Downtown herrys berg-op PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 25 September 2012 22:50
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n Hele aantal jare her het ons lekker gekuier by ‘n plek met die naam van Downtown in Lynnwood Manor. Jy moes toe by ‘n stewige stel trappe op om by Downtown te kom. Later gehoor dat die plek toegemaak het en gedink dis nogal jammer. Want dit was ‘n plek wat ‘n ou maklik weer sou wou besoek.

Maar toe hoor ons dat die eertydse Downtown sy lyf phoenix gehou het en iewers in Shere herrys het en ons kry toe ons weerkuierkans.

Om by die nuwe Downtown uit te kom moet jy halfpad teen die Bronberg op. Downtown is deesdae op ‘n hoewe wat ook ‘n gastehuis en spa huisves. So amper het ek by die hek omgedraai oor niks of niemand gereageer het ná ek drie of vier keer tevergeefs op die hekinterkom se knoppie gelê het nie. Gelukkig skuif die hek oop toe die kar se neus al reeds in ‘n ander rigting wys.


Die eetplek met moontlik die beste uitsig in die Bronberg-gebied

Ek sê gelukkig, want selfs met die stewige kortasem-klim die berg uit, was die besoek oor-en-oor die moeite werd. ‘n Vriendelike kêrel met die naam van Pieter ontvang ons en begelei ons deur die binnewerke van die kuierplek na die buitedek wat teen die hang en pragtige rotse van die Bronberg ingerig is.

Ons neem plaas by ‘n stylvolle metaaltafel in die koelte van ‘n reuse ou rubberboom - ek dink dis ‘n rubberboom. Dis stil, dis rustig, gerieflik en dis mooi. Jy het ‘n pragtige uitsig oor die Bronberg-wêreld tot doer anderkant die Magalies.

Die kelner stel hom voor as Bash en skakel maklik oor van Engels na Afrikaans as hy hoor laasgenoemde is wat ons met mekaar praat. Binne ‘n japtrap sit Bash ons drankies neffens ons neer.

Die rooiwyn per glas weeg in teen ‘n effe stewige R24 en ‘n Skotse wyn kos R18 per sopie.


‘n Smaaklike hoenderkerrie wat nie te seer byt nie

Die spyskaart is ‘n lywige dokument. Ek is seker ontbyt op ‘n mooi someroggend daar bo by Downtown, sal ‘n genotvolle ervaring wees. Die keuse is redelik omvattend en die pryse is billik. Die groot Engelse ontbyt wat ‘n burgerfrikkadel insluit is die duurste teen R55. Die gewone spek, eiers, tamatie en roosterbrood kos net R30. Jy het ook ‘n keuse van croissants, roosterbroodjies, kolwyntjies of gesondheidsontbyte en vrugte, alles genadig op die gatsak.

Voorgeregte sluit ‘n aartappelsop, mossels, slakke en Carpaccio in. Onder die slaaie sou ek die bloukaas een gekies het. Sien dit min deesdae. Maar ek eet nie vandag slaai nie. Buitengewoon is die ‘slightly spiced’ beesvleisslaai.

By Downtown kan jy kies tussen beeshaas en kruisskyf (fillet en rump) as dit by bees kom. Alles is snitte van 250 g en deur die bank kos die ‘steaks’ met ‘n byvoegsel, waarvan jy sewe keuses het, R95 vir die rump en R115 vir die fillet.

Varktjops kos R85 vir die vol porsie en R70 vir die ‘half’ en kom saam met ‘n heuning-en-mosterd-sous. Gemarineerde varkribbes kos R95.


Downtown se buitedek skuil teen die pragtige rotse van die berg

Die enkele vegetariese gereg kos R70. Hulle sê dis ‘n ‘platter’ met vars groente en ‘n slaai op die ‘side’.
Die drie hoendergeregte, kerrie, tequila of schnitzel weeg in teen R75. Metgesel kies die hoenderkerrie, nadat Bash belowe het dit byt nie te seer nie. Die spyskaart sê hulle gebruik ‘n kombinasie van ses kerriemengsels en Metgesel, wat nogals ‘n kenner en liefhebber van Indiese kerrie is, meen Downtown s’n proe na Zanzibar-kerrie en sy vind dit voortreflik. Geen sprake van die ‘kartonsindroom’ wat soms by kerriehoender voorkom nie, sê sy.

Ses seekosgeregte waarvan drie garnale en twee tongvisdisse SQ is, pronk op die spyskaart. Die ‘lynvis’ kos R85 of R95, afhangende van die sous daarmee saam.

Ek loop haal my keuse by die ‘light lunch specialities’ oor ek aldaar ‘n beestong en ‘mash’ sien; iets waarvoor ek baie partydig is en wat selde op spyskaarte te sien is. Daarmee saam bestel ek onder ‘extras’ pangebraaide uie teen R10.

Die tong is heerlik onder ‘n ryk mosterdsous en die kapokaartappels is deur iemand voorberei wat weet hoe – eindelik! Die ‘ligte’ gereg smaak vorentoe en is heeltemal voldoende om bevredigend en vullend te wees. Die ander items is tipies waaraan ‘n ou gewoond is om as ‘pub lunches’ te sien en kos tussen R40 en R58. Die tong is ‘n winskoop teen R50.

Sit maar gerus die nuwe Downtown op jou ‘te-doenlys’, trek net jou loopskoene aan voor jy gaan.
Bel hulle en nie vir my nie asseblief, by 082-570-0220 of 012-809-0573 as jy inligting en padaanwysings wil hê.

 

© 2019 Die/The Bronberger