Nuwe biblioteekpark vir Cullinan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 24 October 2012 05:24
Untitled Document

‘n Biblioteekpark-projek van R51 miljoen vir Cullinan is op Vrydag 28 September met ‘n sooi-spit seremonie afgeskop.

Dié park, wat op die randjie oos van die Cullinanse polisiestasie gebou gaan word, gaan bestaan uit ‘n biblioteek, gemeenskapsaal, sportsaal, gimnasium, twee ekstra sale, ‘n amfiteater en parkeerplekke.
Leerders van Cullinan Gekombineerde Skool, Hoërskool Chipa Thabane en Onverwacht Laerskool het die gehoor vermaak met passies en rymklets.


Die seremonie om die Cullinan Biblioteekpark, die Tshwane metro-raad se eerste gemeenskapsprojek van dié aard, te loots
Foto: Raadslid Danie Erasmus

Die direkteur van streek vyf, adv Victor Lekwane, het die leerders in sy toespraak daaraan herinner dat die park aan hulle behoort. 

Raadslid Danie Erasmus wat die verrigtinge bygewoon het, sê die grootste gebruikers van diè park sal leerders wees wat nie toegang tot inligtingstegnologie het nie. Dus sal die leerders van Refilwe, Pumzile Park en Onverwacht die geriewe die meeste gebruik. Hulle is egter aangewese op taxi’s en sal ‘n retoer van ongeveer R20 moet betaal wat Danie laat wonder of die projek die moeite werd is in die Cullinan-omgewing.


Nosipho Makeke, lid van die Tshwane metro-raad se Burgemeesterskomitee belas met Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur, by die Cullinan Biblioteekpark se sooi-spit seremonie
Foto: tshwane.gov.za

Die plan is om gratis sake-opleiding, lesse en kreatiwiteitstimulering-aktiwiteite in die gemeenskapsentrum aan te bied. Daar gaan ook ‘n ouditorium, kunsgalery, rekenaarlaboratoriums en speelplek vir kinders wees sowel as buite-ruimtes waar besoekers kan ontspan.

Dié biblioteekpark is die metro-raad se eerste projek van dié aard en daar word beraam dat dit werksgeleenthede aan 306 mense sal verskaf.

Die beplande voltooiingsdatum vir dié munisipale projek is die einde van volgende jaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger