Die ware helde Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 24 October 2012 06:54
Untitled Document

Vandag wil ons oor leiers praat. Nee, moenie bekommerd wees nie. Dit is ons verklaarde beleid dat partypolitiek nie ‘n plek in die Bronnie se redaksionele ruimte sal kry nie. Politiek en pornografie, in daardie volgorde van ongewenstheid, sal nie hulle aaklige kloue in dié tydskrif slaan nie. Nie solank die huidige span in beheer is nie.

So, wat ons vandag hier gaan sê het niks met die politiek of met pornografie te doen nie. Eintlik naby familie dié twee, as jy die name wat sekere leiers aan die politieke front in die wandel genoem word, in ag neem.

Ons sit dus met dié skrywe doelgerig op ons hande oor die hele pornopolitiekery en ons praat oor leiers wat werklik ‘n verskil maak en gewoonlik van beter inbors is: Ons wil praat oor gemeenskapsleiers. En meer bepaald oor die mense wat die voortou in ons gebied neem.

Te min erkenning word aan dié mense gegee en te min waarde word geheg aan die verskil wat hulle in die Bronberg-gebied maak.

Dit sou onregverdig wees om name uit te sonder, maar wie is die onbaatsugtige helde wat ons almal se dank en erkenning verdien?

Ons praat van daardie ou wat dit op homself neem om ‘n buurtwag op die been te bring. Hy wat self snags begin patrollie ry en ander aanspoor om hulle by hom aan te sluit.

Ons praat van die man wat in die Bronnie lees van ‘n seuntjie wat ‘n duur operasie moet ondergaan, en dan stil-stil ‘n gholfdag reel om ‘n stewige bydrae tot die koste te lewer.

En van die twee vroue wat hartstogtelik vir hulle omgewing omgee en nie huiwer om rommelstorters of groot myngroepe aan te durf nie.

Ons vergeet nie die aantal sterre wat aan die voorpunt staan van gebiedsbeveiliging in die verskillende sektore van die Bronberg-gebied nie, of van diegene wat brandbestrydingsgroepe op die been bring en dan vuur maak onder die mense om deel te neem nie.

Ook nie van ‘n groep gewone, goeie siele wat ‘n toneelstuk met maande se oefen en moeite op die planke sit om geld vir gestremdes en bedreigde gedenkwaardighede in hulle omgewing in te samel nie.
Ons kan nog baie voorbeelde noem van ons gebied se helde, wat ongelukkig weinig of geen erkenning kry nie. Julle weet wie julle is, en baie van ons weet dit ook. Daarom wil ons namens almal wat weet en wat baat by julle aksies dit vandag sê: Dankie!

 

 

© 2020 Die/The Bronberger