede – op 22 Junie 1915 by Vlaandere in die Eerste Wêreldoorlog.

Dit is in die strate rondom Linschoten wat die eerste gebrul van ‘n motorfiets gehoor is. Johann het die eerste motorfiets in Pretoria besit. Hy het ook so ‘n fassinasie met dit wat hulle toe “ligter as lug” vliegmetodes genoem het, gehad dat hy die eerste president van die Lugvaartkunde Vereniging van Suid-Afrika geword het.

Soos die meeste gesiene ou Pretorianers, was Johann ‘n lid van die Pretoria Resiesklub, met die perderesiesbaan op Kerkstraat-wes. Hy het op ‘n gholfbaan tussen die huidige Kirknessstraat en die ou ZAR spoorlyn gespeel en was ‘n kranige brug- en skaakspeler asook ‘n lewenslange lid van die Caledonian Vereniging wat die groot atletiekstadion op die oostelike bank van die Apiesrivier tussen Schoeman- en Pretoriusstrate besit het.


Mimmie en Johann se huis, Linschoten, in 1890
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Water
Dit is op Linschoten waar Johann se waterbesparing eerste na vore gekom het. Hy is jare later, op 16 Januarie 1905, aangestel as lid van die kommissie wat ondersoek ingestel het na beter besparing van die waterbronne van Transvaal en die Oranjerivier-kolonie.

Op Linschoten het Johann ‘n groot reservoir opgerig van water wat hy met ‘n kanaal vanaf Walkerspruit gevoer het. Die water was vir die besproeiing van sy eie grond wat mettertyd in ‘n lushof omskep is met ornamentele bome, struike, vrugtebome, blomme en groente.

Eintlik was Johann in sy hart ‘n boer. Hy was ‘n pionier in volstruisboerdery en suksesvolle sitrusboer op die plase Zandfontein en Doornput op die Springbokvlakte. Later het hy Friesbeeste op die plaas Elbrinxen naby Potchefstroom geteël, met skaap op Koppie Alleen in die Vrystaat geboer, en met tabak en sitrus op Hartebeesfontein naby Hartbeespoortdam.

By Linschoten het Johann ook water aan sy bure verskaf: advokaat Ewald Esselen op die suid-westelike hoek van Park- en Meintjesstrate (nou Wesselsstraat); Edward Rooth (later lid van die Parlement vir sentraal Pretoria) langs hom; advokaat JW Wessels (later hoofregter van Suid-Afrika) op die suid-oostelike hoek van Park- en Buitenstrate (nou Bourkestraat); en Advokaat JS Curlewis (ook later hoofregter) op die noord-westelike hoek van Park- en Wesselsstrate.


Johann se pa, dr GH Rissik, in 1876
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Opgang
Sedert sy twintigerjare het Johann gereeld as landmeter-generaal van Transvaal opgetree, maar hy is eers op 13 Junie 1895 amptelik in dié pos aangestel. Op 4 November 1898 is hy ook as landmeter-generaal vir Swaziland aangestel.

In 1891 reeds was Johann verantwoordelik vir die uitvoering van die Algemene Landmetingswet waaronder die republiek opgemeet is. Hy het ook bygedra om die akkuraatheid van die Transvaalse grondregistrasiestelsels te verhoog.

Blykbaar was hy so goed hiermee dat die regerings-geborgde bank, De Nationale Bank der Zuid-Afrikaansche Republiek Beperkt, hom op 13 September 1893 as kommissaris aangestel het. Dié bank is op 9 Augustus 1890 deur die Volksraad daargestel en het later op 2 November 1925 met twee ander banke saamgesmelt om Barclays Bank te vorm.


Johann se ma, Neeltje Rissik, in 1876
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Oorlog
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het Johann saam met generaal Louis Botha op kommando vertrek. Ná die Britse besetting van Pretoria en toe generaal Schalk W Burger as staatspresident aangestel is, het hy Johann as lid van ‘n spesiale hof vir die distrik Zoutpansberg en Waterberg aangestel. Johann was veronderstel om ‘n man wat vir hoogverraad aangekla is, te verhoor. Hy het egter geweier om so iets sonder die nodige regsondervinding te doen.

Ongeveer dieselfde tyd het die president Johann, as deel van die Regering se Finansiële Kommissie, Pietersburg toe gestuur om £500 vir die regering te leen van DJ Brink teen £500 Regeringsnote, gedateer 28 Mei 1900. Brink was egter nie bereid om dié som in ‘klinkende munt’ aan die regering te leen sonder verdere waarborge nie en Johann en sy vriende het besluit om self dié waarborge te lewer.

