Luiperd sluip steeds in Bronberg rond PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 27 August 2012 19:36
Untitled Document

Vars luiperdspore is einde Julie langs Achillesweg in Zwavelpoort opgemerk.
Danie van Hengel het laat Sondagaand gesien hoe ‘n bokkie Achillesweg oorsteek en het die volgende oggend na die bokspore gaan soek. Dit is toe dat hy op luiperdspore op die leë plot langs plot 79, Zwavelpoort afkom.

Dit is nie die eerste keer wat die van Hengels met ‘n luiperd te doen het nie. In Januarie 2010 het ons berig dat ’n uitgevrete luiperd hom in die Bronberg, vlak by die woongebiede van Zwavelpoort, Olympus en Faerie Glen, tuisgemaak het en toe reeds minstens een troetelhond verslind het.


Luiperdspoor langs Archillesweg
Foto’s: Danie van Hengel

Verslind
Dié groot kat het Danie en Aletia van Hengel van Zwavelpoort, wat teen die suidelike hang van die Bronberg woon, se Jack Russel gevang en verslind. Hulle werker, Joshua, het ná ‘n soektog net die hondjie se kop teen die noordelike grens van Danie se plot in die berg gekry.

Danie se buurvrou, Denyse van Hoepen en haar dogter Liana het later groot voetspore oral in die omgewing gekry, wat as luiperdspore geïdentifiseer is.

Almal het geglo dat dit dié luiperd is wat op Donderdag 14 Oktober 2010 op Mooiplaats aangekeer is.

En nee, hy is nie doodgeskiet nie, maar gered. Simon Mamogobo, plotwerker van Anton Bester, eienaar van plot 56 tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier, het dié ‘tier’ vir vier ure lank stip dopgehou tot natuurbewaring hom gaan ‘pyl’ het en dieretuin toe geneem het.


Bokspoor op dieselfde roete

Ingwe
Die luiperd het eers ‘n wortelkanaaloperasie by Onderstepoort gekry het voor hy geband is, die naam Ingwe gekry het en op 29 Oktober in die Mongena Game Lodge in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat is.

Ingwe se bewegings word met ’n opsporingshalsband gemonitor en klaarblyklik beweeg hy nie buite die grense van die 18 500-grootte gebied waarin hy kan jag nie.


Ingwe is op Donderdag 14 Oktober 2010 op Mooiplaats gevang

Gewaar
In September 2009 het ons berig dat daar volgens Richard Wade, argeoloogsterrekundige van die Nkwe-rif Sterrewag, ‘n luiperd in die ou sandgate langs Lynnwoodweg, naby die Nkwe-oord uitdraaipad woon. Hy het gesê dat verskeie inwoners dié luiperd al in ’n donker nag op dié uitdraaipad gewaar het.

In Mei 2010 het ons berig dat twee luiperds op ’n plaas by Witpoort, waar ’n kalf net die vorige week raaiselagtig verdwyn het, opgemerk is.

 

© 2019 Die/The Bronberger