Huis vir gestremdes waterloos gelaat PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2012 22:36
Untitled Document

Qumi Huis se boorgat het opgedroog. Die boorgat op plot 23, Elandshoek, Rayton, waar Qumi ‘n tuiste vir volwasse gestremdes bedryf, het in Januarie begin probleme gee.

Die Elandshoek/Nooitgedacht gemeenskap het met die hulp van Riaan van Zyl water met trekkers aangery.

In Julie het die boorgat finaal die gees gegee en Riaan het Dawie Badenhorst, voorsitter van Afriforum se Rayton/Cullinan-tak, om hulp genader.

Dawie het vir Nardus Bezuidenhout, eienaar van Torque Drilling, gevra om ondersoek in te stel en Nardus het voorgestel dat die boorgat dieper geboor moet word. Hy het aangebied om 90% van die koste self te dra. Die res word deur Elandshoek se grondeienaars bygedra.

Die boordery het op Donderdag 30 Augustus begin en water is op ‘n 33 meter diepte gevind. Die slegte nuus is dat die water onwelriekend en slymerig is. Nardus het op ‘n ander gedeelte tot op 54 meter geboor, maar geen water gevind nie. Hy gaan nou ‘n waterwyser se hulp inroep.

Qumi Huis is nie die enigstes in dié omgewing met boorgatprobleme nie. Ander inwoners wat sukkel met water is Carel en Lize Brits van plot 36, Nooitgedacht; Nic en Magda Roets van plot 76, Elandshoek; Piet van Vuuren van plot 71, Elandshoek; Frieder Hecker van plot 95, Elandshoek; Len Kraamwinkel van plot 80, Elandshoek; Anton Castleman van plot 107, Elandshoek; die eienaars van plot 114, Elandshoek; en plot 86, Rietfontein.

Elandshoek en Nooitgedacht se hoewegebied het nie munisipale water nie. Tagtig persent van die inwoners boer op klein skaal en vyf persent boer grootskaals met beeste of skape.

Baie inwoners glo dat die silika mynbedrywighede in die omgewing die grondwatervlakke laat daal het.
 

© 2019 Die/The Bronberger