Geen waarborg teen onteiening by natuurreservaat PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 24 October 2012 05:42
Untitled Document

Daar blyk geen waarborge te wees dat Rietvlei Natuurreservaat onder Tshwane-metro se munisipale grondonteieningsbeleid, of voorraadbestuur, in die toekoms sy bewaringsgebied-status sal behou nie.

In middel-September was bewaringsbewustes verheug om te hoor dat die sokkerklub, SuperSport United, glo nie meer belangstel om ‘n sportkompleks in die reservaat te bou nie.

Volgens ‘n senior bewaringsamptenaar by Rietvlei, wat anoniem wil bly, is die plek waar die ontwikkeling sou plaasvind, geklassifiseer as ‘n klas een rif, wat beteken dat minder as vyf persent daarvan al ooit deur mense verander is. Daar kom 640 plantspesies voor.

Die voorgestelde ontwikkelingsperseel, met sy waterdeurlope en vleiland, vorm deel van die opvangsgebied van die Rietvleidam, wat elke dag 41 miljoen liter water na die munisipaliteit pomp vir residensiële gebruik.


Die Rietvleidam Natuurreservaat
Foto: Brendon Ryan

Weerspreek
Partye wat by die kontroversiële sportontwikkelingsvoorstelle vir die reservaat betrokke was, weerspreek mekaar egter nou oor wie eintlik die bal aan die rol wou sit. SuperSport United sokkerklub se bemarkingsbestuurder, Clinton van der Berg, het gesê dat hulle die reservaat as perseel oorweeg het, maar nou na ander grond kyk. Hy het gesê dat hulle deur die metro genader is om daar ’n sportkompleks te bou.

Tshwane-metro se stadbestuurder, Jacob Ngobeni, het egter gesê dat die metro deur die sokkerklub genader is om ’n sportkompleks in die reservaat te bou.

Die aksie, waarteen natuurliefhebbers en bewaringsorganisasies hewig kapsie gemaak het, het in Mei begin toe die ontwikkeling “in beginsel” goedgekeur is by ‘n raadsvergadering sonder raadpleging van die metroraad se eie interne omgewingsbewaringsdepartement.

Vervreem
Metro-woordvoerder, Phalane Motale, het gesê dat die metro ’n aansoek van SuperSport United ontvang het vir die vervreemding van 110 ha in die reservaat, wat einde Mei toegestaan is. Hy het ‘n verklaring uitgereik wat sê dat die openbare deelnameproses daarna aan die gang gesit is en dat die verslag daaroor voor die raad sal dien of onderhewig sal wees aan die munisipale grondonteieningsbeleid, of voorraadbestuur.

Bewaringsorganisasies was egter glad nie bewus van enige wettige openbare deelnameproses tussen belanghebbendes en die metro nie. Die metro het op 25 Julie ’n dagblad-advertensie geplaas waarin inwoners vir openbare deelname genooi is, maar slegs een week gegun is om dit te doen. Die Beskermde Gebiede Wet vereis dat die publiek ses weke kans moet hê vir openbare deelname.
Die grond moet ook eers gedeproklameer word as natuurgebied voor enige ontwikkelingsaansoeke goedgekeur mag word.


Clinton van der Berg
Foto: Twitter

Verduidelik
Metro-woordvoerder Nomasonto Ndlovu het die saak egter anders verduidelik. Sy het bevestig dat die raad ‘n aansoek van SuperSport United ontvang het vir die vervreemding van ‘n gedeelte van Rietvlei Natuurreservaat. Volgens Nomasonto is die aansoek in terme van die metro se Strategiese Belegging en Nasorg-beleid verwerk.

Die verslag is deur die burgemeesterskomitee aanvaar in terme van munisipale bate-oordrag regulasie, gedeelte 14 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet. Dit is dié verslag wat einde Mei goedgekeur is en wat plaaslik gepubliseer is om openbare kommentaar in te win.

Volgens Nomasonto hoef ‘n aansoek in terme van die Nasionale Omgewingsbestuurswet en stadsbeplanningsordinansies eers ingedien te word as die verslag reeds deur die raad se grondvervreemdingsbeleidproses is. Eers dan sal daar na sake soos deproklamasie van die natuurgebied en omgewingsfaktore gekyk word.

Vriende
Kobus Engelbrecht, voorsitter van die Vriende van Rietvlei, het te kenne gegee dat hy geskok is dat so ‘n ontwikkeling in die eerste plek oorweeg is. Hy het gesê dat die Vriende, ‘n organisasie met 600 lede, al die jare as vrywilligers saam met die stadsraad gewerk het om die reservaat te bestuur. Dit het vreemd gevoel om regstappe teen ‘n instansie wat hulle as vennoot in natuurbewaring beskou het, te oorweeg.

Meer as honderd appèlle, van hulle blokappèlle soos dié van SA Jagtersvereniging met meer as 30 000 lede, teen dié ontwikkeling is na die stadsbestuurder gestuur.


Die SuperSport United sokkerspan
Foto: MTNFootball

Rietvlei
Rietvlei is in 1925 as natuurreservaat geproklameer. Die Rietvlei Natuurreservaat bestaan uit 3 800 ha Bankeveld grasland wat strek vanaf die dam oor vlaktes, heuwels, vleie en stroompies. Wildspesies strek van jagluiperds, leeus, buffels, elande en renosters tot waterbokke, sebras en swart wildebeeste.

Daar is oornag-hutte, kampeer- en piekniekplekke by die dam met sy groot verskeidenheid watervoëls. Die reservaat spog ook met nagritte om wild te besigtig, perdryroetes, dag- en oornagstaproetes.

SuperSport
SuperSport United is ‘n Pretoriase sokkerklub wat in die Premier Sokkerliga speel. Ondersteuners noem hulle ‘Matsatsantsa a Pitori’ (“the swanky boys”).

Dié klub was oorspronklik bekend as Arcadia Shepherds en later as Pretoria City, maar is in 1994 deur M-Net gekoop, wat die klubnaam verander het. Tuiswedstryde word by die Lucas Moripe Stadion in Atteridgeville gespeel.

Hulle gebruik die Universiteit van Pretoria se Groenkloofkampus vir opleiding en het beplan om permanente opleidingsgeriewe en ‘n klubhuis op ‘n nuwe perseel te bou.

 

© 2019 Die/The Bronberger