Rommel in bo-loop van rivier gestort PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2012 22:26
Untitled Document

Omgewings-gevaarlike rommel word die afgelope drie maande op ‘n daaglikse basis in een van die droë bo-lope van die Pienaarsrivier in Bashewa gestort.

Buurman Hannes de Wet sê dat die rommelstorting ‘n geruime tyd aan die gang is, maar dat dit die afgelope ruk toegeneem het. Hy sê daar kom elke dag trokke om rommel wat grootliks uit polistireen en plastiese materiaal bestaan, te stort.


Kobie de Wet by die rommel wat in die Eskom-servituut op Hedera Kwekery se buurplot gestort word

Die rommel word op ‘n Eskom-servituut in die droë bo-loop van die Pienaarsrivier gestort. Bure met boorgate binne 100 meter vanaf die stortingsterrein is bekommerd oor die impak van dié materiaal op hulle grondwater. Hulle sê ook dat dit ‘n groot brandgevaar inhou.

Hannes het in ‘n stadium klagtes by die vorige Kungwini Munisipaliteit en die Departement van Waterwese ingehandig. Hy sê dat ‘n vrou van Waterwese na die perseel gaan kyk het, en gesê het dat die rommelstorting onwettig is.

Die kleinhoewe waar die rommel gestort word val op die grens van Bashewa en Tierpoort. Die plotnommer is Tierpoort 37 JR, westelike gedeelte BB 127/34 en behoort aan Robert Skinner.
Robert het aan Die Bronberger gesê dat hy nie impakstudies gedoen het of ‘n permit het om die rommel daar te stort nie, omdat hy dit nie nodig het nie. Hy stort, volgens hom, bourommel op sy eie plot.


Baie van die rommel bestaan uit polistireen en plastiese materiaal

Robert sê dat hy besig is om ‘n ‘donga’ op te vul. Hy sê dat bogrond telkens wegspoel as daar ‘n storm is en die water in dié ‘donga’ afloop.

Volgens die kenners neem polistireen honderde jare om in die natuur afgebreek te word omdat dit fotolise-weerstandig is. Die stadige degradasie van polistireen veroorsaak potensieel skadelike vloeistowwe en gasse wat grondwater en die lug kan besoedel.

Polistireen is ook hoogs vlambaar en ‘n sekere soort polistireen, wat met hidro-fluoor-koolstof
(HFC-134a) gemaak word, het ‘n aardverwarmingpotensiaal van 1 000 tot 1 300 keer meer as dié van koolstofdioksied.

 

© 2019 Die/The Bronberger