Bure ontstig oor kunsmis-aanleg PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2012 22:32
Untitled Document

Bure is ontstoke oor die koolstof-kunsmisaanleg op ‘n kleinhoewe in Kleinfontein. Hulle sê dat dié aanleg die omgewing besoedel en hulle kla oor die uitbroei van vlieglarwes, geraas en waterverbruik.
Ander klagtes gaan oor die swaarvoertuig-gebruik van die Spoornetpad, die onderhoud van die pad en die toename van stof.

Mense van die omgewing vra dat die swaar verkeer wat produkte op die spoorpad aanry, beheer moet word met ’n beperking van ongeveer 10 vragte per dag.

Die Spoortnetpad is ‘n grondpad wat by die treinbrug by die Boschkop teerpad, naby die T-aansluiting met die R515, aansluit.


‘n Koolstof-kunsmisaanleg
Foto: www.saplingcarbonfertilizer.co.za

Inwoners vra ook dat geraas op so 'n vlak sal bly dat  ander plotbewoners nog die natuurgeluide sal kan hoor. Die ideaal is dat die kragopwekker en veral die droërs se geraas geabsorbeer moet word op die plek waar hulle staan.

‘n Groep mense bekend as die Kleinfonteingemeenskap het op 13 Augustus op Tweedracht ‘n vergadering met dr Ferdi Labuschagne, eienaar en besturende direkteur van Sapling Fertilizer, gehad waar dié probleme bespreek is.

Die Boschkopse gemeenskap is ook in kontak met Ferdi oor dieselfde probleme en die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging het bevestig dat hulle ‘n klagte oor dié aanleg by die stadsraad ingedien het.

Ferdi het in ‘n e-pos aan gemeenskapslede gesê dat hy enige tyd gereed is vir enige iemand om hom te skakel sodat probleme bespreek kan word en sodat hy kan probeer om dit op te los.

Ferdi het aan Die Bronberger gesê dat hy nie enige van die aantuigings wat gemaak word in die pers gaan antwoord nie en dat hy ook nie enige korrespondensie daaroor in die pers gaan voer nie.
 

© 2019 Die/The Bronberger