Bykans ‘n jaar ná die oorlog het Johann gehoor dat ‘n groot eer hom te beurt geval het oor “dienste in Boere-belang gelewer”. Op 26 Junie 1903 het Dr Mansvelt, vorige direkteur van opvoeding in die ZA Republiek, wat toe in Amsterdam die sekretaris van die Vereeniging Zuid-Afrikaansche Voorschotkas was, vir Johann laat weet dat hy aangestel is as ‘n lid van die vereniging.


Johann en Generaal Louis Botha buite die Pretoria Klub op verkiesingsdag vir die eerste Transvaalse Parlement onder Verantwoordelike Regering op 20 Februarie 1907
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Vrede
Johann is ná die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, deur die Britse regering gevra om lid van die Wetgewende Raad onder die Kroon Kolonie-regering te word. Hy het egter besluit dat hy nie op ‘n Brits-aangestelde raad, wat nie deur die landsburgers ingestem is nie, kon dien nie.

Hy is op 28 Julie 1902 saam met Walter Solomon Webber en John Wagner aangestel as kommissarisse om die werking van Wet 8 van 1886, te doene met die besetting van plase, onder die loep te neem en om veranderings aan dié wet voor te stel.

Johann het op 24 Junie 1903 ‘n lid van die Interkoloniale Raad van Transvaal en die Oranje Vrystaat geword. Dié raad het die Sentrale Suid-Afrikaanse Spoorweë in die kolonies ook beheer, en onder andere ook landmetery en die Suid-Afrikaanse Polisiemag.

Johann het van die raad bedank toe hy verkies is as lid van die nuwe Transvaalse Wetgewende Vergadering.

Hy het op 27 Mei 1904 ‘n lid van die kommissie wat gekyk het na finansiële verhoudings tussen die regering en plaaslike owerhede, geword en in Junie 1904 ‘n lid van die Raad van die Transvaalse Tegniese Instituut.


Die eerste provinsiale administrateurs in 1910, van links na regs: Charles John Smythe, Natal, Johann Rissik, Transvaal, Sir Frederick de Wool, Kaap, en Alfred Ernest William Ramsbottom, Oranje Vrystaat
Foto: Genootskap Oud-Pretoria

Politiek
Vir iemand wat op soveel rade, komitees en kommissies gedien het, was politiek die volgende logiese stap. Op 22 Februarie 1907, twee dae nadat die Het Volk-party onder generaal Louis Botha die verkiesing onder Verantwoordelike Regering gewen het, is Johann as Het Volk lid vir die Parlement vir noord-sentraal Pretoria verkies.

Hy is op 4 Maart 1907 aangestel as Minister van Grondsake en Minster van Naturellesake en ‘n lid van die Uitvoerende Raad vir Transvaal. As Minister van Naturellesake het hy die Sjinese werkers op die Witwatersrandse goudmyne vervang met plaaslike werkers.

As Minister van Grondsake het hy vir die Transvaalse Regering die grond aangekoop wat gekies is as plek waar die Uniegeboue opgerig sou word. Hy was vroeër ook verantwoordelik vir die verkryging van die grond waarop die Onderstepoort Veeartseny Bakteriologiese Stasie gebou is.


Die Spoorwegraad van die pre-Unie Sentrale Suid-Afrikaanse Spoorweë. In die voorsitterstoel is HC Hull; regs van hom is dr Ramsbottom en links van hom Johann Rissik
Foto: Universiteit van Pretoria, Biblioteekdienste

Administrateur
Met die daarstelling van die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 het hy die eerste administrateur van Transvaal geword. Hy is in Mei 1915 heraangestel, maar het in Julie 1917 uitgetree.

In 1917 het hy ‘n Spoorweë en Hawe kommissaris geword en op 31 Desember 1919 ‘n Openbare Skuld Kommissaris. Johann het beide dié poste tot sy dood beklee.

Benewens sy baie openbare verpligtinge het Johann verskeie sakebelange gehad. Hy was, saam met JJ (Jan Bokkem) Marais en Loftus Versfeld, ‘n direkteur van die Raad van Eksekuteurs. Hy was betrokke by die daarstelling van die Pretoria Portland Sementmaatskappy en het later saam met die Delfos Broers die Pretoria Yster Myne-maatskappy gestig waaruit die huidige Yskor gegroei het.

In 1923 het Johann Linschoten Landgoed verkoop en in 1924 ‘n splinternuwe Linschoten Huis in dieselfde voorstad, op die hoek van Park- en Minniestrate gebou. Dié straat se naam is verkeerd gespel; dit is na sy vrou Mimmie vernoem.

Sy laaste openbare verskyning was op 11 Junie 1925 toe hy die Hercules-Magalies spoorweglyn deur die Mootvallei amptelik geopen het.

Johann het net ‘n paar maande in sy nuwe huis gebly toe hy op 26 Augustus 1925 in die ouderdom van 68 daar dood is. Hy is in die ou begraafplaas in Kerkstraat-wes begrawe.

 

© 2019 Die/The Bronberger