Massas mooi water vermors PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2012 22:34
Untitled Document

Die massas water wat oornag op die leë hoewe oorkant die Zwavelpoort-koopsentrum (East Ridge Building Supplies Centre) verskyn het, loop uit ‘n groot dam by die sandwerke onderkant die steengroef.

Ontstelde lesers het Die Bronberger gebel oor dié watervermorsing. Een het gevrees dit is afkomstig uit ‘n rioolpyp wat gebars het.


Die dam by die sandwerke met die Bronberg en steengroefletsels in die agtergrond

Die groot dam bestaan jare reeds. Dit word gevoed uit bergwater wat ontspring waar die steengroef reeds groot dele van die Bronberg weggeskiet het. Die dam het gevorm ná vroeëre uitgrawings.
Die grond waarop die dam is, word deur FG Sandwerke gehuur. Die hoewe behoort aan die Jansen broers, Michael en Toppie.


‘n Sloot voer die oorloopwater tot onderdeur Lynnwoodweg-verlenging

Volgens ‘n werknemer van FG het die dam begin oorloop en moes hulle inderhaas ‘n plan maak. Hy het bewerings ontken dat die dam drooggelê word om nog sand te kan ontgin. Die water word met ‘n sloot onder deur Lynnwoodweg-verlenging en tot in die oop veld herlei. Die veld behoort, sover vasgestel kon word, ook aan die Jansens.


Water vergaar op die leë grond. Die foto is in die laaste week van Augustus geneem

Dit word gevrees dat groot oorstromings kan volg as die dam in die reënseisoen nog voller word en skade aan eiendom kan veroorsaak wat verder noord lê.

Niels Grobler van die hoewe langs dié een waarop die water gestort word, het spottenderwys gesê hy dink hulle moet ‘n nuwe dam daar maak, dit vol vis maak, afdakkies opslaan en ‘n visvangoord oopmaak.

 

© 2019 Die/The Bronberger