Groot groei begin PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 August 2012 17:35
Untitled Document

Die wiele is onlangs aan die rol gesit om diamantproduksie by die Cullinan-myn teen 2019 na 2,4 miljoen karaat per jaar te verhoog. Dit is meer as dubbel die nagenoeg een miljoen karaat per jaar wat op die oomblik ontgin word.

Op 17 Augustus het die Cullinan-myn, deel van die Petra Diamonds-groep, ‘n kontrak met Murray & Roberts gesluit om twee skagte by die myn te verdiep, die nodige infrastruktuur te skep en ‘n nuwe bloktonnel 200 meter onder die drie bestaande operasionele tonnels van die myn te skep.

Die ondergrondse ontginning behoort teen 2019 twee miljoen karaat se diamante per jaar te lewer met ‘n verdere 400 000 karaat wat uit ‘n omvattende herwinning uit mynhope opgelewer sal word.


Juan Kemp, algemene bestuurder van Cullinan Diamantmyn, en Chris Sheppard, besturende direkteur van Murray & Robberts Sementasie, skep ‘n grafie grond uit ‘n koekepan om die simboliese begin van die projek aan te dui

Skag nommer een van die myn sal met die opgradering deur Murray & Roberts 350 meter dieper wees as nou, wat dit net minder as ‘n kilometer diep sal maak.

Sakemense op die dorp sien uit na die ekonomiese inspuiting wat Murray & Roberts se teenwoordigheid na verwagting sal bring.

Juan Kemp, algemene bestuurder van Petra, het met die ondertekening van die kontrak op Cullinan gesê dat veiligheid in die projekfase en met die dag-tot-dag werkinge van die myn, voorrang sal geniet.

Daar sal volgens hom geen moeite ontsien word om die nagenoeg 1 000 werkers veilig te hou en sodoende ook hulle afhanklikes te beskerm nie.


Teon Swanepoel, bedryfshoof van Petra Diamante en Mike Wells, bedryfsdirekteur van Murray & Roberts, onderteken die kontrakte
Foto’s: Elsabé Maré

Cullinan se myn het al meer as 700 diamante groter as 100 karaat opgelewer en is verantwoordelik vir meer as ‘n kwart van die wêreld se stene groter as 400 karaat.

Die myn is ook die wêreld se enigste noemenswaardige bron van die baie skaars en waardevolle blou diamante.

Sedert Petra se oorname van die myn in 2008 is etlike diamante ontgin wat die wêreld se aandag opnuut op Cullinan gevestig het. Dit sluit blou diamante van 39 karaat en 26 karaat en ‘n allemintige wit diamant van 507 karaat in. Dié diamant is teen 35,3 miljoen Amerikaanse dollar verkoop, die meeste wat ooit vir ‘n ongeslypte diamant betaal is.  

 

© 2019 Die/The Bronberger