Kommer oor vreemde miswolke PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2012 22:28
Untitled Document

Die Elandshoek/Nooitgedacht-gemeenskap net buite Rayton vrees dat hulle gesondheid in gevaar gestel kan word deur die wolke wat vroegoggend en laatmiddag oor Delfsand-myn hang.

Inwoner Karen Yssel sê dat die hoeveelheid rook of stof of stoom wat by die aanleg uitkom skrikwekkend is. “Niemand van ons het ‘n idee presies wat dit is nie,” sê sy.

Volgens Karen het die mynbestuurder, Otto Fourie, vir iemand wat gebel het gesê dat dit die enjins van die droërs is wat so ‘n ou klein diesel miswolkie maak as hulle dit aanskakel.


Die wolke wat gereeld oor Delfsand hang

In Junie het ons berig dat Reline Badenhorst, die omgewingsake voorsitter van AfriForum se Rayton/Cullinan-tak gesê het dat die gemeenskap besorg is oor die manier waarop Delfsand sy mynaktiwiteite sedert die oorname deur Infrasors in 2007 bedryf.

Die gemeenskap sê dat die myn ’n geruime tyd betrokke is by verskeie onwettighede, soos onwettige mynbou-aktiwiteite in ’n vleiland en in ’n standhoudende rivier, wateronttrekking uit ’n natuurlike fontein sonder ’n lisensie, en proefskietwerk op ’n kode twee-rif sonder dat ’n geohidrologiese studie vooraf gedoen is.

Trevor Robinson, hoof uitvoerende beampte van Infrasors Holdings Limited, die sambreel maatskappy waaronder Delfsand val, het hierop geantwoord deur te sê dat die aantuigings verdraai, ongegrond en vol verskuilde agendas is.

Infrasors het geen kommentaar oor die misterieuse ‘miswolke’ gehad nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger