Hy klop-klop al klouend boom-op PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 24 October 2012 07:23
Untitled Document

Het jy al ooit rustig onder ‘n hoë boom gesit en skielik ‘n harde geklop-klop-klop gehoor, kompleet soos iemand wat vra om van iewers af in te kom. ‘n Mens verwag dat die oorsprong van dié geklop, indien dan nou nie aan ‘n spook nie, aan ‘n reuse houtkapper toegeskryf sal kan word.

In ons kontrei is dit baie kere ‘n klein outjie wat vir dié groot geluid verantwoordelik is. As jy mooi in die boom opkyk, sal jy ‘n geveerde mannetjie met so ‘n rooi kuifie sien pik asof sy kop ‘n stampboor is. En nee, hy kap nie hout nie en hy maak nie ‘n gat nie – hy soek goggas. As hy hulle kry, gee hy ‘n geweldige roep en jy sal binnekort sien hoe sy wyfie opdaag om in die feesmaal te deel.


Bennettse speg
Foto: Phillip Perry

Een
Die Bennettse speg, Campethera bennettii, kies een wyfie saam met wie hy alles doen. Hulle kom nooit in swerms voor nie en mannetjie en wyfie soek saam prooi en maak beurte om hulle eiers uit te broei. Dit is net as een lewensmaat doodgaan, dat ‘n ander maat gesoek sal word.

Die mannetjie verskil van alle ander spegte in die streek deurdat hy ‘n heel rooi voorkop, kroon en snorstrepe het. Die wyfie is maklik herkenbaar aan haar bruin keel en streep onder die oog. Beide is ongeveer 24 cm lank en weeg omtrent 70 gram. Onvolwassenes lyk soos die wyfie.

Die Bennettse speg woon in breëblaarboswêreld en savanne en sy roep is ‘n hoë kwetterende ‘whirrr-itt-whrr-itt’, dikwels in duet.

Prooi
Dié speg soek net so gereeld prooi op die grond as in boomtakke, waar sy sterk naels goed genoeg vasklou sodat hy onderstebo kan hang. Hy vreet miere en termiete en hulle eiers en larwes, maar ook ander insekte soos besies. Miere word met die voëltjie se taai tong uit mierneste opgelek.

Hulle gebruik holtes in bome om nes te maak en alhoewel hulle self ‘n gat kan uithol, gebruik dié spegte meestal bestaande holtes. Die broeiseisoen is van Augustus tot Februarie, met ‘n piek van Oktober tot Desember.

Die wyfie lê twee tot ses wit eiertjies, wat beide ouers vir 15 tot 18 dae lank uitbroei. Die kuikens bly vir 26 tot 27 dae in die nes, en is nog tot die volgende broeiseisoen van hulle ouers afhanklik.

 

© 2019 Die/The Bronberger