Tien jaar Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 26 September 2012 00:13
Untitled Document

Hoe gebeur dit dat twee mense wat op die oog af geseënd is met gesonde verstand, besluit om ‘n onafhanklike glanstydskrif te begin? Dit sonder enige steun van buite of ‘n bestaande infrastruktuur?
‘Malligheid.’ ‘Moet julle koppe laat lees.’ ‘Baie makliker en lekkerder maniere om jou agterent te sien.’

Dit is maar ‘n paar van die destydse menings van vriende en ‘kenners’ in die mediawêreld oor ons plan om ‘n gratis gemeenskapstydskrif van hoë gehalte vir die mense van die Bronberg-gebied die lig te laat sien.

Dankie tog dat ons teen alle logika en goedbedoelde raad in, volhard het. Hierdie maand, presies ‘n dekade gelede het die eerste Bronnie, met ‘n ‘groot’ totaal van net ses advertensies – ons enigste inkomstebron – die lig gesien.  ‘Sien jy nou,’ het ‘n mediavriend destyds gesê, ‘ek het julle mos gesê dis ‘n kranksinnige perd wat julle nou opgesaal het.’


Gerhard en Angie Kleijn

Maar mediavriend het ‘n paar belangrike faktore buite rekening gelaat: Hy het nie rekening gehou met die omgewing waarin ons die mal perd opsaal en ry nie. En hy het vergeet dit was en is steeds ons EIE kranksinnige perd en dat ‘n mens mos maar lief raak vir jou eie diere. Met die genade en die vasberade wil om hom mak te ry, het ons die perd se neus in die rigting van ‘n onbekende bestemming ingedruk en uitbundig geskree: ‘Hou vas – hier kom ons!’

Langs die tienjaarpad was ons geseënd om mense teë te kom wat soms die leisels kon vashou, die mal perd kon paai en klippe uit sy ongebaande weg kon rol. Ons is baie verskuldig aan al die mooi mense van die Bronberg-wêreld wat ‘n verskil gemaak het, en wat ons gehelp het om ‘n verskil te maak.

Die Bronnie het sommer gou inslag gevind by sy lesers en die steekse mal perd het begin trippel en spoed optel. Ons het destyds amper verbaas gewonder wat dit is wat ons klaarblyklik reg doen en ons wonder soms vandag nog.

Met groot dankbaarheid kyk ons terug na tien wonderlike jare wat verby is. En ons sien met opwinding uit na die pad wat voorlê. Dit beloof om ‘n pad van verandering, vernuwing en groei vir Die Bronnie te wees. Vir almal wat die toekomsreis saam met ons gaan aanpak en, soos ons, met oorgawe daarna uitsien, wil ons sê: “Hou vas – hier gaan ons!’

 

© 2020 Die/The Bronberger